Toe gebeur dit: ʼn Sondagmiddag-braai, ʼn dosyn vriende en vriendinne, ál die nodige bestanddele, ietsie om te drink, genoeg ys, die heerlike geur van ʼn vleisie op die kole, en niemand vroetel met ʼn selfoon nie. Haas ondenkbaar!

Ons is vir ʼn heerlike kuier en Sondagmiddag-braai na vriende genooi. Die gaste ken mekaar almal en sit onder ʼn koelteboom en gesels ʼn hond uit ʼn bos uit. Die braaiers doen hul ding en ná die smullekker ete, met die koffie in aantog, sê iemand: “Dis so lekker om hier foonloos te sit.”

En dit dring tot almal deur: Elkeen van die aanwesiges besit ʼn selfoon, maar dis saam met die koelsakke, handsakke en mandjies in die portaal gelos. Sonder dat iemand dit versoek of dat dit afgespreek is.

Die gaste is almal aan die ander kant van 40, en selfs ouer, en ons gesels oor ons en ons kinders se foon-gewoontes.

“Vir ons ouer garde is dit heerlik om saam te kuier en te eet, ʼn glasie te klink, en wraggies dis heerlik om met mekaar te gesels sonder dat iemand gou ʼn selfoon uitpluk om ʼn oproep te beantwoord of om ʼn WhatsApp te lees of te stuur,” sē Jak. Almal knik instemmend, selfs dié twee of drie vroue wat normaalweg moet bontstaan met hul kinders se selfoon-boodskappe en versoeke.

Jak vertel dan hoe hy jongmense se sosiale gewoontes lees: Hulle het drie dinge wat hulle belangrik ag: Om ʼn teenwoordigheid op een of ander digitale platform te hê. Kos, soos wat ons vleisbraaigaste so geniet, is vir hulle iets anders. Hulle wil die maag vol hê, maar dalk is dit selfs net ʼn “shake”. En dan verkies hulle om sosiale kontak via hul slimfone en dies meer te kan hê. Soos “gaming”.

Jak is diep in die IT-besigheid ingegrawe en hy sien hoe die jonger geslag tegnologie benut. Soos “gaming”. Van sy jong personeel sal selfs vir ʼn naweek Gauteng toe vlieg om te gaan “gaming” doen, vertel hy.

Ja, die wêreld is tegnologies snel aan die verander en ‘n mens  moet bybly! Maar dis heerlik om die selfoon vir een middag net af te skakel en net saam met vriende te kuier.


Kommentaar

Een kommentaar op “Foonlose vleisbraai

  1. mkruger
    mkruger

    Nou weet ek hoekom ek jou nie Sondag in die hande kon kry nie.
    Hoop nie dit gaan elke Sondag gebeur nie……
    Maak soos ek.
    Gee jou foon vir jou vrou om op te pas.
    Sy geniet die gesels en jy bel net die gene terug wat jy nodig ag.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.