‘Eish’ vir Boer van die Jaar

‘n Groep landboujoernaliste het pas die nasionale Boer van die Jaar van 2009, mnr. Bernhardt du Toit, op sy plaas Langrivier, Ceres, in die Koue Bokkeveld besoek.

Só ‘n besoek is elke jaar op die agenda nadat die nasionale toekenning gedoen is. Twee vorige titelhouers, mnr. Andries (Tot) Pienaar van Mega Merino’s op Colesberg, en die eienaar van Wildeklawer-Boerdery in die Noord-Kaap, mnr. Louis de Kock, het die besoek meegemaak.

Du Toit se verhaal van hoe hy die plaas van 60 ha sowat 30 jaar gelede uitgebou het tot ‘n omvangryke boerdery van 10 000 ha, waarvan 500 ha onder besproeiing is, is merkwaardig. Hy verbou verskeie soorte sagtevrugte, groente, soos uie en aartappels en het 1 500 Merino’s en ‘n kudde Angus-beeste. Die boerdery se omset is sowat R60 miljoen per jaar.

Die welslae wat Du Toit die afgelope jare behaal het, is al geboekstaaf, onder meer in Landbouweekblad van 12 Desember 2009, maar ‘n besoeker op sy plaas beleef verskeie bakens wat opgerig is waarop hy met reg trots kan wees. Dit behels ‘n suksesvolle SEB-transaksie en die oprigting van ‘n onderdak-vrugtepakstoor van R100 miljoen. Die stoor beslaan een hektaar, waar die nuutste tegnolgie vir verpakking en koelopbergingsgeriewe is. Sowat 14 000 grootmaathouers kan in dié gebou gestoor word.

Groot SEB-transaksie

Du Toit het vroeër, in een van die grootste SEB-transkasies wat nog in die landbou beklink is, 33% van sy besigheid aan 242 werkers verkoop. Dié werkers besit nou ‘n derde van die Langrivier Boerdery. Let wel, sê hy, dit is nie ‘n derde van die grond van Langrivier nie, dit is ‘n derde aandeel in die sake-onderneming.

Om dié bemagtigingstransaksie aan die werkers te verduidelik, het kundiges altesaam 40 uur per werker bestee om die bergippe van wat aandeelhouding behels, te verduidelik, en wat die verantwoordelikheid is wat daarmee gepaard gaan.

Du Toit sê die maatskappy gaan binne die eerste jaar ‘n dividend aan die werker-aandeelhouers uitbetaal. “Ek sien nie hoe ‘n mens ‘n SEB-transaksie kan beklink en dan aan die nuwe aandeelhouers sê dat jy eers oor 15 jaar ‘n dividend kan betaal nie.

“As jou hart nie in SEB is nie, moet dit nie doen nie – dit gaan nie werk nie,” is sy raad aan medeboere.

Hy reis gereeld om navorsing te doen oor wat in produsentelande, waarmee hy meeding, gebeur, maar net so belangrik is dit vir hom om veral Europa te besoek om verbruikersake en -patrone na te vors. Vir hom is agente in die invoerlande baie belangrik.

Du Toit het ‘n interessante stokperdjie: Wanneer hy op ‘n besoek oorsee is, doen hy moeite om in daardie land se see of oseaan te swem. Net één swem is nog kort op sy kerfstok om in ál die oseane lyf te kon natmaak: Dié uitstaande swem is in die yswater van die Suidpool!

Onvergeetlike ervaring

Du Toit en sy vrou Louna het geen moeite ontsien nie om die besoek deur die span skrywers ‘n onvergeetlike ervaring te maak. Ons is na verskeie boorde geneem, waar eksperimente met verskeie kultivars gedoen word, asook die uie-aanleg en die verpakkingstoor. Ons sou voor die kwik op die verwagte 37 grade C staan, terug by die opstal wees.

Toe ons ná ‘n heerlike middagete bladskud, dink en aan daardie Klipdrift-advertensie op televisie. Dié ene waar die vriendelike boer die stadsjapie en sy vrou (teen hul sin) huis toe sleep en hul letterlik met egte boeregasvryheid oorval. Sodat dié stadsjapie, ná die ete en terwyl hy saam met die boer op die stoep ontspan, daardie woord uiter wat so beroemd geraak het: “Eish”.

Ek sê ook: Eish, dit was ‘n voorreg om op een van die voorpunte van die boerdery in Suid-Afrika te kon kuier en om met só ‘n plat-op-die-aarde maar vooruitdenkende egpaar te kon gesels. Eish!

22 Februarie 2010
 

Jou gradering: Geen Gemiddeld: 5 (2 votes)

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.