'n Biobrandstofbedryf is nie meer iets vir die toekoms in Suid-Afrika nie dit is reeds hier en boere moet nó die geleenthede raaksien.
Mnr. Derich Eicker, finansiële direkteur van Normandien Proteïen-produkte (NPP), sê daar bestaan reeds verskeie maniere waarop boere waarde tot hulle produkte kan toevoeg. Hy was een van die sprekers by 'n supersoja-boeredag by Winterton.
Die onderneming waarby hy betrokke is, is deel van 'n groep, Kunjaneni Holdings, wat hulle beywer vir onder meer die produksie en verwerking van sojabone.
NPP verwerk tans 14 000 ton soja per jaar tot 1 miljoen liter biodiesel en 11 500 ton oliekoek. Boere kan hul sojabone teen 'n vasgestelde prys aan onderneming lewer. Hulle kan ook sojabone aan die silo lewer, dit laat verwerk teen R450 per ton en dan 820 kg sojakoek per ton en 130 liter biodiesel terugkry. Eicker sê die waarde wat die boer terugkry, is sowat R2 033, wat R183 per ton meer is.
'n Derde opsie is om die oliekoek aan NNP te verkoop en net die diesel te neem.NPP beoog on binnekort sy produksievermoë te verhoog na 30 000 ton soja per jaar en ook van 'n meganiese onttrekkings-proses na 'n chemiese proses oor te skakel.
Landbouweekblad, 13 Oktober 2006