Dagsê

Teleurstelling

Die afgelope kuier by die kinders te Le Bayle, 6 Chemin du Moulin, Seilh, naby Toulouse, was een groot lekkerte. Hoe sê mens dankie? Gelukkig deel die lewe ons baie soet, maar tussenin ook bietjie suur. Die suur was ´n paar teleurstellings wat ek beleef het, niks ernstig nie.

Die groot teleurstelling was die toets. Nou, na die tyd, is dit maklik om te sê dat ek so ´n voorgevoel gehad het. ´n Verdere teleurstelling was die Landbouweekblad, wat nie in dié tyd afgelewer is nie. Skoonseun Daan is ´n intekenaar en ywerige leser. In die drie weke, het nie een nuwe uitgawe sy verskyning gemaak nie en het ons elke dag, met arendsoë, die posbus dopgehou om te sien of die afleweringsdame, in haar geel paneelwaentjie, nie iets daarin plaas nie. Die ware Jakob onder oë, is tog baie beter as die internet model. Wonder wie sou hom eerste te lese gekry het?

Amper die grootste teleurstelling was die teleurstelling in skoonseun Daan se oë, toe ek nie goedkeuring kon gee en sy entoesiasme deel oor sy boerewors nie. Spesiaal laat maak by ´n slagter in Agen. Tipiese slaghuis wors. Wat was jou mengsel? Daardie mengsel van die Joodjie, aan die Rand, wat almal gebruik. Ironies dat hy, ons boerewors smaak moet bepaal. Iemand wat seker nie eers mag weet hoe smaak ´n bietjie vark en spek in goeie wors nie. Dit is tog een van die basiese bestanddele van goeie wors. Soos die Europeërs nie goeie boerewors kan maak nie, want hulle gebruik net vark. Al wat goed is van daardie klaar gekoopte mengsels, is die “Russian” mengsel. Die ou beproefde resep, uit Kook en Geniet, is steeds ´n staatmaker. Net genoeg van alles. Kruie en speserye wat oral bekom kan word. Hoeveelheid ook net genoeg. Wors met vark in, moet asseblief binne 4-5 weke opgeeet wees. Nie te gaar nie, nog lekker sappig binne in. Hap hom dat die sap so by die mondhoeke uitpeul, dan is hy gaaf.

´n Groter teleurstelling vir volgende keer.

Hasta la proxima

Geen gradering nie

Kommentaar

mkruger

Ek het al gehoor van rasissme
Maar hierdie is 'n ander isme
Hoekom kry net die buitelanders dit in digitale formaat ?
Ek wil dit ook he.
Of se jy nou vir my ek moet my goed vat en trek ?

Janbez

Beste Danie,
Jammer om te verneem van jou teleurstelling - oor die LBW. Ons is almal vies oor die rugby, maar ss LBW nie afgelewer word nie, dan is dit 'n probleem.
Dalk sal ons in die nuwe jaar, as ander mense se planne reg uitwerk, LBW in 'n digitale formaat vir lesers in die buiteland kan aanbied. Ek weet dit is nie die ware jakob nie, maar dit sal hopelik sulke probleme uitskakel.
Groete, jan bez, landbou.com

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.