|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Graan SA se lede is waarskynlik die grootste verbruikers van geneties gemodifiseerde organismes (GMO's), maar dit is onredelik om te verwag hulle moet toerekeningsvatbaar wees vir enige skade wat 'n geneties gemodifiseerde (GM) gewas dalk kan veroorsaak.
Dié las moet op die eienaars van GM tegnologie se skouers rus, het mnr. Nico Hawkins senior ekonoom by Graan SA, aan die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake tydens die verhore oor die wysigings aan die Wet op Geneties Gemodifiseerde Organismes gesê.
Artikel 17 van die nuwe wetsontwerp wat aanspreeklikheid omskryf, bepaal onder meer die verbruiker (op produsentevlak) van GM produkte moet ten volle vir skade wat so 'n produk kan veroorsaak, instaan.
In die wetsontwerp staan aanspreeklikheid hang af van "voorsienbaarheid" en of "redelike stappe" gedoen is om skade te vermy.
Debatte oor GM produkte in openbare en wetenskaplike kringe word egter steeds oorheers deur die vraag of hierdie produkte skadelik vir die mens, diere en omgewing (al dan nie) is.
Graan SA is bekommerd dat die wet geen voorsiening vir die goedkeuring van ingevoerde GM gewasse maak nie. "Gewasse wat nie vir plaaslike produksie goedgekeur is nie, kan maklik sonder bedoeling in die plaaslike produksie-omgewing beland," het Hawkins gesê.
'n Stelsel wat naspoorbaarheid moontlik maak en keer dat markte belemmer word, is voorgestel.
Die uitwerking wat GM gewasse op toekomstige Suid-Afrikaanse markte gaan hê, móét volgens verskeie voorleggings in gedagte gehou word.
Organies SA meen naspoorbaarheid, aanspreeklikheid en etikettering word nie behoorlik in die wetsontwerp behandel nie.
Mnr. Leonard Mead, voorsitter van Organies SA, sê die tekort aan naspoorbaarheidbepalings kan selfs 'n krisis vir die uitvoer van tradisionele vars produkte veroorsaak. Die Europese Unie, Asië en Amerika is net van die lande wat sertifikate vereis wat meld dat 'n produk nie GMO's bevat nie. Hy sê dit is vanselfsprekend dat organiese produksie geen GMO's mag hê nie. Dié bedryf het oor die afgelope drie jaar met 'n omset van R3 miljoen tot R150 miljoen gegroei. Daar is tans sowat een miljoen hektaar grond waarop organiese produkte in Suid-Afrika verbou word.
Sowat 80 miljoen hektaar in Suid-Afrika bevat glo GM gewasse. Volgens Hawkins bevat sowat 35 % van die plaaslike mielies GMO's.
27 Januarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24