Brandsteek

 

Dié wat af en toe hier lees, weet dat ons die winter die ou Geral houtstoof aan die gang het. Nie soos die ou Esse op die plaas, wat die heel dag gebrand het omdat met antrasiet, jy hom net in die oggend en aand geroer en volgemaak het, moet die houtstoof elke dag brandgesteek word, soos die ou mense sou sê. Vir my ´n senutergende werkie, sê nou net hy vat nie dadelik nie. Fyn houtjies moet uit en weer van nuuts af probeer word.

Vroegoggend, dié werkie. Gelukkig weet ons nou hoé. Papier en fyn houtjies, maar in die papier ´n paar droeë teesakkies, gedoop in dieselolie, versteek. Wou dít nie eers noem nie, want dan dink die mense ons is Derde Wêrelds. Sien toe gelukkig dat ´n paar van die mede bloggers dit ook gebruik. Wat ek wel geleer het, is dat sommige koerante se papier nie veel beteken nie, veral Engelse koerante. Dalk ook net sommiges. Kry gereeld van my ou Engelse vriend Bernard, in Villarrica, uitgawes van die Guardian Weekly. Dunner as papierdun en brand skaars. Nie gemaak om die stoof brand te steek nie. Dalk ook al Made in China, dié papier. Die nadeel van koerantpapier gebruik, is dat jy op interessante skrywes afkom, wat jy vroeër gemis het. Moét dit net gou lees en dan, is die hitte van die stoof vertraag.

Gawe geluid as die fyn houtjies begin kraak en die vuur aan die gang is.

Sê ´n paar dae gelede vir Bernard,  julle papier is nou net so swak soos julle sokkerspelers, beteken nie eers meer iets nie, kan amper nie eers ´n vuur aan die gang kry nie, dalk net goed vir een ding. Lag hy maar net diep uit sy keel, omdat ek sy land so afkraak en sit my op my plek met “´n f—k you, Danny”.

Hasta la proxima

 

Geen gradering nie

Kommentaar

BoerPy 

Volgende keer as oom weer hier in die stad is dan probeer nie so 'n wye draai om ons loop nie en dan wys ek oom waar oom net hier om die draai nou "regte Paraguaanse BLITS" kan koop ;) werk soos 'n BOM :P

Bud Louw 

Probeer om die koerant papier blad vir blad op te rol end dan te "knoop". Dit werk goed, veral wanneer daar nie dun hout byderhand is nie.
Bud

Onbekende besoeker 

Probeer om die koerant papier blad vir blad op te rol end dan 'n knoop daarin te maak. Dit werk goed veral wanner daar nie dun houtjies byderhand is nie.
Bud

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.