|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Diemersfontein is vanjaar as die beste wynmaker in die Fairbairn Capital trofee-wynkompetisie aangewys. Dié kelder het ook die American Express-trofee vir die beste Cabernet Sauvignon ontvang.
Mnr. Andrew Jefford, hoofbeoordelaar en bekroonde Britse wynskrywer, was beïndruk met die balans en varsheid wat hy by Suid-Afrikaanse wyne gevind het. Vir hom bly die grootste wyn-avontuur om nuwe en interessante wynmaakgebiede in die Suidelike Halfrond te "ontdek".
Neethlingshof se 2001 Laurentius het die trofee vir die rooi wyn met die hoogste punte ontvang, terwyl Vergelegen vir die derde agtereenvolgende jaar trofeë vir die beste wit wyn en beste wit versnit ontvang het. Die nuweling Quoin Rock het die British Airways-trofee vir die beste Shiraz ontvang. Die "ontdekking van die kompetisie" was Napier-kelder (buite Wellington) se Bordeaux-versnit, Napier Red Medallion 2001.
Die kompetisie het vanjaar altesame 995 inskrywings van 245 wynmakers gelok 44 meer as verlede jaar. Die medalje-oes was egter kleiner, met 17 goue medaljes, 42 silwermedaljes en 224 bronsmedaljes.
Die klas vir museum-wyne, wat verlede jaar ingevoer is, het twee trofeewenners opgelewer, naamlik die De Krans Vintage Reserve Port 1997 en die Kanonkop Paul Sauer 1991.
Ander trofeewenners was Hamilton Russell Pinot Noir 2003 (beste Pinot noir), Seidelberg Roland's Reserve Pinotage 2003 (beste Pinotage), Hildenbrand Sémillon 2004 (beste Sémillon), Anura Chenin blanc 2004 (beste Chenin blanc), Nederburg Noble Late Harvest 2004 (beste ongefortifiseerde desertwyn), Culraithin Merlot 2003 (beste Merlot) en Yonder Hill Shiraz Merlot 2003 (beste rooi versnit, Shiraz-gebaseer).
24 Junie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24