En sê nou daar’s Phylloxera...
September is tradisioneel ‘n stil toerismemaand in die Barossavallei, een van Suid-Australië se bekendste wynstreke. Dis dalk die beste tyd om daar te gaan kuier, bloot omdat wynmakers, wingerdboere en die personeel in proelokale baie tyd het vir praatjies maak met joernaliste en toeriste.
Uit die bus van Adelaide het die “vallei” baie plat gelyk. Glo my, vanuit ‘n fiets se saal is dit ‘n ander storie. Dan raak elke hogie ‘n steil bult. Dis nietemin een van die beste maniere om die vallei te verken.
Die Barossavallei is honderde klein wingerde met dorpies en kelders tussenin.
Die heel kleinste kelders het nie proelokale nie, maar kan oor naweke by ‘n sentrale proelokaal net buite die dorpie Tanunda geproe word. Die groter kelders het, soos in Suid-Afrika, al wat ‘n perdestal en plaasskuur in ‘n proelokaal omskep. Dit kos gewoonlik niks om ‘n paar wyne te proe nie, maar waar die wyne skaars of baie gesog is, vind betaalde proeë net op sekere tye plaas.
Interessant genoeg, maak heelparty kelders in die Barossavallei wyn van Rieslingdruiwe, wat hulle gewoonlik uit die aangrensende koeler Edenvallei aankoop. Enkelkultivar Sauvignon blanc is ook nie te algemeen nie. Dis meer geredelik beskikbaar in versnitte met Semillon. Daar was egter niks wat my opgewonde gemaak het nie. Ook die Chenin blancs by Peter Lehman en Kalleske Winery was gangbaar, maar nie heeltemal in die klas van die Kaapse Wynlande se beste nie.
Soos in die res van die wynwêreld, woel ‘n ieder ook hier om verandering en innovasie. Die wynmaker by Peter Lehman het onlangs begin om wit en rooi versnitwyne in die Layers-reeks te maak. Vir die wyne word bekende en minder bekende wit en rooi kultivars gebruik om letterlik verskillende geur- en smaaklae aan die proeër te gee.
Waar die wynmakers van die Barossa wel uitblink, is met hul Shirazwyne en versnitte van die rooi kultivars Grenache, Shiraz en Mourvedre, of Motaro, soos hulle dit hier noem. My beste GSM’s was die Moppa Springs van Rockford, ‘n klein onafhanklike kelder wat glo besig is om die wynboeke in die vallei te herskryf, en die Kalleske Clarry’s GSM, wat gemaak word deur ‘n familie wat vir ses geslagte wyn vir ander kelders geproduseer het voordat hulle self begin wyn maak het.
Rockford se befaamde Shiraz was uitverkoop, maar hulle maak ‘n besonderse Cabernet sauvignon, terwyl Kalleske Wines en Chateau Tanunda Shiraz-wyne maak wat jou die lippe laat aflek.
Die meeste wingerde was klaar gesnoei en sommige het al begin bot in die warmer lenteweer wat van tyd tot tyd hier gesig wys. Dit moes ‘n goeie winter gewees het, want ek het nog nooit dekgewasse – hawer, kanola, ertjies of fababone – so hoog en welig sien groei nie. Met druiwe- en wynpryse so onder druk, sal dit dalk die wingerdboere loon om eerder die graan en peulgewasse te oes en te verkoop...
In die meeste wingerde is daar net een opleidraad: Meer is glo nie nodig nie; die wingerde is net nie so groeikragtig nie. In sommige van die ou wingerde, wat skaars meer as ‘n ton druiwe per hektaar lewer, is dit nie eens nodig om trosse af te gooi nie.
Toe ek in die tweede week van September daar was, was die boere besig om die dekgewasse weg te werk. Sommige het met skottel- of kapêe tussen die wingerdrye gewerk, terwyl ander die dekgewasse net kort gesny om later as groenbemesting in te werk.
Laastens is daar min dinge wat Suid-Australiese wingerdboere so bang maak soos Phylloxera, daardie vaalgelerige houtluis wat in die laat 19de eeu amper die wynbedrywe in Europese lande, veral Frankryk, uitgewis het. Australië het daardie epidemie vrygespring en tot dusver kon hulle die insek weghou, maar deesdae is daar by elke wingerd ‘n bord wat mense verbied om die wingerde binne te gaan en dalk Phylloxera oor te dra.
Amelia Genis
Sydney, Australië
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)