|
|
|
| Bygewerk: | 23 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Melkboerdery was nog altyd 'n bestendige bedryf en met die groeipotensiaal wat die Oos-Kaap bied, kan hy nie anders as om optimisties oor die toekoms te wees nie, sê mnr. Freddie van Zyl (35) van die plaas Bracklyn, Visrivierstasie. Hy is onlangs tot voorsitter van die Oos-Kaapse Melkprodusente-organisasie (MPO) verkies.
Van Zyl, wat mnr. Francois Cilliers opvolg, sê hoewel die Oos-Kaap reeds 22 % van die nasionale melkproduksie bydra, dié syfer binne die volgende paar jaar heelwat kan styg. "Die nasionale MPO is besig met talle projekte, soos die melkvoedingskema aan skole wat groot belofte inhou."
Cilliers het weens gesondheidsredes uitgetree.
Van Zyl het onlangs 'n voorlegging aan adjunkpresident Jacob Zuma op Cradock oor 'n voedingskema aan skole gedoen. Hy sê die voorstelle is met groot entoesiasme deur Zuma en die Oos-Kaapse premier, me Nosima Balindlela, ontvang. "As 'n miljoen kinders elke dag net 250 ml melk drink, is dit gelykstaande aan 5 % van die land se daaglikse melkproduksie. Aangesien daar tans 'n oorskot van 2 % tot 3 % is, sal dit tot 'n tekortsituasie lei wat produsentepryse onmiddellik sal prikkel."
"In teenstellings met die boere in die noordelike provinsies, is boere in die Oos-Kaap in die gelukkige posisie dat hulle melk kostedoeltreffend vanaf weidings kan produseer. Die Oos-Kaap behoort binne vyf jaar as die land se melkprovinsie bekend te staan. Een van die land se grootste melkverspreiders het reeds 'n perseel by Uitenhage gekoop met die oog om 'n verwerkingsfabriek daar op te rig.
"Ofskoon nagenoeg 85 % van alle melkboere in die Oos-Kaap reeds lid van die MPO is, gaan ons poog om nóg meer boere deel van die organisasie te maak."
Mnr. Symond Mathews van die plaas Glen-Dye, in die distrik Alexandria, is nie nuwe ondervoorsitter.
7 Januarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24