BKBLouwid het nóg 'n afslaersonderneming in die Vrystaat bekom. Die jongste oorname is dié van Karoo Osche, wat as Jan du Toit van Kroonstad handel gedryf het. Die onderneming is teen 'n onbekende bedrag oorgeneem.
Luidens 'n verklaring van BKBLouwid is Jan du Toit afslaers die afgelope tien jaar lank in die sentrale Vrystaat bedrywig met 'n goed ingerigte kantoorkompleks en vaste veilingspunt op Kroonstad. Die personeel, insluitende mnr. Jan du Toit, sal nou onder die Frankfort-kantoor, met mnr. Dawid Botha as die bestuurder, val.
In Maart vanjaar het BKBLouwid ook die maatskappy Rassie Lombard Afslaers van Vereeniging oorgeneem.
Met die jongste oornames is BKBLouwid nou een van die land se grootste afslaerondernemings.
"Die oorname beklemtoon die direksie van BKB se siening dat die verhandeling van vee 'n groot deel van veselprodusente se inkomste verteenwoordig en dat die sinvolle oorname en of samewerkingsooreenkomste BKBLouwid se onderneming tot voordeel van sy klante en aandeelhouers gaan versterk," sê mnr. Dolph Botha, hoofbestuurder van veebemarking by BKB.
14 Julie 2006