Brazilië speel teen Holland, maar hy is nie voor die TV nie. Ons kry hom waar hy besig is om ´n draad te herstel. Ook nie eers geklee vir die okkasie in enige kledingstuk om sy verbintenis met sy land te toon nie, nogal geklee in ´n hemp van die Ierse Rugbyvereniging. Vra hom daarna uit en hy noem dat hy nié ´n tipiese Braziliaan is nie. Hy hou nie van sokker nie en ook nie van koffie nie, maar wel van vrouens. Hardwerkend, soos baie Braziliane, spontaan en vriendelik.
Jaerton Macédo, kry ons op sy plaas, ongeveer 20 km wes van die stad Concepción. Redelik hoog geleë, wat maak dat dit bykans rypvry is. Wat merkwaardig is, is dat hy op 70 ha 140 koeie aanhou en dat hy ´n groot gedeelte van die jaar 380 stuks vee, Brahmane, daarop het. Dít is nie ´n wolhaarstorie nie. Mooi skoon weidings. Panicum maximum gemeng met ´n verbeterde weergawe van Brachiaria brizantha. Kampe is ongeveer 9 ha groot en die bees bly 10 dae in ´n kamp, wat ´n rustyd van 70 dae gee. Reënval 1200-1500 mm goed versprei deur die jaar. Hy is al 6 jaar hier besig en het nog geen kunsmis gebruik nie. ´n Goeie minerale lek is te alle tye beskikbaar.Volgens hom is die weiding se kwaliteit besig om te verbeter, wat hy toeskryf aan die werking van die hoë konsentrasie van die mis en urine in die klein kampies.
Kalfpersentasie van 90%. Koeie word gesinchroniseer en dan geinsemineer. Ongeveer 80% raak op dié manier beset en die bulle doen dan nog 10%. Op sy woonplaas, ongeveer 2 km hiervandaan, word embrio oorplantings gedoen en ook saad getrap. ´n Volledig toegeruste laboratorium en goeie hanteringsgeriewe is daar beskikbaar.
Een van die werkers kom sê dat Brazilië verloor het, hy trek net sy skouers op en ons kuier verder. Obrigado!
Hasta la proxima
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)