Dr Mentz,
Ek is jammer om te lees dat u in u persoon aangeval is met u standpunte, reg of verkeerd. Hierdie is nie so ‘n skrywe met gemene punte en of venyn nie.
Ek wil vooraf sê, ek deel baie van u sentimente veral oor weiding, veldbeeste, produsente bemagtiging ens. Ek krap net kop oor die ekonomiese impak weens die nie-bestuur van parasiete wat u en ook ander meningvormers het. Dit maak soms vir my glad nie sin nie.
Ek verduidelik;
Soos u, is daar min skrywers wat waag om die ekonomiese impak van parasiete in hul filosofie of ideologie te noem en of om dit te omskrywe. Ek dink egter dis omdat daar min is wat dit kan doen en, die wat dit wel kan doen, is vir verskeie redes vervreemd van die boere. Hulle sê die boere moet maar net aanneuk want hulle luister nie na rede nie. Betaal sal hulle wel vorentoe betaal en hulle luister net as hulle verliese het.
Wat ook al die rede is, die volgende is feite;
Sou daar 50 of meer bloubosluise hul lewensiklus per dag op ‘n bees voltooi, is die kans uiters skraal dat die dier enigsins 400 gram per dag in massa sal toeneem. Die toksiene wat in bloubosluise se speeksel te vinde is, verhoed dat groeiende diere 400 gram per dag in massa kan toeneem, teenoor n verwagte 780+ gram vir die weiding (+-8 kg) wat hul daagliks opneem
Die toksiene /ensieme of wat dit ook al is wat in bloubosluise se speeksel gevind word, het ‘n wesenlike inkrimpingseffek op die hoeveelheid melk wat produseer word. Dit is nie onbekende wetenskap dat dit ook die diere se vrugbaarheid, besetting, groei en ook speengewig negatief beïnvloed nie.
Geen, onvoldoende of onwetenskaplike beheer van veral bloubosluise, daag enige veldbestuurstelsel se werklike waarde uit. Dit daag selfs baie natuurlike bewaringsargumente uit.
Onvoldoende parasietbeheer sal ook die ekonomiese verwagting van kalfintervalperiodes uitdaag, omdat die geloof om net die diere te los om self aan te pas, nie ekonomiese sin maak sou mens die ekonomiese impak van bosluise of parasiete verstaan nie.
Parasiete se invloed op groei
Bloubosluise se speeksel het inhiberende eetlusdempers en sal enige dier of ras se daaglikse veronderstelde groei met ongeveer 30% verminder. Dit kan tot soveel as 50% wees as hul nie geneties daartoe geselekteer en aangepas is om in daardie habitat te presteer nie.
Die toksiene of die elemente in die speeksel van veral bloubosluise, laat ook in die dier se bloed ‘n geheue of “memory” na wat die dier se groeipotensiaal in daaglikse voeromsetting nie in volle potensiaal van die ras se groeikrag omskakel nie.
Tans is die enigste verklaring volgens my kennis, is dat die dier se groeipotensiaal bly by die groei wat dit “aangeleer” het van die agent binne die bloubosluis se speeksel, wat sy groei en eetlus aktief onderdruk en inhibeer het.
Dit maak dus glad nie sin om weidingstelsels te ontwerp en voor te staan waar praktiese wetenskaplike bosluisbeheer /parasietbeheer nie wetenskaplik binne die bioom in ag geneem en gedefinieer word nie.
Minimum tot geen parasietbeheer
Diere is wat hulle is weens die gehalte van weiding wat hul inneem. Hulle is nie universele produksiemasjiene wat ongeag die weiding waarop hulle is in groei en vrugbaarheid sal presteer nie.
Daar is min gewone weiding wat nie marginaal weiding is nie. Boonop is hierdie weiding ook nog op marginale gronde en al staan die beste gras daar, dit word maar net deur die gehalte van die grond gereflekteer. Dit definieer die bees se prestasie.
Bosluis Taxi
Wat ook al die habitat, ‘n bees wat nie dwarsdeur die jaar deurlopend 12% proteïen van goeie opneembare gehalte, gepaardgaande met die nodige mikro- en makro elemente, ander minerale, fosfaat en spoorelemente inneem nie, is ‘n bosluistaxi van formaat.
Bruinmaagwurms
Sou hierdie diere nie protein van 12% handhaaf nie, saam met die nodige minerale om die innames kwalitatief te metaboliseer nie, skep dit vir bruinmaagwurms die ideale habitat omdat bruinmaagwurms floreer in beeste met proteïenarme bloed.
Wanneer bruinmaagwurms in hul ideale habitat is, verswak dit die dier verder en bosluise takel verswakte diere eerste.
Melkproduksie
Of die moeilikheid eerste wurms of bosluise is, is ‘n ander onderwerp. Weereens word groei en prestasie en melkproduksie geïnhibeer. Hier daag u skrywe oor byvoeding my begrip uit
Wetenskaplike meetinstrumente
Die argumente wat gemaak word oor minimum of geen parasietbeheer, sonder dat daar gesonde wetenskaplike meetinstrumente in plek gestel is in daardie bepaalde habitat wat nie die ekonomiese gelykbreekpunt van daardie bewering toets nie, (van beheer of nie beheer nie) bly dit ‘n “leap of faith in the dark” en ‘n bewering wat nie gemaak moet word nie.
Natuurlike beheer
Beeste en skape is en bly “indringerdiere” in alle habitatte. Hul hoort nie in die onderskeie habitatte nie maar is daar vir die mens se onthalwe. Bosluise sal hul altyd poog om uit te haal en te beïnvloed en daarom kan parasiete van ekonomiese belang, waar hul ook al voorkom, nie geïgnoreer word op beesboerdery nie.
