Amarok

 

 

Met die lui van vrind Sandro, my Braziliaanvriend, by wie ek ´n paar dae in die noorde van die land (Concepción) kuier, kan ek aflei dat ons vir iets uitgenooi word. Ons, dit is nou Sandro, Jair en ek wat op daardie oomblik saam was, moet saam met Marcus, ´n ander Braziliaan, veesmous, na ´n klompie bees gaan kyk. Wat ´n normale rit moes wees, was op die end ´n senutergende, naelbyt ondervinding.

Die groot motief agter die saamry, was hulle nuuskierigheid om sy Amarok, Volkswagen se nuwe plaasbakkie, te ondervind. Met die tegniese besonderhede gaan ek niemand verveel nie, maar om ´n passasier te wees in so ´n voertuig, wanneer die stuurwiel in die hande is van ´n bestuurmaniak, is nie maklik nie. Op daardie sanderige plaaspaaie, vol slaggate en sig redelik beperk deur die bosse en stof, is dit ´n ideale toetsbaan. Dit pla die bestuurder skynbaar nie wat gaan gebeur as daar ´n motorfiets, die Paraguane se amptelike vervoermiddel, of ´n rondloper bees om die volgende draai in die pad gaan wees nie. Regs, skuins agter die bestuurder was daar genoeg vashou plek. Handvatsel bokant die deur en links die nekstut van die ander passasier. Geen tyd vir foto's. Kort-kort word daar vir my gevra of ek reg is?

Ek het gedink dat Ayrton Senna lankal begrawe is, maar skynbaar skuil daar in baie van sy landgenote die begeerte om hom op te volg. Marcus Darcunha is beslis een wat daarna streef, of hy oefen om ´n toetsbestuurder te word. Ek mag nie sê wat sy vorige bakkie was nie, maar dat hy meer as beindruk is met hierdie een, is baie duidelik. Dink min gewone besuurders gaan hom so beproef en die Dakar tegnologie benut.

Ek is seker almal het ´n sug van verligting geslaak toe ons tuis stilhou, want hulle, wil amper sê die bôggers, sê toé vir my, dat niemand eintlik daarvan hou om saam met Marcus te ry nie.

Hasta la proxima.

Jou gradering: Geen Gemiddeld: 5 (1 vote)

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.