Sondag, ja, vergaderings word hier op ´n Sondag gehou, was dit die jaarvergadering van die ARP (Asociacion Rural del Paraguay) of te wel die landbou-unie van ons provinsie of departement, Guairá. Gehou in Villarrica. Vergadering belê vir 10 uur, maar soos die gewoonte is, het ons ´n driekwartuur laat begin. Kan darem nie die kultuur in die steek laat en betyds begin nie.
Genoeg tyd om mekaar hartlik te groet, ´n halwe omhelsing en so ´n paar goedige klappe op die rug. Blye weersiens vir dié wat mekaar nie so gereeld sien nie. Daar is in Desember ´n afskeid ook. Uiteindelik gereed om te begin. Deel van die vertraging was die Beech Baron van die nasionale president, Juan Nestor (Tito) Nuñez, wat laat geland het. Almal op hul plekke, informeel om die tafels, bordjies met southappies, stukkies wors, mandioka en sopa (´n soort mieliebrood) en water, voorsien deur kelners met swart strikdasse, ´n keuse tussen “agua con gas” of “sin gas”. Agenda soos oral, 1 minuut stilte vir ontslape lede, jaarverslag, klagtes oor die ekonomie, die droogte van die vorige jaar, uitvoer van vleis was darem baie goed, finansiële verslag, ook maar vervelig. Verslag van die nasionale president, hoed op die kop. Goeie spreker, maak min van sy notas gebruik, moet darem al geoefen wees. Daar is dertien departemente en ons amper laaste op die lys. Verkiesing van ampsdraers. Spring Roberto op en stel voor dat die komitee net so bly, vra applous vir sy voorstel. Wat hy kry. Hier en daar ´n murmurering van ´n paar aspirante, hulle sal ´n jaar moet wag om op die komitee te dien. Geen ander punte van belang op die agenda nie. Laaste, ´n “power point” aanbieding van een van die hoofbestuurslede, onderwerp: verbetering van die Expoterrein in Asunción. Vergadering afgehandel.
Lekker eet en verder gesels. Braaivleis en slaaie, wyn. Nagereg, oa die tradisionele “arroz con leche” (rys in melk), ingelegde groen papaja, tuisgemaakte wit kaas en heuning en randkoek, dit is die goeie afrikaans vir flan.
Na ete vertrek die wat siesta belangrik ag, gou. Bittereinders sit die kuier voort. Tafels word om hulle opgeruim. Tot laatmiddag. Nog genoeg wyn. Probleme word nou sommer vinnig opgelos. Met die lang skaduwees, begin die fone aktief raak. Gedemp. Nee, ek is nog by die vergadering. Goedige gespot. Wie word volgende gesoek? Omweë word bespreek, polisie is deesdae streng en die blaaspypie verklik mens maklik, sê nou maar ons word voorgekeer. Geskater, as een sy seun bel om hom te kom haal. Sien mekaar weer in Desember.
Hasta la proxima
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)