Rooiwater in Vrede

Agtergrond

Sowat 2 maande gelede in ‘n gesprek met Prof Horak, noem hy aan my dat bloubosluise (Rhipicephalus microplus) in plekke gekry is, waar hulle nog nooit van te vore gekry is nie. In die woestyn saam met Bontpootbosluise en aan die voet van die Drakensberge, plekke waar dit sneeu en ysig koud is.

Klaarblyklik is die gesprek verder gevoer met Australiaanse wetenskaplikes en die skud ook kop oor die oorlewingsvermoë van die spesie bloubosluise.  Ek is onseker watter studies hieroor gedoen word.

Prof Horak se laaste opmerking was dat bosluise baie slimmer is as ons mense. In die week kry ek ‘n epos van Nandi Wessels.

 

Goeie dag Pierre

Ek is Nandi Wessels van Roadside Vrede. Ek het u hulp nodig!

 

Ek het nou my eerste koei verloor aan rooiwater(dragtig 8mnd).  Ek het nie 'n spesefieke ras nie sommer net vleisbeeste. Boer maar nou 4 1/2 jaar met my beeste, het net 'n 100 en het in die paar jaar  nog net 2 keer my beeste gedip met 'n “pour-on”.

 

Hoe maak ek nou? Kan u my help? Die veearts het gesê ek moet onmiddelik almal skoon maak van bosluise? Doen ek dit??? En as ek dit doen met wat doen ek dit?? Sal u hulp opreg waardeer.

 

Baie dankie

Nandi Wessels

0783499553

 

Vrede: Bovelder Beeste

Ek het vroeër die jaar die voorreg gehad om in Vrede die Bovelder studiegroep toe te spreek en daarna ook Roadside Boerevereeniging. Ek verstaan dat die mense nie rerig bosluisprobleme daar het nie. Iemand het genoem dat naas sneeu, die plek se koue iewers by minus 10 en 15 kan draai.

 

Hoe dit ook al sy, dis te koud vir my en ook vir baie ander bosluise.  Ek skrywe vir haar toe hierdie terug.

 

Nandi

Dit is kommerwekkend dat jy rooiwater het in ‘n baie koue gebied het soos by julle in Vrede. Iets rym soos in glad nie want die meeste boere van daardie omgewing beweer hulle het nie bosluise en of bosluisprobleme nie. Dis te koud.

 

1.    Rooiwater word deur beide spesies bloubosluise oorgedra, nl. Rhipicephalus decoloratus en Rhipicephalus microplus.

2.    Die R. decoloratus spesie kan net Afrika rooiwater oordra

3.    Die R. Microplus spesie kan beide die Afrika en Europese rooiwater oordra en die Europese rooiwater is die mees gevaarlikste van die twee.

4.    Dit is waarom ons die bosluise oes en aanstuur na die Universiteit toe, dit daar onafhanklik laat identifiseer sodat ons weet met watter “vyand” ons hier te doen het.

 

Die volgende is belangrik om te onthou van rooiwater. As jy een bees in jou kudde het, vanwaar jy hom ook al ingekoop het en hy het herstel van rooiwater of, is as kalf gebyt deur ‘n bosluis wat rooiwater aan die dier oorgedra het, is hierdie dier dalk lewenslank ‘n reservoir van rooiwater.

 

Dit beteken;

1.    Dat die bosluise wat op die dier voed, besmet word deur die bees en omdat dit n eengasheerbosluis is, die rooiwaterorganisme in haar eiers oordra na n nuwe geslag bosluise.

2.    As hierdie bosluise dan op diere voed wat nie rooiwaterweerstandig is nie, word die rooiwaterorganisme oorgedra na hulle toe en hulle vrek tussen 18-21 dae daarna.

3.    Die kalwers is hul eerste 6 -9 maande, beleef ‘n nie-definieerbare tydperk. Sou hulle deur so bosluis gebyt word wat met die organisme besmet is, kan hulle natuurlik weerstandigheid selekteer teen die organisme, maar dit is ook nie altyd gewaarborg nie.

 

Laastens, die punt is, jy het in jou kudde dalk diere wat rooiwater en moontlik galsiekweerstandig is. Jy sal nie weet watter diere dit is nie. Hulle is reservoirs vir baie lank en sal die bloubosluise wat op jou plaas voorkom, dus met die organismes besmet wat dit dan aan nie-weerstandige diere gaan oordra.

