Die Hartwaterbosluis

Foto: Internet
Hartwater het op n paar plekke alreeds sy kop uitgesteek.
Dit is belangrik dat produsente wat weet dat hul nie reeds weerstandigheid het teen sekere aktiewe (dipstowwe) het nie, multigasheerbosluise soos bruinoorbosluise, rooipoot, bontpoot, die klein blinkbruinbosluis en bontbosluise nou met bekwame spoed met 'n produk soos Deadline van Bayer dip.
Wynand Coetzee is tans in Frankryk. Hy het nou in die Naboomspruitgebied byna 'n 100 dae geen bruinoorbosluise op sy diere gehad nie. Ook nie bontbosluise nie en dit was 'n matige winter. Wynand het my op my senuwees gehad, want voordat ons met my program by hom begin het, het hy byna elke week gedip en week na week was sy diere besmet met bruinoor, rooipoot en bontbosluise.
Johan van der Watt van die SanSoria Boranstoet in Humansdorp berig gereeld van nawerkings met Deadline tussen 30-50 dae. Ons volg egter 'n konserwatiewe benadering van ongeveer 30 dae.
John du Preez van Greytown, Philip Labuschagne van Twisthoek by Mooirivier, Denys Wells en Jim Musto van Alexandria in die Oos Kaap is ook gelukkig en oor elkeen sal daar 'n opvolg kom.
PJ Hassard het ook 50 dae in Hluhluwe gekry maar ongelukkig toe 2 hartwater gevalle gekry, wat hy onmiddelik geblok het en toe weer gedip het. Die 2 diere is deurgehaal.
Skielik, danksy my blog hier goedgunstiglik by Landbouweekblad, is daar verskeie navrae van reg oor die land waar hartwater skielik weer op plase uitgebreek het. Dit is boere wat nie kliënte is van my nie en dit is moeilik om aan enige produsent raad te gee, vir die volgende redes.
Die feit dat u sekere dipprodukte gebruik het, en dalk onoordeelkundig en (alhoewel in goeie trou met die raad wat u oor die produk ontvang het) is die kans baie goed dat u reeds weerstandigheid teen die dipmiddels se aktiewe by bloubosluise opgedoen het.
Om u raad te gee...
Sonder dat ek gesien het en of getoets het wat u weerstandigheidsituasie is, is enige aanbeveling en of raad gewoon krimineel. Al wat ek gewoon sal doen is om te raai en u geld te mors, u weerstandigheidsituasie te vererger en u diere op verdere risiko te plaas .
Dit sal vir my sleg wees om my kennis so te bedryf. Daarom kan ek nie 'n gehalte produk soos Deadline goedsmoeds aanbeveel sonder dat ek weet dat ek nie u weerstandigheidsituasie vererger nie.
Onthou graag dat vele produsente in hierdie gebiede van menings is Deadline werk nie meer nie en, dat hul Kooperasies nie eens die produk aangehou het nie. Met kundige aanwending is dit een van die heel beste proukte op die mark ooit.
Bontbosluise of Hartwaterbosluise
.jpg)
Aanbevelingsetiek
Ek kan nie enige produk aanbeveel sonder dat ek weet hoe dit presies binne u spesieke parasietweerstandigheidsraamwerk inpas nie. Ek moet weet watter parasiete word bygedam en watter nie en, watter moet ons met 'n ander produk bestry aldan nie.
My diens is oplossingsgedrewe, nie verkoopsgedrewe nie. Van die Dieregesondheismaatskappye staan 'n 5% kommissie aan my toe op die verkope, maar ek kan my aanbevelings nie daardeur laat motiveer nie.
Die bosluise/parasiete op u plaas se unieke eienskappe en weerstandigheidsprofiel lei my om besluite te neem waarop ek aanbevelings maak.
Boonop is my motto om my kliënte by die minimumdip sowat 2-3 vir bloubosluise en 3-5 vir multigashere te lei.
Voordat ons by Wynand Coetzee en al die ander produsente soos genoem se tevredenheid kom, is daar klomp werk daarin gesit om dipstowwe maksimaal effektief te maak. Dipstowwe moet ook kundig aangewend word, en beslis strategies in terme van die bloubosluisweerstandigheid wat uniek per plaas is.
Kruisweerstandigheid tussen die dipstowwe en ander molekules moet verhoed word. Stres, arbeid, verliese..., 'n horde dinge moet in aggeneem word voordat ek enige produk aan beveel.
Buitendien, daar is nie een Dieregesondheidsmaatskappy in SA wat die hele reeks produkte wat benodig word in sy reekse op die mark besit nie.
Kom ek verskaf algemene inligting aan u oor die hartwaterbosluis. U moet hierin raaklees dat die bosluis, saam met die ander multigashere, met 'n plan bestuur moet word.
Die plan om multigasheerbosluise word deur die Bloubosluise se weerstandigheidsprofiel bepaal. Dis nie 'n lukraak getjommel in die donker nie en daarom kan ek nie telefonies raad gee as ek nie die plaas se unieke situasie ken nie.
Bontbosluise of hartwaterbosluise
Lewenssiklus van die wyfie

