Hy is geen voorbeeld meer nie en ook geen rolmodel nie. Mooipraat, geelkaarte en “time out” help nie en ernstige tugmaatreëls moet nou oorweeg word. Gelukkig doen hy nie die kopstamp ding nie, maar met sy kop en dik nek beur hy vir hom eenvoudig ´n pad oop. Hy maak my vies, want die draad moet elke keer herstel word. Ergernis! Jy is ´n regte draadkruiper. Skandemaker.
Boele, die Brangusbul, het die afgelope tyd besluit dat hy daarvan hou om rond te loop, gelukkig nie so erg dat hy die buurman se koeie die hof wil gaan maak nie. Dit kan aanleiding gee tot kwaaivriendskap, hoewel ek dink hy kan van daardie koeie se nageslag verbeter. Hy kry net die bevliegings en besluit dat hy alleen wil loop. Dit maak dat hy geen respek het vir enige draad nie en vir hom ´n pad oopbeur, as hy dink dat die gras groener is aan die anderkant van die draad.
Veral die erf om die huis is nou sy geliefde kuier plek. Gras en boompies wat net vir hom bedoel is, of so dink hy. Ongeerg staan hy jou en aankyk of jy verspot is om hom daar te probeer uitjaag. As jy dreigend nader kom, weet hy presies waar die hek is, maar terug deur die opening in die draad, nie sommer nie.
Die elektriese heining moet aangeskakel word, dalk sal dit hom ´n les of wat leer. Of ´n goeie sweep, kan dalk die ding doen. Sommiges wil net nie leer nie.
Hasta la proxima
Kommentaar
Nee mens slag nie so 'n spobul nie, maak 'n ander plan.
ag wat hy is net windmakerig een van die dae gee jy hom net genoeg koeie dan bring hy sy kant.
Nie n sleg bulletjie nie, net jammer van die uras.
As ek die plantegroei so kyk lyk dit mos soos Paraguay?
Suerte con su Torro me amigo!
Skaf 'n MEPS stelsel aan, hy sal net tweekeer geskok word, dan kan jy maar daardie oranje baaltou span en hy sal draaie loop, maar nie weer deur die drade nie
Daar is net een oplossing vir hom.
Slagpale toe.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)