
|
Leon Kruger
|
Shaka Impi
|
Jakkals
|
|
Leon Kruger
|
Shaka Impi
|
|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Waar begin mens met jou storie, die dag toe jy gebore is, of die dag toe jy "geboere" is.... Ek en my man het 10 jaar terug ontmoet in die stad. Beide van ons afkomstig van die platteland maar beide het die liggies gaan opsoek. Na 4 jaar getrou en vandag sit ons met 2 pragtige seuntjies wat ons lewe so verryk.
Laasjaar kom die geleentheid hom voor dat ons Pietersburg toe kan trek. Nog nie heeltemaal PLAAS soos ons graag in ons drome dit sou wou gehad het nie, maar darrem baie minder stad as die Goudstad. Met nog meer Genade van Bo, kry ons die geleentheid om op 'n vriend van my vader se grondjie verniet te kan kom bly, solank ons net die plek netjies en leefbaar kry. Moet se, het beter geklink as wat die werklikheid was.
Hier aangekom weet ons nie hoe mense so kon gebly het nie. Feitlik geen venster is heel nie, honde en kat mis le die hele huis vol, al die ceilings is stukkend, ens. ens. ens. Nou-ja, Met verf, 3 hulpers, matwassers, en skrop skrop skrop het ons nou darrem die huis leefbaar. Mens ruik nog die skerp reuk in die oggende van die matte wat nooit gewaswas nie, maar nes mens die vensters en deure oopgooi, raak alles darrem bietjie beter...
Ek en my man het besluit so ver dit vir ons moontlik is wil ons he dat ek met die kinders by die huis bly vir so lank dit nodig is vir hul. Toe begin die planne, kom ons hou eers 'n paar hoenders aan. Met 'n bietjie navorsing vind ons uit daar is 'n baie groot mark vir vars eiers in die dorp. Die eerste honderd is bestel en net halwe hokke staan. Ons wil dit Vrylopend doen... en ons moet alles self doen!!Toe ons hul gaan haal, ook pandomonia. Sit hul sommer agter op die bakkie met die seiltjie oor!! Daar verloor ons amper die helfte langs die pad agv die hitte! Van dom wees, sukkel mens maar in die begin baie!! Kry toe maar weer 'n bestelling in want die aanvraag na eiers is GROOT!
Enige Boer sal seker vir jou kan vertel hoe word 'n mens ingedoen. Die hoenders wat ek toe kry, wat veronderstel is om 2 eiers in 3 dae te le, le nou na 3 maande elk gemiddeld 1 eier elke 4/5 dae! Dit is wat die wereld so hartseer maak. 'n Mens het drome en ideale. Jy is gewillig om hard te werk en alles self te doen, en dan word mens ingedoen deur "boere" wat al ver gevorderd is en 'n paar honderd randjies nie vir hul 'n verskil sal maak nie. Elke sent beteken vir ons gesinnetjie so baie. Ek werk nie meer nie, Manlief het sy eie besigheid, wat ook nie altyd so goed loop soos mens dit wil he nie. Ook maar agv mense wat veronderstel is om mens te betaal soos afgespreek en dit dan nie doen nie. So kan ons nie elke maand net sommer tussen R5000-R7000 uithaal om nuwe hoenders aan te skaf wat nou glo mooi le-henne is nie! Die oplossing, kry maar jou eie kuikens en maak hul groot - dit vat ook 5 maande!
Nou-ja, die hoenders doen vandag nog nie so goed soos ek dit wil he nie, maar die nuwe kuikens is darrem nou op die punt van le en hooplik gaan alles nou bietjie beter gaan. Intussen het ons ons eie broeimasjien ook gekry, want om van die stad af elke keer jou kuikens hier na die Noorde te laat aanry werk ook nie so lekker nie.
Vandag is hier darrem nou al 371 le-henne en 400 braaikuikens op 'n slag op die erf. Die aanvraag bly nog groot, so as ons tyd het sal ons self verder weer hokke opsit en nog aanskaf. Die hokke moet egter deur onsself gebou word want om dit te laat doen, kos ook 'n arm en 'n been! Hul het darrem nou al opgegradeer van "Camp Chicken" na Hoenderhokke. Die eerste hokke het sommer ou karavaan dakke en Cazebo's gehad vir beskerming!!
