Ou Muis het vanaand ‘n paar goeie lesse sommer so uit die natuur uit geleer. Nou om ‘n kort storie baie lank te maak:

Ek het destyds in 1992 ‘n avoboom hier op die dorpie kom plant, presies twee jaar voordat ek permanent van Pretoria af platteland toe verhuis het. Sommer so van ‘n pit af wat jy aan twee vuurhoutjies gehang het in ‘n glas water, totdat die pit wortels kry en dan plant jy die pit in ‘n gat vol kompos en allerhande lekkernye waarvan bome hou.

Almal het vir my gesê dat die boom nooit sal dra nie – dit moet blykbaar ‘n geënte boom wees, maar ek wou my punt bewys en het vas geglo dat die boom wel eendag vrugte sal dra. So by the way, in die Paradys het al die bome vrugte gedra en nog Adam, nog Eva het daai tyd geweet van bome ent…

Elke jaar het ek die boom ondersoek, maar avos dra was blykbaar nie haar werk nie.  So drie jaar gelede het ek begin dreig om die boom uit te kap – net soos daai storie in die Bybel van die vyeboom wat nie wou vrugte dra nie, uitgeruk en verbrand moes word.

My pagoed het elke keer wal gegooi, net soos die tuinier in die Bybel – (Luk. 13:6-9), en gesê: “Gee die boom nog een jaar tyd – as hy volgende jaar nie dra nie, kan ons hom uithaal en verbrand” –  en so het dit maar geloop vir die volgende drie jaar. Vanjaar het ek voet by stuk gehou en vir pagoed gesê dat dit nou die boom se laaste kans gaan wees. Dra sy nie hierdie jaar nie, koop ek vir my ‘n geënte boom en kap die useless boom af en maak ‘n lekker skaapmoewe-braai met sy hout. Pagoed het selfs saamgestem, want ek glo hy is darem ook teen die tyd al moeg gewag vir avos.

Ek het vir oulaas lekker kompos ingewerk, die boom met genoeg kunsmis kos gegee en oorgenoeg water om die girl ‘n boost te gee. Selfs ‘n paar spykers in haar stam ingekap en weereens gewag.

Hierdie jaar het die boom bloeisels gehad soos nog nooit tevore nie, maar almal het afgeval en weereens staan die boom vol blare en geen avos nie.

Vanaand kom ek bietjie vroeër van die werk af – die son was nog nie heeltemal onder nie en so by my kool, daar hang drie goetertjies aan die boom wat lyk soos nickerballs – haar eerste drie vruggies na twintig jaar!

En hier is ewe skielik ‘n hele spul lesse om te leer:

Die natuur het sy eie tyd en die natuur is glad nie haastig nie.

Net soos die avoboom, het ‘n mens ook sy tyd wanneer hy gereed is om vrugte te dra – die mens het gekom en alles opgeneuk met bome ent, hormoontoedienings en kunsmatige misstowwe om meer uit die natuur uit te haal as wat die natuur kan gee. Alles gaan deesdae oor maksimum produksie in die kortste moontlike tyd, want daar moet geld gemaak word.

Gaan na die Avoboom mense en word wys. Volgende jaar is my boom mondig, eers dan is sy gereed om vrugte te dra – ‘n lessie uit die natuur uit!

As ou Muis vanaand die tyd kan terugdraai, sou ek graag die klok wou terugdraai na Adam en Eva se tyd in die Paradys, toe bome nog vrugte kon dra op hulle eie tyd en mense hulle pad kon volg soos dit bedoel was om te loop, op die regte tyd wanneer Moeder Natuur bepaal het dat hulle gereed is.  Maar dit is seker maar wensdenkery!

Groete,

Muis


Kommentaar

Een kommentaar op “Die lewe is soos ‘n Avoboom…

  1. Louis Brits
    Louis Brits

    So nou moet ek nog 19jaar wag vir my boom om te dra….Nee hel ek kan nie,gaan hom ent sodra die tyd reg is!!!


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.