Dit is nie ´n Dover nie, ook nie ´n Ellis de Lux nie en nog minder ´n Esse of ´n Aga, want hier is geen steenkool of antrasiet nie. Dié mense weet eintlik nie wat is steenkool en antrasiet nie. Dit is ´n Geral.´n Regte houtstoof.
Ons het die huis gekry met hom in. Baie van die mense gebruik nou nog houtstowe, omdat hout in oorvloed beskikbaar is. Al baie oorweeg om hom uit te haal, gelukkig nog nooit so ver gekom nie. Af en toe in die winter hom gebruik, vir daardie lekker atmosfeer, nie so ´n lekker atmosfeer as ´n kaggel nie, maar die kombuis en die res van die huis is snoesig warm. Eintlik ´n hele paar winters terug, hom laas gebruik. In die somer maak hy die huis ´n bakoond.
Die winter het lank weggebly, maar ´n klompie dae gelede, het hy met mening toegeslaan en sy koue tande diep in murg en been ingeslaan. Voorspelling is vir ´n week van hierdie beter-om-binne-te-bly klimaat. Die ideale geleentheid om die Geral aan die gang te kry. Bietjie oefening om hom te laat loop sonder baie rook. Darem gou die slag gekry. Boonste deurtjie toe, smoorklep heeltemal oop. As hy goed brand, smoorklep amper heeltemal toe. Sal seker nog meer oefening kos om ´n koek met die regte struktuur uit hom te haal.
Nou kan die koffieketeltjie die hele dag daar staan en prut, so ook die Rooibos. Rooibos wat nie getrek het nie, smaak na niks. So ook die bredie, wat op sy tyd rustig gaar word. Die ou swart 3-poot potjie, sonder die 3 pote, kan nou weer gebruik word vir die pap en ek dink souskluitjies is net beter op die houtstoof.
Kan net die Groenes verseker, ons saag nie bome spesiaal vir brandhout nie. Daar is kort-kort ´n boom wat val, ouderdom en wind, dít is wat brandhout word.
Hasta la proxima
Kommentaar
Dit laat my dink aan die dae waar ek grootgeword het op Hoedspruit. Waar kan ek een kry asb!!!!
Hi Danie, dit klink bekend en baie gesellig, ek wens julle was nader dat ek sommer kon oorstap vir daardie lekker getrekte rooibos met kookmelk. Jy skryf van dinge wat verseker aan die uitsterf is. Dis bibberend koud, geniet die hitte van die "hout"stoof.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)