Bloubosluisweerstandigheid is ‘n bewys dat die beheer daarvan verkeerd aangepak word.
Dit is omdat parasietbeheer in meeste gevalle byna 100% chemies is, terwyl my werk wat hier geredelik gepubliseer word bewys dat parasietbeheer tussen 10-20% chemies kan wees en sowat 80% + natuurlike beheer.
Die investering in wetenskaplike parasietbeheer waar minimum dip en natuurlike beheer gegrond is op die lewensiklusse van die parasiete van ekonomiese belang, maak net sin.
Ekonomiese impak van bosluisbeheer
Sou beeste met matige bosluisbesmetting bestuur word, waar minimum dip of chemiese ingryping en natuurlike metodes van parasietbeheer kundig toegepas en gemeet word, kan met die nodige natuurlike byvoeding, tussen 15-40 kg aan speenkalwers se massa toegevoeg word.
Dit hang nou natuurlik af van die groeiwaardes van die dier. Dit sluit nou die besparings aan arbeid, tyd, risiko, siektes, verliese ensovoorts uit, asook dat die dier sowat 2 maande vroeër van die veld af bemark kan word. Dit sluit dus ongeveer 2 maande se waarde in weiding van gras x die hoeveelheid diere x die hoeveelheid gevreet ook uit.
Laastens
Sou daar as voorbeeld ‘n miljoen diere aangebied word vir slag en daar kan gemiddeld 20 kg per dier in vleis toegevoeg word, beteken dit 20 miljoen kg meer vleis aan die mark aangebied word teen gemiddeld R15 per kg vir die produsent.
Dit is sowat R300 meer per dier, wyl dit die produsent sowat R150- R200 vir die jaar gekos het.
In die proses is die bloubosluise op die plase wat tussen 35-46 keer per jaar gedip het, dip nou vir bloubosluise tussen 2 en 3 keer en moontlik 3- 4 keer vir multigashere soos bruinoorbosluise en bontbosluise (hartwaterbosluise).
Boonop is bloubosluise met sowat 80% op sekere plase verminder en het hul hul weerstandigheid byna in geheel verloor. Hiervoor is daar geakkrediteerde toetswaardes om dit te bewys.
Daarby is die diere se immuniteit en natuurlike weerstandigheid is opgebou, is die produsent instaat om beter seleksie te doen, is rooiwater en galsiekte is nie meer n faktor nie omdat dit as endemiese siekte korrek bestuur word.
Wetenskaplike Strategiese Geïntegreerde Parasietbeheer maak net sin. Laat ek liewer hier ophou want ek is nog nie klaar nie en dan skrywe ek net weer n nuwe boek.
Baie groete en dankie vir die geleentheid om saam te stem met u maar ook wesenlik te verskil. Waardering Dr Mentz.
Pierre van Niekerk
0126674755
0822208386
pierrevn@telkomsa.net
Kommentaar
Wilhelm
Ek sal spekuleer oor die gewig van wild. Waaroor ek nie hoef te spekuleer nie, is die impak wat dit wat ek doen op beeste het. Ek kan weerstandigheid breek, ek kan dip verminder en ek kan vleis op n dier se bemarkingsgewig sit in 'n korter tydperk
Ek is doodseker dat wild beter kan presteer as die mens iets verstaan van sy hormone, gedrag, die regte voeding en die eliminasie van verskeie stresfaktore.
Wild in hul natuurlike omgewing lewe in simbiose met parasiete van belang en is daar n balans. Die bosluis bv, sal nooit sy gashere uitroei nie, want dan roei hy homself uit. Dis maar net hoe dit is. As wild erge las van bosluise het is dit omdat die Mens hom geinhibeer het, opstres, ingehok het, ingeteel het en dan bied slim mense 'n oplossing aan in eie mixes van gif, hoendermis in 'n bottel gif.
Gesonde wild is n ander uitdaging in toegekampte areas, maar ja, ek glo dit kan, gegewe dat mens saam met die Natuur werk en sou mens dip, jy presies weet wat jy doen.
Laastens, 'n skaap/bok kan bv 2 lammers per jaar gee, 'n rooibok en springbok en vele ander wild, net 1 dalk.Die lam bemark jy al na 6 maande, 'n klein wildslam eers na n jaar of 16 maande. Ek dink hul neem die dieselfde hoeveelheid gras/weiding per dag in. Mens kan optimaal dalk 4 skaaplammers oor 2 jaar bemark teen R700 per skaap teenoor die 1 springbok/rooibok oor 16 maande teen R750 dalk. Waar is die ekonomie van skaal en omset dan?
Die somme van wild werk nie altyd nie, dis emosioneel, egoisties, narcisties en sommige mense maak van hul redenasies hulself grappig.
Die hele "Holistiese" redenasie se meetinstrumente werk nie vir my nie. Om te weet is om te meet en hulle meet nie bosluise se ekonomiese impak nie. Nie net bosluise nie, wurms, lewerslak, hartwurm, myte, luise, vlieë, muggies...iets werk nie daar nie.
groete
Pierre
Pierre
Ek vind beide jou en Dr Mentz se opinies as uiters logies en sou graag wou weet wat se toepasing dit op die wild bedryf kan he. Indien ons die groei kan verwesenlik wat jy voorstel sal ons mos die trofee en karkas gewig noemenswaardig kan verbeter gegewe dat die dier alreeds in die habitat "hoort"?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)