Goeie Naand aan al die mense daar buite.
Wel hier sit ek nou op die Sondag aand voor die rekenaar en dit is nogal koud daar buite. Ek het vandag so 'n bietjie van 'n skrik gehad. Ek en vroulief (Sy het nou gisteraand terug gekom het so 'n bietjie op die plaas gaan rond loop net om te kyk na beeste en al die ander goed wat 'n mens nie elke dag sien nie.
Die honde het orals rond gehardloop en toe sien ek my getroue helper Ruby met 'n stuk swart rubber wat sy verwoed byt. Toe ek nou nader kom sien ek dit is 'n Rinkhals en ek word sommer yskoud want dit kan dalk wees dat die slang die hond gepik het. Ek skree vir haar om te los en sy los maar bly langs die slang staan wat toe orent kom en ek kan sien dat die bakkop so mik na haar kant toe. Toe ek nader kom sien ek dat daar bloed al om haar bek is en ek sien die slang in 'n muisgat verdwyn.
Wel dit was vanmiddag so teen 4 uur en sy (Ruby) is nog reg en aktief. Dit is 'n groot verligting. Sy is onmisbaar met die bees werk. Haar klein 15 kg lyfie skuif enige bees net waar ek die bees wil sit. Of dit nou 'n kwaad koei met 'n kalf is of 'n moedswillige koei wat nie wil loop waar ek wil he sy moet loop nie. Ek is baie afhanklik van haar bydrae tot die dag se werk hier by ons. Ek sal later 'n mooi foto op sit van Ruby.
Maar nou ja om terug te kom na die rede vir die skryf vanaand. Die Boran Nasionale Veiling is om die draai.
Die veiling vind plaas by die Afri-Dome in Parys op die 25ste Julie 2009 en begin teen 11 vm.
Ek het toe gedink ek moet die mense maar net vinnig weer herriner dat die beste plek gaan wees om Top Boran Genetika te kom koop.
Ek vat twee (2) dragtige vroulike diere na die veiling toe.
Die een is 'n dragtige vers geteel uit TLM 02 12 van die Tambaraine Boran Stoet van Eloff Muller. Hy is in 2006 verkoop teen 'n rekord prys van R370 000.
Sy eerste drie (3) vroulike nageslag het verkoop teen 'n gemiddelde prys van R175 000 en een van sy 12 maande ou dogters het verkoop teen die SA rekord prys van R270 000.
Ek vat nou een van sy dogters na die veiling toe. Hier is dan 'n foto van TLM 02 12 en 'n foto van sy dogter wat ek na die veiling toe vat.

Eloff gaan dan ook 2 lotte van 10 strooitjies semen aan bied van hierdie besonderse bul op die Nasionale Veiling.
Sy is geteel uit 'n suiwer Zambiese koei en met 'n vaar van Kenya af. Dit maak van haar 'n goeie belegging in diverse genetika. Sy is dan ook swaar dragtig en behoort net na die veiling te kalf. Sy is dragtig van 'n top TLM 04 578 (Eros)
Nou ja as hierdie fotos dan nie julle aptyt 'n bietjie wek nie dan is tyd om met 'n nuwe oog na die Boran te kyk.
Ek gaan maar weer later 'n bietjie meer kom skryf maar mag die week wat voor le vir almal net vreugde en geluk bring.
Boran groete aan almal daar buite. Onthou om op my webwerf te gaan kyk by www.borans.co.za en julle kan ook op die Boran genootskap se webwerf gaan inloer by www.boran.org.za
Buks van Bethal
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)