- Die kleurvolle bosluise is 3-gasheer bosluise wat bekend is vir hul vermoëns om Cowdria ruminantium of dan hartwater in beeste, bokke, wild en skape oor te dra.
- Die volgesuigde wyfie lê in die omgewing van 20 000 eiertjies. Nadat die larwes uitgebroei het, soek hul 'n geskikte gasheer en voed wat enige iets tussen 7 - 14 dae kan neem. Die 6-pootige larwe val daarna af, omvorm en verskyn daarna as 'n 8-pootige nimf.
- Nimfe en volwassenes in die bontbosluisgroepe is kranige jagters. Groot beroeringe vind op die grond plaas wanneer hul agterkom dat 'n potensiële prooi in die omgewing is.
- Die nimf heg dan aan die prooi, voed dan vir 7-14 dae, val dan af, omvorm oor 'n tydperk en verskyn daarna as 'n volwassene wat opnuut opsoek is na die volgende gasheer.
- As volwassene voed die wyfie tussen 7-9 dae waartydens paring ook plaasvind. Die Amblyomma groep is groot bosluise en 'n wyfie kan tot 5 ml bloed opneem in die tydperk.
- Die volgesuigde wyfie val dan af, rus 'n paar dae waarna sy begin om haar eiers te lê en die nuwe geslag bosluise se lewensiklus, wat oor 'n tydperk van 'n jaar strek, begin weer. (Dit kan langer wees, afhangende van natuurlike omstandighede en uitdagings waarteen die bosluis homself teen moet beskerm).
- In eenvoudige taal, die Biologie is nooit 'n vasgestelde gegewe nie. Dit verander en pas aan na gelang van omstandighede. 'n Voorbeeld hiervan is die griepvirus; die mens het geen idee na watter vorm dit volgende muteer nie. Eers wanneer die vorm van die mutasie duidelik is, kan entstowwe daarteen ontwikkel word. Dit beteken dat virusse soos die griepvirusse die wetenskap moontlik altyd effe voor is.
Die mannetjie bontbosluis
- Die mannetjies se lewenssiklus is die dieselfde as die wyfie, behalwe dat wyfies slegs op 'n prooi sal heg as en wanneer daar reeds volwasse mannetjies op die prooi teenwoordig is.
Die interessante vraag is hoekom? 
- Mannetjies moet vir ongeveer 6 dae voed voordat hul geslagryp is en met geslagsrypheid begin die volwasse mannetjies om feromone af te skei wat soekende volwasse wyfies aanlok. Die feromone lok ook ander nimfe en ander mannetjies van die omgewing en die prooi kan skielik oortrek word van bontbosluise.
- Die mannetjies kan tussen 2 en 4 maande langer op dieselfde prooi aanbly maar hul lewenssiklus word as 'n gemiddeld in sowat 1 jaar voltooi.

Hartwatersmeer onder mikroskoop te Onderstepoort.
Seisoenale bedrywighede
Larwes se aktiwiteite vind hoofsaaklik in die laat somer plaas, waarna die nimfe in die winter hoogs aktief is en volwassenes dan hoofsaaklik in die somer. In die warmer gebiede in KwaZulu-Natal, Limpopo Provinsie en Mpumalanga vind die bontbosluis se aktiwiteite deurlopend deur die jaar plaas.
Bontbosluise benodig baie vog en hitte, bosse en struike en oorleef nie maklik in oop grasvlaktes nie.
Wat is belangrik om in ag te neem van die groep bosluise se lewenssiklus?
Die bosluis se lewensduur is sowat 'n jaar, maar sy voedingstydperke is slegs 7-14 dae op sy prooi waarna dit afval en sy lewensstadia die res van die tyd in skuilings op die grond en bosse waar hulle nie gesteur word nie voltooi.

- Dit beteken dat die bosluis slegs sowat 6 weke van die 52 weke van 'n jaar op 'n prooi teenwoordig is.
- Dit is bekend dat die larwe sy eerste maaltyd neem op 'n rot of slang of voël waarna dit afval om te omvorm na sy volgende lewensstadia.
- Die nimfstadia se bloedmaal word op ander kleinerige diere geneem waar bosluisbeheer nie op kan of moet plaasvind nie
- Die volwasse stadia word dan gewoonlik voltooi op diere van ekonomiese waarde soos beeste wild, bokke en skape.
- Dit moet egter onthou word dat die hartwater ter enige tyd van die bosluis se lewenssiklus oorgedra kan word.
- Dit moet ook onthou word dat slegs sowat 10% van al die bosluise wat van veeartsenykundige belang is, siektes veroorsaak. Die ander 90% is potensiële draers maar nie noodwendig besmet met die siektes van ekonomiese belang nie.
- Die bosluise se monddele is goed en baie sterk gevorm en hul monddele veroorsaak klein wonde wat die spykerwurm of Chrysoma bezziania kans gee om sy eiers te lê.

