Biotegnologie grootste hervormer

 

Biotegnologie is waarskynlik die grootste enkele hervormer van die landboubedryf in die afgelope dekade.

Dr. Kobus Lindeque van Monsanto sê die plaaslike oppervlakte biotegnologie-mielies geplant sedert 1999 het vanaf 'n skamele 1,6% gestyg tot die 42,3% wat in 2006 geplant is.

Wêreldwyd het biotegnologie-gewasse gelei tot verbeterde produktiwiteit ter waarde van $6,2 miljard terwyl die kumulatiewe netto ekonomiese voordeel op plaasvlak op $27 miljard bereken word. Dit het ook 'n afname van 6.9% beteken in die verbruik van chemiese pes- en plaagbeheermiddels en kan die vermindering van 9 miljard kilogram koolstofdioksied gelyk gestel word aan die verwydering van vier miljoen motors van die pad af per jaar.

Suid-Afrika se boere het reeds kennis gemaak met biotegnologie-gewasse wat beskerming bied teen insekte en spog met weerstand teen onkruiddoder. Gewasse met goeie droogteverdraagsaamheid, of wat die beskikbare stikstof beter benut en/of ho&eumlr opbrengste lewer, is die volgende stap en van hierdie proewe gaan vanjaar nog plaaslik gedoen word.

Daar word ook aandag gegee aan gewasse wat beter as die bestaande gewasse geskik is vir etanolproduksie, olieproduksie en 'n verbeterde aminosuurbalans waaruit die veevoerbedryf sal voordeel trek, het Lindeque gesê.

31 Oktober 2007

0