Ingestuur deur Bennie Oberholster (BF) op 22 Desember, 2009 - 10:35
Hoekom help ons mekaar? Of moet ek liewer vra hoekom help ek ander mense? So ruk terug vra van my bure of ek hulle sal help gras sny en baal. Hulle ken my, hulle weet ek doen alles self, en niemand ry my trekker nie, ek self doen dit. Maar ek help mos graag en sê toe ja. Hulle is haastig om die hooi van die land af te kry so ek moet maar sprng om dit dadelik te doen. Ons kry nie klaar nie wat die lappie gras was toe so paar keer groter as wat hulle gedink/gesê het maar ek help mos graag so ek spandeer maar nog ‘n dag ekstra. Ek kry darm ‘n deel van die hooi en sou betaal word vir baaldraad gebruik. Die gaan seker maar sleg met almal so ek sal maar wag vir die geld.
So gebeur dit dat ek my eie lande moet sny en baal. Alles gaan goed, die sny masjien se lemme is geslyp, trekker is vol diesel en daar is genoeg spaar diesel, die baalmasjien is geghries, die son skyn en so ligte windjie waai. Dag een sny ek alles klaar. Dag twee na die dou droog is hark ek dat die hooi sulke mooi windrye lê. Ek begin baal, so amper halfpad en die baal masjien besluit dis nou tyd om te breek en nie net sommer net ‘n breekbout nie, nee hy besluit nou tree hy af. Gelukkig het my een buurman intussen ook ‘n baalmasjien aangeskaf en ons help mekaar mos. Ek bel hom en ja, hy sal help. Dag drie hy was te besig. Dag vier was ek nie daar nie maar hy bel my en sê dit het die hele dag liggies gereën, sonder dat daar ‘n druppel water in my reënmeter was. Die aand van dag vier reën dit. Dag 5 skyn die son en is die hooi gelukkig vroeg droog. Net voor sononder kom baal hy. Ek wil begin om die bale te laai en stoor toe te ry toe stop buurman my en bied aan om die volgende dag gou met sy werkers dit te doen. Ek sê dankie en los die bale op die land. Dag ses kom ek die middag tuis en die bale lê nog op die land en is toe nie gelaai nie. Dag sewe, ek laai toe maar self en gaan pak onder die stoor. Buurman se deel wat ek hom gee vir die hulp los ek net daar. Die aand kom reën dit hard. Dag agt, die son is al besig om te sak, my braaivleisvuurtjie brand al lekker hoog toe buurman daar aankom om gou te help. Ek sê toe my bale is klaar onder die stoor, hy kan alles wat nog op die land lê vat want dit is sy deel. Ek bedank hom beleefd vir sy hulp en gaan sit weer by die vuur.
Hoekom help ons mekaar?
Kommentaar
Terwyl dit waar is dat sekere gemeenskappe nuwelinge as "indringers", of "inkomers" beskou, is dit gelukkig nie oral die geval nie.
Werklike boere besef vroeg-vroeg dat hulle mekaar nodig het, nie net om 'n sosiale lewe in afgelee areas te verseker nie, maar ook om die vooruitgang van hulle gemeenskappe te bevorder.
Ek geniet die kommentaar van almal hierbo terdee, omdat ek dit self so eerstehands ondervind. Het self die afgelope 3 jaar 4 ouens help baal. Dit lyk vir my hier is een gemeenskaplike faktor en dit is 'n implement met die naam "baler". Vir al 4 ouens moes elk help omdat hulle balers verkoop of gebreek het. Een ou se herstelkoste was omtrent 4 keer meer as wat ek vir my baler betaal het. 2 maande terug 'n ander buurman gebaal. "n Klompie bale as deel ontvang, maar die herstelkoste aan die baler asook snyer was toe heelwat meer as die herstelkoste. My afleiding is dat ons balers, wat heel dikwels ge-adverteer word as "in goeie werkende toestand" eintlik masjinerie van bedenklike gehalte is. en dis juis met hulle waarmee ons die bure probeer help. Hulle laat jou, soos R dikwelsonel hierbo se,dikwels in vreemde tale praat en soveel te meer as ek die rekeninge vir herstelwerk ontvang. Weet enigiemand of daar enige implement is wat duurder kos om te herstel, as 'n baler? Wat ek eintlik wou se is dat ek 2 weke terug by Mnanzi navraag gedoen het oor hulle mini ronde balers wat bale baal dieselfde grootte as ons klein vierkant stampbalers. Ek het gelees dat dit betroubare balertjies is wat laag aan lopende koste is. Ongelukkig is die groot ronde balers vir my onprakteis.