 

Raad: Hou al jou diere nou daagliks gedurig dop vir lusteloosheid, koors, nie vreet, uriene ens en as jy vermoed, moenie die dier aanjaag nie, blok dit onmiddellik. Vra jou veearts wat jy kan gebruik en as jy nie het nie, kontak my onmiddellik sodat ek vir jou produk kan kry.

 

Ek het gister 'n bykomende oproep gekry en iewers op my landlyn nog ‘n boodskap vanuit die Vrede omgewing. Rooiwater. Ek sal as ek kan die inligting ook later plaas.

 

Die probleem is egter, die omgewing se beeste ken nie die siekte nie. ‘n Rooiwateruitbraak gaan baie verliese veroorsaak. Beeste wat vanuit die gebied kom en in gebiede geplaas word waar rooiwater en galsiekte endemies is vrek en word net met kundige beplanning deurgehaal.

 

Laastens, diere wat uit endemiese rooiwater en galsiekgebiede uitkom en in daardie omgewing losgelaat word, kan rooiwaterweerstandig wees en dus as rooiwaterreservoir optree met besmetting van bloubosluise.

 

Keer kêrels keer!!!

Ek hoop bogenoemde skrywe help so bietjie in die beplanning en denke en in voorkomende beplanning en optrede.

 

Pierre van Niekerk

0126674755

0822208386

pierrevn@telkomsa.net

 

 

Jou gradering: Geen Gemiddeld: 4 (1 vote)

Kommentaar

scorpiondip

Die probleem Andries, is dat daar glad nie enige nuwe molukule op die horison is nie. Wat jy doen pas almal wat produkte verkoop soos n handskoen.

groete

Pierre

Andries Cilliers 

Pierre

Ek het 'n fout gemaak. Ek gebruik Ivomec Gold(met die 75dae nawerking)

Ek gebruik nie generiese produkte nie, so hopelik as die bosluise eendag weerstandbiedig raak sal die maatskappye wat ek so ruimlik ondersteun alreeds 'n nuwe produk ontwikkel het wat dan die weerstandbiedige bosluis sal dood.

Die eensmalige verlies van vee (13 koeie in my geval) het gemaak dat ek nie weer gaan kanse vat en diere probeer "natuurlike weerstand" opbou teen rooiwater nie

Groete

scorpiondip

Hallo Andries.

Mag ek vriendelik vra, ter wille van die gedagtes wat by produsente heers en dit wat aan hulle vertel word, die volgende aan jou vra, hopenlik ook ter wille van die ander lesers se gedagtes wat glo soos jy en hopelik sal deelneem aan die gesprek, die volgende?

1. Dink jy nie dat sou die diere so bestuur het/ent/selekteer dat hul weerstandig was teen rooiwater en galsiek dat dit n beter opsie sou wees nie?

Dink jy nie dat bloubosluise weerstandig kan raak teen die langdurige gebruik van Ivermektiene nie en, nie net hulle nie, ook al die ander interne parasiete wat ook daarteen beheer word? Sal bly wees as jy jou gedagtes sal deel en dan laastens. twee vrae ng asseblief

Is jou vrees vir rooiwater en galsiek jou bewegingsrede vir jou parasietplan? Watter impak het bloubosluise (in die geval) op vleis en melkproduksie en wat van multigasheerbosluise wat nie deur Ivermektiene beheer word nie?

Baie dankie dat jy n leersame stelling plaas.

Pierre

Andries Cilliers 

Nandi

Jy is baie gelukkig om nou eers met rooiwater te doen te kry. Hier by ons in Cornelia (ongeveer 50km van julle af) sukkel ons al jare met die probleem. Ons het een jaar 13 koeie verloor en van toe af vat ek nie meer kanse nie. Ek behandel die beeste 2 keer met Ivomec Super. Dit gee volgens die etiket 'n 75dae nawerking. Een behandeling aan die begin vd somer bv November en dan weer in middel Januarie. Ek blok dan die beeste met Veriben middel Februarie. Ek het ook 'n pylgeweer gekoop waarmee ek die beeste wat dalk siek raak met Forray 65 spuit. Dis belangrik om nie die beeste aan te jaag nie, want hy slaan sommer dood neer tewyl jy hom nog jaag.

