|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Aandeelhouers in die Overbergse landboumaatskappye BNK Landbou-groep Bpk. (BNK) en Caledon-Riviersonderend Beherend Bpk. (CRK) het onlangs oorweldigend ten gunste van samesmelting van dié maatskappye gestem.
Op Caledon is 94 % van die stemme ten gunste van aandeelhouding. Op Bredasdorp was 89 % van die stemme ten gunste van samesmelting. Altesame 92 % van die lede is ten gunste daarvan dat BNK se naam verander word en dié maatskappy vrywillig gelikwideer word.
Die nuwe maatskappy sal as Overberg Agri Bpk. bekend staan en sal tot stand kom nadat die Mededingingskommissie die samesmelting goedgekeur het.
Die stemming is hoofsaaklik deur volmagte voltrek, maar groot getalle aandeelhouers het die vergaderings op Caledon en Bredasdorp bygewoon.
Ná die vergaderings het mnre. Willem Agenbach en Deon de Kock, onderskeidelik voorsitters van CRK en BNK, gesê hulle is tevrede met die uitslae. Agenbach sal voorsitter van Overberg Agri Bpk. wees en De Kock ondervoorsitter. Die besturende direkteur van BNK, mnr. Rian Pheiffer, sal die nuwe onderneming se besturende direkteur word. Mnr. Johann du Toit, hoofbestuurder van CRK, sal aftree sodra die proses van samesmelting afgehandel is.
De Kock het verseker dat die boere se belang as aandeelhouers en kliënte altyd vooropgestel sal word.
Aangesien albei ondernemings se aandeelhouers ten gunste van samesmelting gestem het, sal 'n dividend van 33 sent per aandeel op 25 Februarie aan alle aandeelhouers van BNK betaal word.
11 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24