Weet enigiemand dus meer van hierdie klein rondebaal balertjies, want ekself is nou lankal glad nie meer dik van die lag oor wat dit my kos aan repasies vir my klein vierkant stampbaler nie. Laat ek tog hoor of iemand kommentaar het asb. Ek help ook graag baal, maar dit lyk my of die herstelkoste my meestal aan die kort end laat trek.
Groetnis en mag 2010 vir sulke bure baie voorspoed inhou!
Ja, bure, toe ons as gesin as deeltydse boere die tannie se verwaarloosde plaas koop-was ons goed die kop gewas deur die "gevestigde" families-hoe durf ons kom indring?.Nie een help juis nie-want hul wou die plaas hê en daarom help hulle ook nie-want hulle wag dat ons tou opgooi.Ons het nuus vir hulle-ja die ouderlinge en die wat altyd met egbed wil open-wees baie versigtig vir hulle. Dit is ons gewone ouens wat die ding maak werk en nie voor in die koor wil wees nie.Dit is tog te prettig om die "geevstigdes" te sien skrum vir 'n fotosessie as daar iets op die dopr gebeur-maar daarna sal jy hul nie sien nie-nie eers welkom buurman nie....nee laat weet as jy nie die ams opkom dan wil ons jou grond koop! Ha..
So nou het ons maar goeie bure op Janbez de blog!
Moenie 'n fout maak nie ek het ander, goeie, dierbare en mense op wie mens kan vertrou ook as bure. So leer ek maar uit my foute. En 'n baalmasjien wat breek leer my bid en ook hoe om hom te herstel. Wie weet dalk moet ek eendag my buurman se baalmasjien gaan regmaak want ek weet mos nou hoe. Leer net altyd uit jou foute, nie net jou foute nie maar uit alles wat in die lewe met jou gebeur.
Nog een wat jou soek vir 'n buurman. Moet sê jy en my man sal kan saamwerk, hy is net so lief om sy bure te help met katastrofiese gevolge!! Ek bewonder jou dat jy so kalm bly met 'n baalmasjien wat breek, want 'n baalmasjien het die vermoë om selfs 'n heilige vreemde tale te laat praat. Ons het regtig wonderlike bure wat so drie maande terug 'n klein plasie langs ons kom koop het met geen kennis van boerdery. Hul appelkose was vroeer ryp as ons s'n , toe het my man en sy werkers daar gaan oes, en toe ons appelkose ryp raak, het hy weer by ons kom help. Terwyl my man na die fabriek ry, hou hy toesig en sy vrou en my kinders staan by die krat om uit te soek en die stukwerkers se kaartjies te knip. Ons glo ook aan die een hand was die ander dan kom albei skoon. Dit bewys maar net weer - dit alles lê maar in die opvoeding. Sterkte, almal kan by jou kom leer om jou naaste lief te hê. Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwejaar.
Vergeet dit. Ek het heel eerste vi Bennie as buurman gedeps.
Bennie ek soek jou vir 'n buurman.
Waar boer jy ?
Ek dink die probleem le daarin in hoe ons grootgemaak word.
Ek self stel my naaste eerste en ek is trots daarop om my woord te hou.
Dit wil my egter voorkom asof baie van ons ou boeremensies net waarde aan hulle moontlike inkomste heg - en moet hulle nie daarop probeer tereg wys nie. Dan soek jy GROOT moeilikheid.
Maar dit gaan nie orals so nie.
'n Ou vriend van my vertel my so week terug dat sy bure, wat baie groter boer as hy, hom, op hulle onkoste, kom help plant het aan sy sojas....
So voor kersfees het dit my weer hoop gegee vir ons ou nasie.
Ek dink die groot probleem le daarin dat as ons ons leiers(ouderlinge) moet kies in ons area, kies ons die "verkeerde" mense omdat ons onsself nie beskikbaar wil stel nie.
Dis nogal snaaks hoe die "verkeerde" mense altyd gretig is om verkies te word.
So begin die mense in 'n area glo dat wat hulle as reg beskou reg is want die mense wat ons aangestel het help hulle nie reg nie. - Maar dis maar net my mening.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)