Vandat ek bogenoemde praktyke toegepas het, het ek nog nie weer enige diere verloor nie. Dit is duur, maar beslis goedkoper as daai 13 koeie wat ek die een jaar verloor het.

My een buurman by Robertsdrift het 25 verse hierdie jaar verloor en hier by Cornelia het 'n ander buurman meer as 20 koeie verloor.

Jy kan my gerus bel. 0828765382.
Groete vir Kerneels

Sillas

scorpiondip

Baie dankie vir jou kommentaar. MK. Ek gaan jou so antwoord. Sou jy eendag n lesing van Prof Horak bywoon, sal jy 2 dinge hoor. Ken jou plaas, ken jou parasiet en 2), die Biologie is nie konstante nie, maar 'n veranderlike en soos ek geskrywe het en Prof woordeliks aangehaal het, "Bosluise is baie slimmer as mense"

Ek het 2 opmerkinge; 1)Die issue in my beskeie mening moet nooit gaan oor rooiwater en of galsiekte nie, as dit nog nie daar is nie, gaan dit daar kom, dit blyk dus n kwessie van tyd met die inkoop van wild en bees en ander diere elders wat wel draers van die siekte gaan wees. Die faktor kan dus met inenting uitbestuur word. Bloubosluise se patogene in hul speeksel wat vleisgroei en voederselopname inhibeer, (tuseen 15-30kg) per speenkalf se koste is die probleem wat verstaan moet word.

Jy noem dat jy elke 4 weke met 'n "pour on" gedip het. Die vraag is hoekom en vir watter bosluise.

Kom ek verduidelik jou my ervaring. 'n Produk soos Deadline was nie in n Koop soos Humansdorp, Alexandria, in Natal, (waar Hluhluwe en die ander ook al koop), dieselfde met Naboomspruit beskikbaar nie omdat dit nie verkoop nie en omdat die produsente van mening is dit werk nie. Dis n ander debat want die gifmaatskappye beskerm hul Kooperasierekening met die dood want die arme verteenwoordigers het nie antwoorde op weerstandigheid vir produsente nie.

Hierdie boere het gemiddeld 40-46 keer per jaar gedip en hulle weeerstandigheidsprofiele wys byna 100% weerstandig.

Van die ouens dip nou 3 -5 keer n jaar in totaal vir bloubosluise en tot 50 dae uitmekaar in hoogsomer vir multigashere, soos bruinoorbosluise met 'n produk wat "nie werk nie". Die adresse en nommer en skrywe is hier gepubliseer. Skakel gerus.

Wat probeer ek in kort vir jou sê in Prof Horak se woorde, "Ken jou parasiet, ken jou plaas". Dit gaan nie oor die parasiet nie, dit gaan oor hoe jy die inligting op jou plaas intrepeteer en bestuur in terme van die klimaat, die parasiete wat van ekonomiese belang is se lewenssiklus, die middels wat jy strategies en voorkomend gebruik om hul lewenssiklus te ontwrig en, die inligting hoe jy dit bestuur, die seleksie van genetika om diere wat parasietweerstandig is selekteer en die opbou van natuurlike weerstandigheid/immuuniteit om die parasiete self te weerstaan.

Jy praat van die inspuitbare groep wat makrolaktone is. Hul sal net op bloubosluise 'n impak he en 'n ongeregistreerde mate op multigashere. Onthou ook net dat die groep waarvan jy praat op interne parasiete nie eierdodend is nie, maar wel die volwasse parasiet bv. (nematodes, breed gestel) se ensieme agter die kaak aanval wat veroorsaak dat die parasiet se energievlakke daal, hy sy houvas los en dan uitgeskei in die veld word, maar die eiers is 21 dae later in ideale toestande fris en vars in L3 stadia opgeneem word. Die spesifieke produk mag dalk nie vir trematodes werk nie, want lewerslak bv. het n ander werking by sy parasitering. Laastens, bruinmaagwurms, sou die bees voldoende 12% goeie opneembare proteien inneem, pas dit die bruinmaagwurm glad nie omdat hy van arm bloedproteiene hou en daarin floreer, maar in proteienryke bloed onderdruk word.

