PERSVERKLARING
LIMPOPO ROOIVLEIS PRODUSENTE ORGANISASIE (LIMRPO)
DATUM: 4 MAART 2010
..........................................................................................................................................
KORRIDORSIEKTE – UITBRAAK IS ONDER BEHEER
Mnr. Japie Ellis, voorsitter van RPO Limpopo, het gesê dat dit wil voorkom asof daar twee bevestigde gevalle van die gevreesde korridorsiekte in Limpopo voorgekom het. ‘n Trop van 21 buffels is positief getoets in die Swartwater / Tolwe gebied en ook ‘n geval in die Immerpan gebied by Potgietersrus.
WAT IS KORRIDOR SIEKTE EN HOE ONTSTAAN DIT?
Korridorsiekte is 'n bosluis oorgedraagte siekte. Die bruinoorbosluis dra Theileria lawrencei oor, die protosoön wat Korridor- of Buffelsiekte veroorsaak. Die parasiet is eintlik ‘n parasiet wat hoofsaaklik op buffels voorkom maar, met bruinoorbosluisbesmetting afval en weer op beeste klim met dodelike gevolge vir die dier. Besmette buffels is gewoonlik simptoomlose draers van die siekte. Van besmette buffels kan die siekte deur 'n bosluis bekend as `n bruinoorbosluis oordra na onbesmette buffels of beeste. Omdat buffels kudde diere is en baie noue kontak met mekaar het, sal daar baie gou verspreiding na al die ander buffels in 'n spesifieke populasie wees indien een van die buffels in die kudde besmet raak en daar bruinoorbosluise in die omgewing is. Wanneer die siekte na beeste oorgedra word is die gevolge rampspoedig aangesien meer as 80% van die aangetaste diere binne 'n periode van 'n maand na aantasting kan vrek.
Die bruinoorbosluis is 'n driegasheerbosluis. Sy lewenssiklus begin by 'n eiertjie wat gelê word deur 'n wyfie nadat sy 'n bloedmaal van 'n gasheer geneem het. Die eerste stadium van die bosluis wat uit die eier uitbroei is 'n larfie. Dit is 'n sespotige bosluismodelletjie met 'n harde doppie wat kleiner as 'n speldekoppie is. Vir oorlewing moet hy 'n gasheer kry. Vir dié doel klim hy teen grashalmpies op waar hy sal sit totdat daar 'n gasheer verbyloop. Hy kan slegs 'n klein hoeveelheid bloed inneem en nadat hy dit gedoen het, los hy waar hy vasgebyt het en val af. Hy vervel dan en kom uit sy doppie as 'n nimf, synde 'n bietjie groter bosluismodel. Die nimf kan tot vyf maande lank oorleef in die veld en gaan deur dieselfde proses as die larf. Nadat hy vervel het verskyn hy as 'n volwasse vierpotige bosluis wat óf `n mannetjie óf `n wyfie kan wees. Ook die volwasse bruinoorbosluis kan vir etlike maande in die veld oorleef. Oorlewing van die spesie vereis nou nie alleen 'n maaltyd nie maar ook die vind van 'n maat. In die geval van die volwasse bruinoorbosluis is die voorkeur bytplek die ore. Dit is waar die mannetjie die wyfie sal vind en waar hulle sal kopuleer nadat albei vasgebyt het. Hulle kan vir 'n week of wat op 'n gasheer rondloop voordat hulle vasbyt en kan afgeskuur word of afval omrede hulle nie van die gasheer hou nie. Eers nadat twee bosluise gekopuleer het, sal die wyfie haarself vol suig. Die mannetjie daarenteen suig homself nooit vol nie. Hy soek wyfies en is meer beweeglik. Hy kan tot drie maande op `n buffel rondloop.
Besmetting word nie van die wyfiebosluis na haar nageslag oorgedra nie met die gevolg dat die larf nie korridorsiekte kan oordra nie. Sou so 'n larf egter aan 'n besmette buffel suig kan hy besmet raak wat tot gevolg het dat hy in sy nuwe gedaante van nimf wel die besmetting kan oordra. Omdat 'n nimf klein is en klein volumes bloed inneem, is hulle oordragpotensiaal kleiner as dié van die volwasse bosluis. Daar word beweer dat 'n besmette nimf of volwasse bosluis sy besmetting verloor wanneer hy aan 'n onbesmette dier suig. Dit is egter nog nie wetenskaplik vasgestel of die mannetjie moontlik sy besmetting langer behou vanweë die feit dat hy klein hoeveelhede bloed per geleentheid inneem nie.
Ingevolge regulasies uitgevaardig ingevolge die Wet op Dieresiektes 35 van 1984 mag buffels slegs verskuif word indien gemagtig deur 'n permit wat uitgereik deur die verantwoordelike staatsveearts en dan slegs van en na grond wat ingevolge die regulasies geregistreer is by die Direkteur van die Direktoraat van Dieregesondheid van die Departement van Landbou. Grond word geregistreer vir die aanhouding van buffels ooreenkomstig hulle siektestatus d.w.s. korridorsiektevrye buffels word aangehou op grond wat as korridorsiektevry geregistreer is.
Daar is huidig GEEN teenmiddel teen die siekte wanneer dit in beeste voorkom nie. Dr Fourie het aangedui dat die spesifieke plaas onder kwarantyn is en dat die buffels in ‘n boma gehou word. Streng bosluis beheer word toegepas en beesboere kan gerus wees dat die probleem onder beheer is. Die oplossing is dat die buffels na ‘n korridor gebied (laeveld of KZN) verskuif moet word. Die probleem is dat die markwaarde van die diere kan val van soveel as R 300 000.00 per buffel tot so laag as R 30 000.00.
SWARTWATER / TOLWE
Die Staatsveearts in Ellisras, Dr Fourie (082 881 7268) het aangedui dat buffels in die Tolwe / Swartwater gebied positief getoets was vir die gevreesde korridorsiekte. Buffels vrek nie self aan die siekte nie, maar is draers daarvan.
IMMERPAN BUFFELS POSITIEF GETOETS
Die Staatsveearts op Potgietersrus het aangedui dat daar buffels in die Immerpan gebied is wat wel positief getoets is vir korridorsiekte. Die eienaar van die buffels is versoek om die buffels so gou as moontlik te verwyder. Die plaas is ook onder kwarantyn en die buffels word in ‘n kamp aangehou. Alle moontlike aksies is geneem om seker te maak dat die siekte nie na beeste versprei nie. Maar die kanse is tog daar dat die buffels kan uitbreek en beeste besmet.
GEEN GEVAAR VIR BEESBOERE
Beide staatsveeartse het aangedui dat daar huidig min gevaar bestaan dat die siekte beeste kan besmet aangesien alle moontlike aksies in werking gestel is om oordrag te voorkom. Die veeartseny departement het ‘n baie goeie rekord in die bekamping van die verspreiding van die siekte aangesien daar ‘n hele paar bevestigde gevalle van korridorsiekte by buffels in die provinsie was, maar geen beeste is besmet nie. Die streng maatreëls is doeltreffend maar dit bly ‘n prioriteit om Limpopo as ‘n korridor vrye gebied te bewaar.
Mnr. Ellis het sy dank teenoor die departement uitgespreek vir die inligting en het die boere wat betrokke is versoek om hul samewerking aan die veeartse te gee.
MNR. JAPIE ELLIS
VOORSITTER: LIMRPO
C:\Documents and Settings\User1\My Documents\Backups\RPO\Algemeen\2010\Persverklaring Korridorsiekte 04-03-2010.doc
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)