Goeie Middag aan almal.
Wel dit is vandag weer 'n lekker sonskyn dag hier in Bethal en dit is nie te koud nie. Die nagte hier is wel baie koud en as die wind in die dag waai dan is dit sommer onplesierige by tye. Sondag middag weer veld brand hier gehad maar dit was gelukkig gou weer onder beheer. Ai die veld brande darem, skade aan die manne se weiveld wat hulle spesiaal bêre vir die winter. Ek wonder net altyd wat besiel die mense om die brande te stig en of daar nie 'n manier is om die brandstigters wat soos mis in die son verdwyn in die hande te kry nie. Weet hulle wat die omvang van die skade is wat hulle aanrig?
Maar nou ja dit is seker iets wat ons moet saamleef mee.
Ek het 'n paar manne wat my vrae wat is die beste manier om met 'n Boran stoet te begin en dit is nie altyd 'n maklike vraag nie, as gevolg van die verskeie maniere wat daar is om met 'n stoet te begin.
Ek wil vandag net gou praat oor die opteling gedeelte van die Boran.
Ek gaan 'n hele paar aannames maak, maar dit net vir die gerieflikheids halwe.
So kom ons begin met 'n 100 boerkoeie van enige ras. Ons gaan aaneem dat al die koeie dragtig is van 'n Suiwer Boran bul. Hetsy met KI of met natuurlike dekking.
So 'n 100 boerkoeie gee vir jou 'n 100 kalfies op die grond. (Ons neem weer aan dat daar 100% kalf sukses is.
Uit die 100 F1 (Aanhangsel A) kalfies is daar 50 versies. (Nog 'n aanname)
Die versies is dan ook almal gekeur vir verdere teling (Nog 'n Aanname)
Jy laat al 50 versies dek op 15 maande.
Weereens neem ons aan dat al 50 dragtig is en dat jy dan 50 kalwers op die grond het. As ons dan aan neem dat hulle weer 50% versies kry is dit dan 25 F2 (Aanhangsel B) verse. Neem ook aan dat almal gekeur is.
Ons laat die 25 F2 Verse dek en weereens het ons 100% kalf sukses en ons het dan 25 F3 (Aanhangsel C ) kalfies op die grond. As dan kyk na 'n 50/50 bul/vers verhouding het jy miskien 13 F3 (Aanhangsel C) verse op die grond.
As jy die 13 verse sal dragtig kry en weereens 100% dragtig met 100% kalfies op die grond en weereens 50% versies het jy 6 of 7 SP (Suiwer Stoet) verse op die grond.
Sal ons dan na 'n tydskaal kyk wat op die 1ste Augustus 2009 begin.
100 koeie dragtig van SP Boran Bul
100 Kalwers op die 15de Mei 2010.
50 F1 verse op 15 maande Augustus 2011
50 F2 kalwers op die grond in Mei 2012.
25 F2 verse by bul op Augustus 2013.
25 F3 kalwers op die grond in Mei 2014.
13 F3 Verse by die bul op Augustus 2015
13 Kalwers op die grond in Mei 2016.
Wat dan 7 SP verse op die grond gee.
7 Sp verse wat na die bul toe kan gaan op August 2017.
So 8 jaar van die begin van opteling met 100 % kalf , speen en dragtigheids persentasies met geen sterftes tussen in nie en alle vroulike diere word goed gekeur vir verdere teling.
Dit is die opteling gedeelte en as jy genoeg tyd tot jou beskiking het is dit dan 'n pad om te volg.
As jy dit dan die vinnigste manier wil doen is daar 2 roetes. Jy kan vir jou by die veilings SP teelbeeste aankoop en dan het jy jou Boran stoet.
Of as jy klaar die boer beeste het kan jy dan belê in Embrios.
As ons dan aanneem dat jy reeds die 100 koeie het en jy koop die 100 embrios teen huidige prys van +/- R5000 per embrio dan is dit 'n kapitale uitleg van van R500,000 plus jou kostes per bees van so +/- R1000 is dit dan 'n totale uitleg van R600,000.
Ons neem dan aan dat jy 'n 50% dragtigheid het uit die 100 beeste. Dan het jy 50 kalfies op die grond wat jou elk +/- R12000 gekos het. En ons neem weer aan dat jy 50/50 bul / vers verhouding het. Dan het jy 25 SP verse op die grond binne 1 jaar. As ons kyk na die gemiddelde prys vir SP diere op die veilings oor die afgelope paar jare dan is dit 'n baie goed koop manier om 'n Boran stoet te begin.
As ek nou self sou begin het met 'n Boran stoet sal ek beslis die embrio roete volg.
Nou is daar ook 'n ander paar vrae wat gaan opduik maar onthou ek het aan die begin gesê dat ons 'n hele paar aannames moet maak ter wille van die somme.
Daar is goed soos dit gaan nie altyd 'n 100% kalfies op die grond kry nie. Die verhouding tussen bulle en verse gaan ook nie altyd 50/50 wees nie. Al die Aanhangsel diere moet 'n keuring slaag. Mar soos gesê net ter wille van die maklike somme.
Ek hoop die verduideliking help die manne wat gevra het daarvoor.
Hier by ons is daar nou 'n bietjie voor bereiding vir die 'Reis na Parys' ons gaan die beeste Donderdag deurvat sodat hulle darem 'n dag se rus het tussen in kry.
Onthou die veiling is op Saterdag die 25ste Julie 2009 en begin om 11vm by die Afri-Dome in Parys.
Hoop om julle almal daar te sien.
Gaan loer in op die Boran Genootskap se web blad by www.boran.org.za en julle kan die veilings pamflet daar kry as ook die katalogus vir die veiling.
Gaan kyk daar op my web blad vir die beeste wat ek na die veiling toe vat op die volgende web blad www.borans.co.za
Boran Groete aan almal
Buks van Bethal
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)