|
mkruger
|
Jakkals
|
scorpiondip
|
Danie C
|
|
scorpiondip
|
Danie C
|
|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 77% |
| Wind: |
Hormone in vleis is 'n omstrede onderwerp en verskeie lede van ons gespreksforum het baie hieroor te sê.
DREYER-FAMILIE, dreyerfamilie@ddcswartland.co.za, skryf:
Dr. E.C. Webb sê in "Vra vir Faffa" dat behandelde beeste 5 nanogram hormone het en grasgevoerde beeste slegs 2,5 ng. Kom ek stel dit vir julle in perspektief: Sê vir jou vrou sy moet hierdie maand twee pakkies voorbehoedpille saam drink - só verdubbel sy mos haar hormonevlak ook. Dan kyk jy of haar ginekoloog/huisarts met Webb saamstem dat dit onskadelik is.
DASSIE MULDER, djmul der@telkomsa.net, skryf:
Ek meen jy moenie die 2,5 ng en 5 ng net so beoordeel nie. En onthou dat Webb ook sê een bier bevat soveel hormone soos tien stukke beesvleis van dieselfde gewig. Wat die artikel vir my sê, is eerder dat jy vir jou vrou moet sê sy moet haar pilletjie vergruis en dan een (of as sy sou verkies, twee) stofdeeltjies neem. In albei gevalle gaan dit geen verskil maak nie. Julle gaan in elk geval meer word. Hoekom gaan vra jy nie die ginekoloog/huisarts watter invloed 5 ng op jou vrou gaan hê nie?
GIDEON STOOP, gjstoop@gmail.com, skryf:
Natuurlike vleis is nie hormoonvry nie. Een van die antwoorde in "Vra vir Faffa" stel dit duidelik dat grasgevoerde beesvleis ook hormone bevat, net minder. Ek vermoed jy onderskat die verbruiker se kennis. Ek meen verbruikers is redelik bewus van wat presies hulle wil hê, daarom die vraag daarna. Ek meen daar is 'n mark vir verskeie behoeftes en dit sal wissel na gelang van ekonomiese omstandighede.
DASSIE MULDER, djmul der@telkomsa.net, skryf:
Ek is geneig om te verskil oor die ingeligtheid. Miskien is verbruikers ten beste soos ek en jy ingelig, dus dat daardie pilletjie agter die oor 'n wesenlike verskil aan die vleis se hormoonvlakke maak. Volgens Webb verdubbel dit wel die hormoonvlakke, maar dan is dit steeds tien keer minder as wat jy in bier met dieselfde gewig sou kry. Elkeen van ons identifiseer 'n mark en probeer iets produseer vir daardie mark. Die een ou produseer vir 'n nismark, soos grasgevoerde beesvleis, en die ander vir 'n ordentlike graangevoerde T-been van 750 g. Daar is geen rede hoekom die een op die ander moet neersien nie, en nog minder om sy produk of praktyke aan 'n ander op te dwing nie.
MARAIS, katimafa@iway.na, skryf:
Jy is in die kol wanneer jy sê dat elkeen 'n mark moet identifiseer en dan daarvolgens produseer. As jy vir die EU-mark produseer, bly jy weg van hormone. As jy egter vir die voerkraal produseer, wil jy die swaarste speenkalf produseer, ongeag die hormoonvlakke. Dan gebruik jy die goed, dit maak ekonomies sin.
DREYER-FAMILIE, dreyerfa milie@ddcswartland.co.za, skryf:
Alle hormone kom in miniskule hoeveelhede voor. 'n Nanogram is 'n biljoenste van 'n gram. As 2,5 ng van 'n spesifieke hormoon genoeg is vir 'n koei, dan is 5 ng te veel, want hormone is so doeltreffend dat dit 'n eksponensiële invloed het. Dit is interessant watter neigings in state in Amerika voorkom waar rBGH baie gebruik word. Koeie ontwikkel allerlei gesondheidsprobleme en daar is vrae oor die gehalte van hul melk. Kleinboere is in dié state besig om uit te verkoop, want die hoë veeartsrekeninge breek hulle. In Amerika het 95% van die boere opgehou om die rBGH/rBST te gebruik. Daar is nog geen epidemiologiese navorsing gedoen om te bewys dat rBGH skadelik of onskadelik is nie. Daar is slegs bewyse wat deur die vervaardigers self voorgelê is. Hulle het egter belangrike, ongunstige navorsing nie aan die owerheid voorgelê nie.