Nou-ja, terwyl ek hier sit en ons storie uitblaker is Manlief en Swaer in die bloedige hitte besig om 'n skaapkrale te bou... Die skape kom more!!! Ons wou hul graag eers later laat kom het, maar aangesien iemand bereid is om hul vir ons verniet vanaf Tolwe hier na Pietersburg te bring, moet 'n mens maar die geleentheid aangryp en weereens buig!! Die skapies behels 101 ooie, waarvan 'n hele klompie dragtig is, 17 lammers en 2 ramme... Dorpers!!!
Waar kom die nou vandaan.... Laas jaar Desember het ons 3 Skapies aangekoop by Leonie - seker baie bekend vir baie van jul. Leonie van Jakkalsdraf! Sy verkoop toe aan my 2 ooitjies en 1 rammetjie. Manlief en Swaer wil baie graag met skape begin boer. Intusssen kry ons hierdie 3 bederfies vir sy Kersfees geskenk! Hul is natuurlik nou al so bederf, loop gereeld heel kalm in die huis in, loop die hele erf vol en plunder my groentetuin ook nes hul lus het.
In die soektog na grond, kry hul net nooit wat hul soek nie, of die verkopers wil nie meer verkoop nie. Kry toe wel die geleentheid om hierdie skape aan te koop. Aangesien ons nou wel 10ha het om op te boer besluit hul toe maar om dit te neem. Ons wil boer, en ons lees en hoor so baie dat dit moontlik is om op hierdie stukkie aarde suksesvol te boer. Ons gaan nou ons beste gee! Wel, woensdag het ons nou gehoor die skapies kom vandag. Gelukkig kon hul nie klaar die lusern op die trok laai wat hul moet bring nie, en nou kom hul eers more!!! Donderdag is die gate gegrou en die pale geplant, Vrydag die kraal toegespan en 'n tydelike hek opgesit, en nou probeer die 2 broers om gou apparte slaaphokke vir die skape te maak.
Ons het aangesluit by die Bosveld Dorper klub, Kenners is genader vir inenting en doserings, kraal uiteensetting, weiding ens. So baie dankie vir almal wat so vrygewig is met hul kennis en ondervinding!! Veral jy, Leonie. Gister is al die medisynes gaan koop om hul reg te doseer en reg te ent vir die groot aankoms! Maandag word ons saad afgelaai dat ons kan begin plant. Intussen moet die pomp nog op die boorgat gesit word, die heinings reg gemaak word, die besproeing ingesit word ens.
Ons droom is egter besig om waar te word. Nog ver nie wat ons groot drome is nie, maar verseker alreeds is ons in 'n droom wereld teenoor waar ons laasjaar die tyd was.
Dankie.
Dankie vir elkeen. Elkeen wat raad gee, elkeen wat ons ondersteun, elkeen wat ons liefhet, elkeen wat ons klaagliedere gereeld aanhoor en veral die meeste Dankie vir ons Hemelse Vader wat ons so Seen met sy rykdom. Rykdom wat die meeste ervaar word in aardse armoede! Nog nooit was ons bankbalanse so beroerd nie, nog nooit het ons nie geweet van geen inkomste aan die einde van die maand nie. Maar steeds voorsien Hy. Nie net aan die noodsaaklikes nie, maar meer aan die Siel kos wat ons verkry.
Ek hoop om binnekort te kan vertel hoe vorder ons nou met ons nuwelinge wat oppad is. Kan letterlik nie wag om hul more af te laai nie (nog 'n probleempie, het natuurlik nie 'n laaibank nie, moet dit ook nog praktiseer vandag!)
Gaan gou van ons eiers bak vir manlief, met bykosse uit die tuin!
Groete en lekker dag
Le-Andrie
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Le-Andrie dis so wonderlik om so n positiewe brief te lees en ook te ervaar dat julle alle sukses aan ons Hemelse Vader se genade opdra. Le-Andrie mag die liefde van JESUS vir jou en gesin toevou en dat jul boerdery net van krag tot krag gaan groete
Ek het julle brief gelees, dit maak my hart so bly om te sien dat mense nog so positief kan wees, ek bly in Phalaborwa het n stuk grond hier ek wil so graag begin met hoenders maar ek weet nie waar om te begin nie kan julle asb my help. BAIE DANKIE.
Liefste Onbekend.
Daar het so baie al intussen gebeur. Met genade van Bo het ons wonderlike rolmodelle, mentors en kenners ontdek. Elkeen wat spesiaal bygedra het tot die uitbou van die kudde. Op die oomblik sit ek in die kantoor en staar uit na die groepie dragtige ooie in die veld. Die helfte het ons gedek in Desember en die ander helfte gaan binnekort gedek word. Die ooie lyk pragtig!! Die eerste 2 lammers het al aangekom en die jubbel in hul stokkies bene om op aarde te wees, laat my elke dag 'n lied in die hart kry.
