Dagsê







Teleurstelling

Dit moes ´n politikus wees wat dit aangestig het, seker gehoop dat sy naam aan die gebou gekoppel sou word. Daardie toring van Babel het in elk geval ´n “general en imperial bôggerop” veroorsaak, sou oupa gesê het. Tale en nogmaals tale en soveel verwarring. As ons almal een taal gepraat het, sou dit darem soveel makliker wees. Frans, Frans, alles Frans. Geen Engels nie, geen Spaans nie, geen Duits nie.

Ons het so baie in gemeen, so baie om oor te praat, daar is soveel wat ek hom wil vra, maar die taal! Bernard Dardier, joviaal en vriendelik. Tipiese boer, gasvry, nooi ons vir ontbyt. Alles vlot goed, skoonseun Daan is by en tolk. Wys ons sy implemente, alles baie nuut, goeie toestand. Sy melkkoeie baie mooi. Boer in die dorpsgebied van Seilh, voorstad van Toulouse. Hoofstraat aan die een kant, hotel aan die ander en gholfbaan aan nog een kant. Die mense haastig om met hul dagtaak aan te gaan. Ek sal later terugkom en kom gesels en alles uitvra.

´n Dag of wat later gaan ek weer om al my vrae te vra? Alleen. Teleurstelling. Ons kommunkasie is te gebrekkig om veel te vorder. Die rol van subsidies? Hoeveel hektaar onder bewerking? Ek maak uit so 80. Een Claas Ares van 102 CV, een Claas Arion van 130 CV. Baie krag vir so min grond. Twee 45 jarige Renault trekkers wat nog daagliks gebruik word. ´n Nuwe Claas Lexion stroper. Nuwe planter met krageg vooraan. Implemente wat opvou om hulle beweegbaar te maak in die strate. Leë persele in die dorpsgebied word ook bewerk. Ph van grond? Ton per hektaar raaigras? Hoekom nie klawer tussen die raaigras nie? Mielies en opbrengs? Melkkoeie? Frisona Holsteins. Liters per dag? Gaan julle ook melk skenk op die plaza? Frustrasie, teleurstelling. Die meeste onbeantwoord. Maak nie sin om te skryf as die feite nie reg is nie. ´n Gulde geleentheid daarmee heen.

Wat ek wel uitmaak, is dat die ou huis se boonste verdieping vroeër gebruik is om die wintershooi in te berg, nou is dit nutteloos, want die ronde bale kom nie daar in nie. Bernard se ma, wat dit bewoon, angstig om te gesels en beduie aanmekaar. Jammer tante, ek verstaan jou nie.

Ek stap terug deur die raaigras land, met sy klipperige grond, vol nostalgie verby die ou antieke hark, teleurgesteld dat ek nie die inligting uit Bernard kon kry nie, tog dankbaar dat die enigste taal nie Frans was nie. Hoe sou ons dán nie gesukkel het met só ´n moeilike taal nie. Bôgger jou, wat die toring van Babel begin het!

Hasta la proxima.






Geen gradering nie

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.