|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die tyd is verby waarin Agri SA 'n antwoord aan boere verskuldig is oor wat die organisasie vir boere beteken. Boere is 'n antwoord verskuldig as hulle vandag nie deel van die organisasie is nie, sê die nuutverkose voorsitter, mnr. Johannes Möller van Keimoes.
Möller is in die plek van mnr. Lourie Bosman verkies wat vir vier jaar die pos beklee het. Die nuwe ondervoorsitter is dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo. In sy eerste toespraak het Möller gesê deur Agri SA se bedrywighede kan hy enige boer meer tyd spaar as die tyd wat die organisasie van elkeen vra.
Met verwysing na 'n nuwe beplande struktuur vir Agri SA het hy gesê daar kom 'n klomp veranderinge wat die organisasie meer doeltreffend sal maak, meer inklusief met beter benutting van elektronika en beter terugvoer aan sy affiliasies. Die herstrukturering is met TLU SA en Nafu SA bespreek en daar is besef dat omvattende inklusiwiteit nie nou haalbaar is nie.
"Ons geen egter voort met ad hoc samewerking en gaan voort met ons interne herstrukturering om inklusiwiteit en doeltreffendheid te bevorder."
Die nuwe struktuur is gemik op 'n algemene raad en 'n uitgebreide dagbestuur wat oor tyd in 'n direksie kan ontwikkel en ses beleidskomitees waarby die affiliasies na behoefte betrokke raak. Die ses komitees met hulle tussentydse sameroepers is: landelike veiligheid (mnre. André Botha), korporatiewe skakeling (Carl Opperman), sosiaal-maatskaplik (Anton Rabe), transformasie (dr. Theo de Jager), ekonomie en handel (Louw Steytler), sowel as natuurlike hulpbronne (Johanne Möller). Daar word voorsien dat die kamerstelsel oor tyd sal verdwyn.
Möller sê die veranderinge is gemik op minder strukture, die beter ontsluiting van kundigheid, verbeterde aanwending van personeel, minder dupliserende vergaderings en meer gefokusde konferensies. Dr. Theo de Jager het gesê in sy rol as ondervoorsitter sal hy hom beywer om "nee" te sê vir dinge wat nie in die landbou kan werk nie en winsgewendheid bedreig, om 'n beter verhouding met die TLU SA te skep en Agri SA as 'n netwerk op te bou wat boere moet beskerm.
Mnr. Louw Steytler, nuwe voorsitter van die Algemene Sakekamer, het gesê dit is deel van mens se trots om "nee" te sê vir iets wat nie billik is nie. Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van die Bedryfskamer het dit beaam en gesê om volhoubaar te wees moet die landbou winsgewend wees. Indien politici deur wetgewing en uitsprake dit verhoed, moet daar "nee" gesê word.
15 Oktober 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24