Ingestuur deur alani op 24 Desember, 2010 - 09:28
Ek is een van die gelukkige joernaliste wat tans op verlof kan wees en by my ouers in die Oos-Vrystaat kan kuier. My ma, wat altyd so getrou is om my oor die plaaslike nuus in die dorp ingelig te hou, het vir my die verskeie plaaslike koerante met berigte oor die gruwelike Potgietergesin-moorde naby Lindley gebêre.
So lees ek onlangs ‘n stuk wat een van die plaaslike joernaliste oor sy ervaring op dié moordtoneel geskryf het. Ek lees oor hoe hy emosioneel wou raak op die toneel en hoe afgryslik alles vir hom was. Dit lees vir my soos ‘n hoërskool opstel, en ek het geen empatie nie.
En voor ek myself kon keer, merk ek op – “Die man gaan ‘n aansienlike sterkter lewer moet ontwikkel om as ‘n joernalis te oorleef… Toughen up, old boy, toughen up. Grow a pair! Hierdie was dalk maar jou eerste en as jy elke keer in trane wil uitbars, gaan jy dit nie maak nie. Kom tog!”
Met groot oë kyk my ma my aan na die uitbarsting, maar ek verstaan nie eintlik waaroor sy geskok is nie. Dit gebeur so gereeld dat jy oor wrede moorde verslag moet doen, en ‘n mens kan jou nie elke een aantrek nie – jy sal gek word. ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n dag na die Potgieters om die lewe gebring is, is ‘n boervrou van Noordwes met ‘n hammer doodgeslaan. Jy hanteer die dinge mos maar net…
Kort daarna staan ek in die stort en met wit bolle sjampooskuim op my kop besef ek – ek het tot op ‘n vlak van onmenslikheid verhard oor dié tema. Dit is mos menslik om eerder empatie en simpatie met persone in so ‘n situasie te hê, eerder as om onmiddellik te verhard en jou grense op te ruk sodat jy nie emosies ervaar nie.
So maak ek onder die stortkraan ‘n Kersfeeswens – dat moorde, veral plaasmoorde (en plaasaanvalle), so sal afneem dat dit nie meer ‘n gegewe sal wees nie… Dat dit nie normaal sal wees om jou plaashuis soos ‘n tronk met heinings en kragdrade te omring en meer wapens as potplante in jou plaashuis te hê nie. Dat die veiligheid op ‘n plaas nie sal bepaal of ‘n mens daar besoek wil aflê of nie…
Én met ‘n bietjie selfsug daarby, wens ek dat dié voorvalle so seldsaam sal voorkom dat ek geskok sal wees elke keer as ek daaroor verslag moet doen, en die nodige menslike empatie en simpatie sal voel.
Mag almal ‘n geseënde, vredevolle en veilige Kerstyd ervaar!!
Kommentaar
Dit is voorwaar vir my verblydend om te lees dat daar in vandag se lewe 'n manlike joernalis is wat nog só in voeling is met sy emosies en gevoelens, dat hy emosioneel raak oor 'n afgryslike moordtoneel - "give us more of those, please!"
Mag die Here sy hande van koester om julle almal hou, julle bewaar en bowe al julle behou as mense met harte en siele. Julle is gekies deur onse Here. Hy glo dat julle sterk genoeg is vir dit wat voorle. Geseende Nuwe Jaar!
Daar is 'n storie oor indiane wat gaanse jag. Dis wilde ganse wat op die rivier sit, maar die gaanse is baie wild en die indiane kan naby kom om die gaanse te vang nie..... Die Indiane vat toe pampoene, daan revier op en gooi die pampoene in die revier.Toe die pampoene in die water naby die gaanse aangedryf kom skrik die gaase en vlieg weg. So doen die indiane toe elke dag die oefening. met tyd het die gaanse nie meer geskrik vir die pampoene in die water nie, en hulle nie eers gesteur aan die pampoene. Die Indiane vat toe 'n pampeon hol hom uit en trek hom toe oor hulle koppe, swem toe tot by die gaanse gryp toe 'n gaans aan die pote en trek hom onder die water..... Moral of the story.... ons word so gewoond gemaak aan al hierdie vreeslike goed dit pla ons nie meer nie tot dot ons versuip. So word ons gewoond gemaak aan alles sonde in ons lewes totdat dit nie meer saak maak nie.Dis 'n plot van satan om ons as kinders vandie Here gewwond te maak aan alles wat verkeerd is totdat ons versuip....
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)