Op 'n plaas is altyd iets wat breek en wat stukkend is. Elke dag smeek ek vir ouboet om asseblief tog net vir my iets te sweis wat alweer gebreek het. Dan is dit die hek en dan 'n graaf. Die ou werk self ook maar hard en kom saans watter tyd terug. As dit dringend is moet ek maar laai en in die dorp laat sweis. Wat 'n gesukkel.
Toe breek my verjaarsdag aan en kry ek die beste geskenk. 'n Inverter wat so lig is dat ek dit oral met gemak kan ronddra en 'n Sweishoed wat as jy begin sweis gaan die skerm sommer self donker. Die ding stel ook net so maklik. 'n Paar dik handskoene en 'n hamertjie met 'n skerp punt rond alles af.
Nou moet ek vinnig lesse begin neem. Ek is doodbang vir elekrtisiteit. Ek is net so bang vir brand en vlamme. Ouboet begin geduldig verduidelik en het 'n stuk staal waarop ek moet begin oefen. Handskoene aan en hoed op en op die punte van my tone en sover weg as moontlik van die gevaar probeer ek my eerste sweis sweis. Toe die vlam egter begin skrik ek so groot dat ek sommer als weggooi en doer staan skoon aant bewe. Dit het baie baie moed en baie oefening gevat voordat ek die eerste keer twee goed aanmekaar kon kry. Toe ouboet egter toets of dit sal hou breek dit sommer uitmekaar. Ek was skoon moedeloos met myself. Aanhouer wen en vandag het ek al al my hekkies vir die nuwe skaapkraal self gemaak. Ek het ook al 28 staanders vir my "draglines" self gemaak. Al die ou hekke is heelgemaak en versterk en weer oorgeverf. Geen yster gaan meer skrootwerf toe nie. Die lekkerste daarvan is dat ek dit nou so geniet om met die ysters iets te maak. En dat ek niemand hoef te smeek om asseblief tog vir my iets te sweis nie.
Ek het ook 'n hele paar littekens bygekry. 'n S brandmerk op my arm en 'n paar kolletjies op my voete. Hou aan om sandale te dra terwyl ek sweis want dit is mos warm. Dan het ek ook geleer om goed te dans as die kooltjies in jou sandale val en ook 'n heel nuwe woordeskat. Ek is nie meer bang vir warm goed en vonke nie en skrik my nie dood as die sweisstafie vassit nie. En die belangrikste is dat ek nie meer voelpoef sweis nie maar dit reg en sterk doen. Dankie my kinders.
Kommentaar
Goed man wys jou almal kan as hulle net volhard
Ek het nou net hier iewers in die forums gelees van greedskap wat mens sommer nou oor die internet kan bestel.www.boman.co.za. Ek het nog nie by hulle bestel nie ,maar dit lyk beslis belowend.
Ai, wys jou net, ons vrouens skrik vir niks!!Ek het nog nooit gesweis nie, het 'n man wat alles kan doen, maar as ek weer so lank moet wag vir 'n rak - volg ek jou raad. Geniet jou nuwe hobby! Ronel - Wes-Kaap
Pragtige gebaar van die kinders. Hul het seker jou frustrasie agter gekom. Sterkte Jakkals
Haha, dalk moet ek vir jou ouboet kom kuier. Ek is 'n vrou van 40 en is nog vol planne, maar met manlief wat werk is daar nie tyd om my idees in 'n werklikheid te verander nie!!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)