
Die eerste vraag is soos gewoonlik, hoe hanteer julle die hitte en humiditeit, na Europa se koue? Laggend, dit is 100 keer beter as die koue. Ons geniet die son, wat heeltemal gratis is. Toe ons uit Frankfurt weg is, was dit -8º en julle weet mos wat het die laaste paar dae gebeur. Kersfees, weg van die kinders en kleinkinders? Hulle is naby ons en ons sien hulle gereeld. Hulle kan maak wat hulle wil, geen toutrekkery tussen skoonfamilie en ons nie. Rustig.
Otto en Klara, woon sedert 1977 naby Trossingen in Wes-Duitsland, is hier by ons vir hulle jaarlikse migrasie van 3 maande om van die Europese koue te ontkom . Hulle het ´n veelbewoë geskiedenis. ´n Geskiedenis waarvan ons glad nie bewus is nie. Hulle praat van landstreke wat vir ons vreemd is. In die jaar 1808 het keiser Alexander I, van Rusland, Duitsers, Hollan ders en Franse genooi om te vestig in die Oekraiëne. Tussen Dnepr en die Roemeense grens, was daar maar 160 000 mense. Dié mense het hulle hoofsaaklik volgens geloof gevestig en was daar 1 Evangeliese, 1 Katolieke en 2 gemengde gebiede waar hulle gekonsentreer het. Aanvanklik het dit baie goed met hulle gegaan, maar na die Russiese revolusie het hulle probleme begin en het die Russe hulle begin onderdruk. Met die sensus van 1913 was daar 2,6 miljoen Duitsers en na die oorlog was daar slegs 1, 480 000 en na die 2e Wêreldoorlog net 1, 200 000.
Otto, gebore in 1940 te Klein Neudorf en Klara ´n jaar of wat later te Blumenthal in die Oekraiëne. Dat hulle wel bymekaar uitgekom het, was ´n wonder. Gedurende die oorlog is die Duitse vrouens en kinders na die Noord- Oeral gestuur en het baie families nie die voorreg gehad om ooit weer bymekaar uit te kom nie. Otto, ´n passer en draaier, was in diens van die Russiese staat, dus gestuur waaheen hulle wou. Hulle seun is in Kazakstan gebore, hul dogter in Kyrgzystan, 150 km van die Chinese grens. Vra vir hulle het julle heimwee na enige plek waar julle was, antwoord Klara, ons was nooit lank genoeg op ´n plek om daarna heimwee te hê nie. Oekraiëne, Noord-Rusland, Kazakstan en Kyrgzystan. 21 jaar nadat hulle toestemming gevra het om Rusland te verlaat, kon hulle hul uiteindelik in 1977 in Duitsland vestig.
Dalk het daar ´n tikkie van die vrees van die Russiese onderdrukking oorgebly. Vra Otto my, moenie ons name noem nie asseblief. Interessante en deernisvolle mense, wat ten spyte van moeilike tye, die humor in die lewe raaksien en dit geniet.
Hasta la proxima
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)