Presisie Landbou is nou dié ding. Vir my klink Akkurate Landbou beter. Dít is die gebruik van rekenaars en satelliete om die prosesse van plant, bespuiting en oes, makliker, meer akkuraat en outomaties te maak. Natuurlik word dit in ander afdelings van die landbou ook gebruik.
Onthou ´n afbeelding van ´n robot in boerdery wat ek donkiejare gelede in een of ander tydskrif gesien het. ´n Kolossale masjien, kabels en drade oor die land. Vandag is dít nou so, maar behalwe ´n monitor of wat, piep klein sensors, ´n paar kassies, ´n GPS en dun kabeltjies op die masjien, niks snaaks of indrukwekkend te sien nie.
Met dié dat daar omtrent nie meer geploeg word nie, word die hulpmiddels veral gebruik op planters en kan presies gesê word hoeveel saad per hektaar geplaas word. Elke plantereenheid word gemonitor en so ook die kunsmis toedieners. Met behulp van die GPS wat gekoppel is aan die stuur word voorkom dat oorvleueling plaasvind en die bestuurder is eintlik maar net daar om alles te kontroleer. Die oppervlak geplant, is ook dadelik beskikbaar en wat die diesel verbruik was.
Dieselfde geld vir spuittoerusting en stropers. By spuittoerusting word bepaal hoeveel gespuit word en maak die apparaat outomatiese verstellings aan die spoed en/of hoeveelheid gespuit sodat daar net die regte hoeveelheid van die chemiese middels gespuit word en ook geen dele van die land dubbel gespuit of oorgeslaan word nie. By stropers kan onmiddelik bepaal word wat die opbrengs is en as daar verskille in ´n land is, kan dit op kaart bepaal word en kan die nodige regstellings gedoen word.
Landbou raak meer ingewikkeld en veeleisend, om meer effektief en produktief te wees, sal hierdie hulpmiddels al meer gebruik word. Gee my maar ´n bees, vorentoe dalk net ´n mikroskyfie agter die oor, baie eenvoudiger.
Hasta la proxima
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)