|
mkruger
|
Jakkals
|
scorpiondip
|
Danie C
|
|
scorpiondip
|
Danie C
|
|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 60% |
| Wind: |
Die aksiefoto’s van die Saalperd-kampioene op Robertson (LBW, 29 Januarie), het my laat terugdink aan jare gelede, toe die nasionale Saalperd-kampioenskap saam met die Sentrale Skou (nou die Bloem-skou) in die Rosestad aangebied is.
Die klompie verslaggewers wat dié 10 dae lange skou vir hul onderskeie publikasies moes dek, moes baie tyd daar opoffer en reg ingestel wees. Jy moes soms rondskarrel tussen nasionale kampioenskappe wat op verskillende plekke gehou is om die regte vertoner, met sy kampioen-dier, op die regte plek te kry vir ‘n foto. In daardie dae het die Sentrale Skou heelwat nasionale kampioenskappe aangebied.
Tussen die foto-nemery het die verslaggewers gewoonlik terugbeweeg na die restaurant onder die hoofpawiljoen, waar lafenis (in die vorm van ‘n kroeg) beskikbaar was. Soms het dit maar gelol, veral as vriende, boere en ander bekendes daar ingestap het en nóg ‘n ronde gekoop het.
Die Saalperd-beoordeling was gewoonlik oor vier dae (Woensdag tot Saterdag), en van die beoordelings is saans gedoen. Dan moes jy jou storie ken om in die hoofarena tussen al die perde die regte foto te kry. Die aksie-foto’s moes klaar geneem wees voordat die beoordelaars die wenners aanwys. Dus moes die fotograwe maar soveel as moontlik foto’s tydens die beoordeling neem.
Een van my kollegas, wat pragtige foto’s kon neem, was vrekbang vir een van die Saalperd-manne van die Paarl, wat vandag steeds afrig. Bewaar jou as jy in sy pad beland het, jy moes maar vinnig padgee as hy op ‘n trippel of wat ook al aankom!
Maar daar was ook die rustiger tye, nadat die Saalperde reeds huis toe is. Op so ‘n dag, tydens ‘n lekker kuiertjie in die restaurant, besluit ‘n klompie van die verslaggewers hulle moet darem ook poseer vir foto’s, aangesien hulle die heel tyd ander mense met hul diere moet kiek.
‘n Aantal rosette is by die skoukantoor geleen en die spannetjie is na die agterkant van die beesstalle toe. Die plan was dat vier van die manne met van die rosette sou poseer, so agter mekaar in ‘n ry, nes die Merino’s se kampioenram met drie ooie (al die skape kyk na voor).
Teen daardie tyd het elk van die kêrels reeds ‘n ietsie en eish of meer in gehad. Die klere waai toe daar agter die stal en daar staan die viertal, op hande en knieë, agter mekaar, nes die spog-skape gewoonlik ingeryg word. Die rosette word sommer hier in die nek of teen die rug vasgemaak. Die fotograaf moes die vier pote mooi kon sien, en ook die ander dele van die anatomie . . .
Die fotograaf het sy knieë gebuig en ‘n paar foto’s geneem. Mense wat by die oostelike hek van die skouterrein ingekom het, het als met oop monde gade geslaan.
Ná die fotosessie het die spannetjie hulself weer netjies aangetrek en almal is terug restaurant toe vir ‘n knertsie en reg vir die volgende fotosessie, maar dié keer weer van kampioendiere.
En die foto’s? Niemand het dit ooit gesien nie. Dalk het die fotograaf nie ‘n film in die kamera gehad nie, niemand kon vasstel nie. Dalk maar beter so . . .
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Great!!!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)