Die skape het fantasties aangepas. Deur 'n ongelooflike nat seisoen (meer as 1000mm tot vandag toe), het ons kudde so goed gedoen. Minimale vrotpootjies gehad. Parasiet telling is baie hoog in omgewing maar die ooie bou uitstekende immuniteit op. Ons FAMACHA hul en moet slegs 5-7% van die kudde elke keer doseer. So 5 hartwater gevalle gehad, maar nie een verloor nie. So voorwaar, ons mag nie kla nie!! Waar ons weekliks gehoor het van boere wat verliese in hul kuddes gehad het agv alle tipes parasiete (intern & ekstern), het ons tot vandag toe net 1 ooi verloor - onverklaarbaar van die kosbakke afgeval en haar nek gebreek!!! Natuurlik dragtig met 'n tweeling, maar dit is deel van die boerdery!
Die Skape bly egter 'n ongelooflike passie vir ons, en die voorreg om na hul te mag omsien 'n Gawe ontvang uit Sy Hand.
Vandag staan ons bewend van bekommernis en ook van dank voor Sy voete en vra om ons te dra. Ons het die besluit voor Hom geplaas en dit wil lyk of ons pad vir ons aangedui is. Na 1 en 'n half jaar op die plot, het ons nou die geleentheid gekry om 'n plaas wat in die mark is, te koop teen n baie billike ooreenkoms. Ons gaan moet werk dat ons hik! Maar elke sent sal in "Kleinbegin" ingewerp word (naam waarin die plaas geregistreer is, maar SO toepaslik vir ons). Dis weereens hier waar ek vandag staan en moet besef, die vrese van HOE gaan ons dit doen, moet ek afskud en eerder net se DANKIE dat Hy vir ons die weg baan!
As mens die geleentheid gegun word om te kan boer, en dan ook tot die slotsom kom in jou lewe om te besef wat dit beteken om "volkome op Hom te vertrou", dink ek mens het berusting. Ons probeer daagliks ons vertroue oor en oor op Hom te plaas! Hy voorsien ongelooflik!!
Baie dankie aan almal.
Sterkte vir ieder en elk!
Groete
Le-Andrie
le-andrie hoe gaan dit met julle skaape
Le-Andrie, jul wonderlike deursettingsvermoê is aangrypend, so bemoedigend en soos jy terêg sê, alle eer aan ons Hemelse Vader. Man ek beny jul "gespook" om aan te hou glo aan dit wat vir julle saak maak. Ons, ek en my wederhelf Juanita is ook hoewe bewoners, nie meer ons eie nie agv terugslae (twee skietvoorvalle, konstruksie ongeluk, sekwestrasie, liwidasie, egskeiding - vorige huwelik na 23 jaar op rotse agv terugslae, 4 jaar nou getroud met Juanita). Sukkel ook maar om weer op dreef te kom, maar leef elke dag voluit uit God se genade. Hou aan met wat julle as n gesin baie goed doen en dit is om uit Sy genade te LEEF! Groetnis Danie Rautenbach
Dit is so waar, waar begin jy met skaap boerdery jy sukkel eers om ales by mekaar te kry en dan begin jy boer of jy duik gat oor kop in en vat wat na jou kant toe kom, dankie vir die mooi brief. Waar begin ons as n begin boer met skaap.
Hou net aan, dis heerlik om te boer, ek is nou so jaar en n half besig met skape op 7ha. Passop net vir diefstal en vreemde honde - dit was een van my grootste verliese in die tyd. Sterkte Thys
Hou net moed en druk deur! Aanhouer wen!
Hou uit en aan. Kontak my gerus indien jy navrae het in verband met siektes en plae onder die skape. Ek weet nie als nie maar het 20 jaar ondervinding met skape en bokke. 0826632664. Dis verniet want dis my passie. Groete Leon
Dit klink soos deja-vu vir my. Ek het die selfde begin so n jaar terug, allerhande goed het opgekom soos die diere aangevul het en to nog die mileie plantery....hulle se toe mos on gaan glad nie reen kry nie...stres isnie vir ons almal bedoel nie, maar die Vader voorsien soos jy se.
Dis lekker om te boer, wel, te leer boer en wk wens julle stekte toe en hoop jy geniet elke oomblik.
So terloop, Le-Andrie, jy se: "Nog nooit was ons bankbalanse so beroerd nie" na n jaar het ek GEEN bank balans nie, maar weet jy wat, tog geniet ek my gate uit...!!!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)