Ingestuur deur alani op 3 November, 2011 - 16:18
Ek kan al dié gebeurtenis in my geestesoog sien afspeel…. Dis ‘n speletjie wat ‘n wrede wetenskaplike – soos die wat ons uit die Frankenstein rolprente ken – en een van sy makkers speel. En die wetenskaplike het so ‘n temerige stemmetjie, en ‘n skel laggie… “Kom ons krap sy wonde, kom ons krap sy wonde…. Hehehe...”
Ek was lanklaas in my lewe so verdwaas en pleinweg skaam vir reaksie wat ek op ‘n storie van my gesien het. Dit is met groot sorg wat ek vandag aandag geskenk het aan mnr. Whiskey Kgabo se hartseer storie oor hoe hy sy plaas verloor het, en hoe hy nou deur die staat ingedoen word.
Kgabo is al jare lank ‘n kommersiële boer. Hy het voor Suid-Afrika ‘n demokrasie geword het en die grondeiseproses in werking was, hard gewerk en met sy eie geld ‘n plaas gekoop. Hy het so goed gedoen dat hy later kon bekostig om nog twee plase te koop. Hy moes egter weens die einste grondeise proses sy plase en alles waarvoor hy gewerk het, opgee.
Die hartseer en seer wat Whiskey ervaar het, is rou in sy stem. “Ek wil nie eens daaraan dink nie. As ek enige iets daaroor lees, dan krap dit al die ou seer wonde weer oop. Dis so seer.”
Ek kon nie help om die telefoon effens in ‘n waas neer te sit na ons onderhoud nie. Ek is verstom oor die feit dat ‘n Regering so koud teenoor sy mense kan staan. Dat hy ongeregtigheid kan toelaat, aankarring soos hy wil en aanvaar dat ‘n burger sal stilsit en dit aanvaar as hy hom wil indoen.
Maar die ergste skok was lesers se reaksie, en nou verwys ek na lesers op Nuus24.com. Nie net sarkasme op iemand met ‘n werklike probleem se situasie nie, maar haat. Haat vir ‘n mens wat aan die leser heel moontlik niks persoonlik gedoen het nie.
‘n Ene Johan skryf: “Kgabo, hoekom huil jy - jou anc boeties wil alles he, nou is die Blankes goed genoeg om jou van raad te voorsien. Hoe steel hulle nou jou grond as hulle altyd vertel dat die Boere hul grond gesteel het. lekker in die NSA - volgende keer moet jy weer anc gaan stem.”
Johan, wat jy sê kom vir my neer op 'n wrede wetenskaplik wat sê "kom ons krap sy wonde.." Met jou wil ek nie eens in ‘n woordewisseling betrokke raak nie, want ons dink nie dieselfde oor die lewe, Suid-Afrika, alledaagse of die land se probleme nie. Ons dink nie dieselfde oor menswees nie.
Ek wil wel sê, volgende keer as jy so iets wil kwyt raak, maak seker jy het AL die feite. Met sulke opmerkings gaan ons nie ‘n Suid-Afrika bou waarop ALMAL kan trots wees nie!
Ek sê weer, ek sak my kop in skaamte…
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)