'n Deurlopende verskaffing van koring sal nodig wees vir die volhoubare vervaardiging van bio-etanol. Dit beteken dat koring spesifiek daarvoor aangeplant sal moet word, sê mnr. Andries Theron, hoofbestuurslid van Graan SA.
Hy het op 'n vergadering van die landbouvereniging Durbanville gesê die taakspan vir hernubare brandstof het die oorspronklike model vir die vervaardiging van biobrandstof heelwat aangepas ná ondersoeke na Amerika, Kanada en Europa in 2005. Aspekte soos die koring- en brandstofprys asook rentekoerse is in die nuwe model van 2007 vervat. Volgens die taakspan is die vervaardiging van etanol in beginsel steeds ekonomies haalbaar, maar dit bied geen kitsoplossings nie. Heelwat impakstudies is nog nodig.
"Dit is egter baie belangrik dat die Regering duidelikheid gee oor sy standpunt met betrekking tot dié snel ontwikkelende bedryf. Oral ter wêreld waar biobrandstof vervaardig word, is regerings nou daarby betrokke. Gewoonlik is dit om 'n land minder afhanklik van nie-vervangbare brandstof te maak. Die Suid-Afrikaanse Regering moet ook betrokke raak."
Die jongste konsepstrategie oor biobrandstof wat aan die Regering voorgelê is, vervat egter 'n paar aspekte wat pla, sê Theron.
"Een daarvan is dat die landbou eintlik net terloops daarin genoem word, terwyl die landbou in werklikheid 'n reuserol in die jong bedryf speel. Dit is onaanvaarbaar. Wat ook onaanvaarbaar is, is die lisensievoorwaardes met groothandelaars om vir produksievolumes in aanmerking te kom.
Die landbou moet ook 'n sê hê in die bepaling van biobrandstofpryse - nie net die brandstofbedryf nie, meen Theron.
Hy sê die voorstelle van 'n vermenging van 5 % biodiesel in gewone diesel en van 10 % etanol in petrol, is te voorskriftelik.
Die grootskaalse vervaardiging van bio-etanol in Amerika het reeds 'n gunstige impak op die mielieprys. "Dit sal sekerlik ook 'n gunstige impak op die plaaslike graanbedryf en graanpryse hê as die produksie van biobrandstof in Suid-Afrika meer op dreef kom."
Hy meen dit is belangrik dat die graanbedryf ten volle by die plaaslike biobrandstofbedryf ingesluit word, anders gaan private maatskappye bloot dié plek inneem en finansiële voordeel trek wat die graanbedryf toekom, het hy gesê.
Landbouweekblad, 16 Maart 2007