Dus is hier baie stof tot bestuursnadenke in die gebruik van jou makrolaktone in die Ivermektiene groep. Weereens in Prof Horak se woorde, "ken jou plaas, ken jou parasiet"

Al wat ek sê opsommend is dit, 80% van die boer se parasietbestuur moet natuurlike bestuur gegrond wees. Chemie moet minder as 'n 20% rol speel. Dink aan die tyd, arbeid en koste wat jy spaar en die toename in massa by jou diere.

Op al die plase waar ek die bestuur nou doen, neig ons al na 12% toe omdat die parasiete met die omgewing, en die wetenskap en weidingsbestuur, asook hulle weerstandigheid teen alle chemiese groepe gebreek is oor 'n 2-3 jaar tydperk. Heel belangrikste, die bosluise en ander parasiete van die habitat is ongeveer 80% minder by van die plase. Die spul wil ons daar hê, want hulle is nodig en belangrik.

Hierdie gebiede is in die kusstreke van die Oos Kaap, KZN en in die Limpopo streek waar 92-100% weerstandigheid onafhanklik gemeet is.

Baie dankie en baie sterkte. Ek hou van wat jy sê, baie. Ek dink jy moet meetinstrumente instel en toetse wat jou besluitneming en strategie sal bewys.

Laastens, dis die verkoopsmense wat nie hou van wat ek sê nie. Ons moet minder dip, ons omgewing spaar met veral organofosfate, bees en wild beter bestuur en ons moet skoon vleis aan die mark lewer. Hierdie eis gaan binnekort van die verbruiker self afkom en produsente wat hiernatoe kan aanpas, kan in 'n beter onderhandelingsposisie wees vir prys. Wel, die punt is, ek gaan een van die dae my navorsing en modelle aan die Pick en Pays van die wereld asook ander wys en ter wille van my eie oorlewing en die regverdiging van my insette en die geld daaraan gespandeer, die verbruiker help om skoon veldvleis vir sy eie gesondheid te kies. Die vet van veldvleis is baie gesonder en veiliger as voerkraalbeeste wat afgerond is. Daar is geen rede waarom die produsent nie self hierdie voordeel kan bekom nie.

Baie groete

Pierre

mkruger

Pierre,

Ek wil net graag hier 'n eiertjie le.

Ek boer nou al so 11 jaar in die Vrede omgewing.

Toe ek hier gekom het, het die boere vir my gese dat ek nie vee van anderkant die Kliprivier moet inbring nie want daar is rooiwater anderkant die rivier - dit is nou aan Standerton se kant van die rivier.

Wat egter vir my "snaaks" is, is dat Standerton baie kouer word as Vrede....

'n Ander probleem is dat ons die laaste paar jaar nie eintlik winter gehad het nie. Ons het so paar koue dae gehad van miskien so -2 of so. Moet egter se dat laas week het die temp tot -13 op plekke gedaal.

Die nuutste "storie" (wat saam met jou verduideliking loop) is dat die nuwe naweekboere vee wat hulle van orals inkoop hierheen bring en dit dan rooiwater hierheen bring.

Ek moet se dat die bure rondom my gereeld vee verloor maar ek het nog geen probleme met rooiwater gehad nie.

My resep was "maklik" (miskien nie wat jy wil hoor nie).

Ek het aan die begin toe ek gekoop het my beeste in September tot Mei elke 4 weke gedip met 'n opgiet dip.

Dit het ek vir so 3 jaar gedoen en sederdien dip ek my vee in September, Desember, Februarie wanneer ek kampe ruil en dan weer in Mei sodra die eerste ryp geval het.

Moet se dat ek laas week spesifiek gekyk het vir bosluise en my vee is, sal ons se, 95% skoon.

Ek gaan die vee eersdaags spuit met 'n middel wat inwendige en uitwendige parasiete doodmaak en dit behoort my kudde skoon te maak vir die jaar.

My rekening om my vee skoon te hou van uit- en inwendige parasiete is baie minder as wat dit my sou kos indien ek een koei sou verloor.

'n Ander beginsel wat ek streng toepas is ek laai geen nuwe beeste af voor ek hulle gedip het nie.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.