Truffels, foie gras en bellota ham.
Sommige mense het duur smaak, letterlik. Die meeste van ons se smaak is goedkoper, omdat ons daardie duur geregte nie kan bekostig nie en omdat dit ook nie in ons eetkultuur bestaan nie. Of dié geregte werklik sooo goed smaak, om die buitensporige pryse te regverdig, weet ek nie. Truffels het ek nie geproe nie en ook nie onder oë gehad nie, die ander twee wel.

Truffels of knolswamme is ´n gesogte en duur lekkerny in sekere Europese lande. Dit groei veral goed in die wortels van akkerbome. Die agttiende eeuse Franse gastronoom, Brillat-Savarin, het dit die “diamant van die kombuis” genoem. Tuber magnatum of die wit truffel verkoop tussen 1700 Euro en 3800 E per kilogram. Die gedagte daaraan gee my sommer ´n baie erge sooibrand. Varke en honde word gebruik om hulle op te spoor, hulle kry dit maklik reg, aangesien dit ´n taamlike onaangename reuk het. Wie wil nou versadig raak met dinge wat in fyn skilletjies met ander kos gemeng word om dit ´n goeie smaak te gee?



Foie gras, wat beteken “vet lewer”, is nog een van die duur rykmans disse. Geproduseer deur eende en ganse wat op ´n spesiale dieet is en waar voedingstowwe as't ware in hul keelgate geforseer word om die regte lewer te produseer. Diereregte aktiviste protesteer. Vir my smaak dit maar na ´n goeie lewersmeer, goed om jou ´n goeie galaanval te gee. Vir 80 Euro en meer per kilogram, wil mens darem nie kos so mors nie.

Jamón de Bellota of “ham van akkers” is nog ´n duur lekkerny. Op ´n dieet van amper 10 kg akkers per dag, het hierdie vrylopende varke se ham ´n kenmerkende neut smaak wat dit so gesog maak. Deur die eeue word dié Iberiese varke spesiaal behandel en dan volgens tradisie geslag. Die boude en blaaie word vir ´n paar weke in seesout verpak, dan opgehang in die vars berglug. Dié proses kan tot twee jaar en langer duur en in die proses verloor dit ongeveer die helfte van die gewig. Die anti-oksidante in die akkers maak dat dit dan uiteindelik ´n baie gesonde dis is, wat papier dun voorgesit word. Die prys nie onder 120 Euro per kilogram nie.
Tesame met kaviaar, is hierdie drie disse van die gesogste en duurste vir fynproewers. Ons gewone mense kan dit amper net eet as jy genooi word en die gasheer of gasvrou jou wil beindruk.
Hasta la proxima
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)