Die bontbosluis is ook die draer van Kongokoors en dan bosluiskoors (Rickettsia conori) by mense.
Die vraag is dus;
- Hoe beheer mens nou die 3- gasheerbosluise as dit hul lewenssiklus is en, hul slegs sowat 7 tot 9 dae heg in 52 weke op plaasdiere of wild van ekonomiese belang heg?
- Wanneer moet beheer dan nou plaasvind as die eerste simptome van hartwater eers sowat 19 tot 21 dae nadat die dier gebyt is, te voorskyn kom?

- Watter een van die sowat 21 hartwaterstamme dra die bosluise nou oor?
- Die argument dat diere wat verhandel word "hartwaterbestand" is, dra natuurlik gewig. Die vraag is net teen watter van die hartwaterstamme? Die feit dat die dier teen een hartwaterstam weerstandigheid toon, beteken nie dat dit weerstandig gaan wees teen 'n ander hartwaterstam wat enkele kilometers verder aktief is nie.
- Hoe word die verspreiding van hartwaterstamme dus voorkom?
- Dan, net om als mooi deurmekaar te maak, die produsent het bosluise nodig om sy diere se immuniteit op te hou en te verhoed dat sy diere hul verkrygde weerstandigheidsvlakke teen die bosluisgedraagde siektes verloor.
- Besmette diere en die wyses waarop dit ingebring, aangekoop en verhandel word speel 'n belangrike rol in die verspreiding van bosluisgedraagde siektes.
'n Gedeelte van 'n sinvolle individuele bosluisbeheerprogram is dus gegrond op 'n wetenskaplik verantwoordbare en MEETBARE strategiese geïntegreerde bosluisbeheerprogram. Dit moet meetbare doelwitte hê soos om minder te dip, beter te dip en om die natuur as vennoot in te span...
Pierre van Niekerk
0126674755
0822208386
pierrevn@telkomsa.net
Alle foto's behoort aan hul regmatige eienaars en is nie my persoonlike eiendom nie. Skrywe se inhoud vanaf 'n kursus by Prof Ivan Horak.
Kommentaar
Ek plaas kommentaar van Dr Tom Strydom. Danbaar vir die kommentaar en ek dink dat ek dit baie graag net so wil plaas om te wys dat daar steeds verskillende gerespekteerde opinies is tussen erkende wetenskaplikes.
Ek het vanaoggend met Tom telefonies geskakel oor sy standpunt oor die bontbosluis. Die verskil in opinie is nodig vir die leser om agter te kom wat op die dinamika en verandering van die Biologie dui. Ek het ook aan hom die redes verduidelik waarom ek van mening is waarom ek so lang nawerking gekry het op multigashere, (wat nie een verwag was nie.)
Baie dankie vir die vriendelike gesprek Tom.
Hallo Pierre
Ek het jou artikel op die Lanbouweekblad blog gelees en ek wil net 'n paar opmerkings maak:
1) Die wetenskaplike naam van hartwater is Ricketsia ruminantium (Cowdria ruminantium is die ou naam).
2) Kongo koors word deur die bontpoot bosluis (Hyalomma spp) en nie die bontbosluis oorgedra nie.
3) Ek persoonlik het nog nooit 'n kontakdodende dipmiddel (insluitende opgietmiddels) gekry wat 'n 50 dae nawerking het om bosluise te beheer nie - en ek het in my 16 jaar van navorsing met 'n wye spektrum van middels, insluitende Deadline gewerk. Die lang "nawerking" wat op sommige plase ondervind word kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die "lae aktiwiteit" van die bosluise tydens die wintermaande. Bruinoorbosluise bv is baie seisoenaal in SA en die volwassenes kom voor vanaf mid-Desember tot ongeveer April. Hier by ons navorsingseenheid by Malelane waar ons minimaal dip sien ons feitlik geen bontbosluise en geen bruinoorbosluise in die winter nie, en die besmetting met die spesies is baie hoog in die somermaande.
groete
Tom Strydom
Dr T Strydom BVSc
Manager
Malelane Research Unit
Tel: +27 13 7924518
Fax: +27 13 7924528
Mobile: +27 83 2615891
Tom.Strydom@sp.intervet.com
Intervet/Schering-Plough Animal Health
Malelane Research Unit
P.O. Box 124
Tonga Road
Malalane, Mpumalanga, 1320, South Africa
www.intervet.com
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)