Die gewoonte is mos maar, om agter die stroper te loop en te kyk, of hy nie mors nie. Die drom en die windspoed, en al die ander verstellings moet net reg wees, weet ek nou nie of vandag se moderne masjiene met al hulle sensors en elektroniese meetapparaat, dit self doen nie. Ons wil nie onnodige saadvermorsing he nie. Nie dat ek myself, ooit, as ´n saaiboer, beskou het nie, maar gesien en geluister, wat sê die regte saaimanne.

Met dié, dat die grond verhuur is en al daardie aktiwiteite nou net hier om my plaasvind, gooi ek gereeld ´n ogie daar. Stap juis, verlede week, met die stropery, agter die ou groen monster, om te kyk of hy mors. Gelukkig toe nie, maar val my oog op die ronde, plat klip, in die land.  Nou dít, is ´n skaars ding in hierdie geweste. Bekyk hom mooi, hy wys die geskendheid, waar die skotteleg en seker die planters se kouters, hom bygekom het. Hier word mos nie geploeg nie, anders was hy dalk begrawe. Duidelik, het hy ´n redelike lang tyd, daar gelê. Wonder, nou hoé sou hy dáár beland het? Waar kom hy vandaan? Daardie soort klippe lê nie rond, in die lande nie. Groot genoeg, om enorme skade aan te rig, so die stroper se tafel hom dalk wel optel. Tel hom op en dra hom na die kant van die land en plaas hom,  net onder die draad, waar hy niks en niemand kan pla en skade aandoen nie.

 

Laat dit my dink aan die storie, wat vriend Jaco vertel, van die groot klip, wat in ´n land in hulle ou wêreld, daar in die Noord-Oos Vrystaat gelê het en daar maar net om hom of bo-oor hom gewerk is. Niemand het gedink om hom te verwyder nie, maar was altyd ´n steen des aanstoots vir skoonpa, oom Petrus. Op ´n dag, ry hy toe juis daar verby, terwyl hulle besig is om die land te bewerk. Hou hy net daar stil en wink een van die trekkerdrywers nader, noem aan hom dat die eienaar hom pas gebel het en hom gevra het om die boodskap oor te dra, dat hulle,  tog die klip uit die land moet verwyder. Met die terugkeer, van die dorp af, was daar geen teken meer van die klip nie.

 

So, verwyder mense klippe, in´n pad, sonder dat ander daarvan bewus is, al speel ´n witleuentjie soms ´n rol, om die klip, te skuif. Kan ons nie maar meer gereeld, sulke klippe uit die pad rol nie?

Hasta la proxima


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.