DR. J. VAN WYK, janvwyk@op.up.ac.za, skryf:
Daar is geen manier hoe laboratoriumtoetse kan bewys dat ongewenste resultate ná gebruik van enige mediese of veeartsenykundige "hulpmiddel" nie by klein persentasies mense of diere kan voorkom nie. Maar elke middel word aan uiters omvangryke toetse onderwerp - so omvangryk dat medisyne algaande bykans onbetaalbaar duur raak. Neem alle entstowwe, middels, plaagdoders en insekdoders weg en kyk hoeveel boere sal oor tien jaar nog winsgewend kan boer. En moenie met die argument kom nie dat daar boere is wat glad nie ent nie en ten spyte daarvan nog goed oor die weg kom. As entstowwe (as voorbeeld) wyd gebruik word, veroorsaak dit dat die voorkoms van die betrokke siektes landwyd afneem. Dit beskerm in 'n mate ook diegene wat nie die entstowwe gebruik nie. Die antibiotika wat in vleis voorkom, is die reste van die toediening om die lewe van die diere te red. Daar is duidelike instruksies op die etikette van die middels oor onttrekkingstydperke voordat die diere vir menslike verbruik aangewend mag word. Maar dit word nie nagekom nie en die reste in die kos is die resultaat. Daar is nie een geneesmiddel op die mark wat nie ongewenste newe-effekte het nie. Op die ou end kom dit neer op 'n balans tussen die goeie en slegte eienskappe van elke middel.
DR. FRANS SAAIJMAN, saaijman@saaijmangrey.co.za, skryf:
Met betrekking tot hormone en antibiotika:
Die volgende is gevind:
DR. J. VAN WYK, janvwyk@op.up.ac.za, skryf:
Ek het dit veral teen growwe veralgemenings, soos dat dit juis hierdie of daardie groep is (hoofsaaklik wetenskaplikes en navorsers in die algemeen) wat idiote, bedrieërs of selfverheerlikers is. Daar is nie 'n beroep (selfs predikante) wat nie eerlike én oneerlike lede het nie. In geen afdeling van vervaardiging of bemarking van enige produk is daar nie diegene wat oneerlike aansprake oor hul produkte maak nie. Maar van die eerlikste mense wat ek ken, het bykans hul totale werksloopbaan in die farmaseutiese bedryf deurgebring.
Diegene wat my ken, weet dat ek oor dekades heen met mening oor baie aspekte swaarde met die medisynebedryf kruis (veral veeartsenymiddels!). Maar was dit nie vir die einste maatskappye nie, het ons nie die medisyne gehad wat so noodsaaklik vir ons daaglikse lewensgehalte en vir ons diere is nie. Ek stem saam dat geen mens die status quo moet aanvaar nie. Ek meen dit is juis op hierdie front dat na weinig navorsers en wetenskaplikes 'n vinger gewys kan word - dit is tog waaroor ons werk gaan!
My broer was 'n suksesvolle boer. Een van die hoofredes vir sy sukses was dat hy elke aanbeveling van enige "kenner" eers self vir sy situasie beoordeel het voordat hy dit toegepas het. Myns insiens is dit wat nodig is - bly oop vir nuwe gedagtes, maar verseker deur wye navraag dat dit ook vir jou prakties kan wees voordat jy dit toepas.
(Dié bydrae het oorspronklik op die gespreksforum by www.landbou.com verskyn.)
Landbouweekblad, 25 Julie 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)