Jare gelede kamp ek en oorle Pa so oor die Desember maand aan die Weskus van Suidwes. Jakkalsputz is die plek se naam. En so gebeur dit toe een dag dat daar ’n fliek gaan wys by die Golf saal in Hentiesbaai, wat so 10 kilometer van Jakkalsputz af is. En ek en pa is al altwee moeg kaart gespeel om die aande om te kry en besluit ons gaan die fliek kyk. Daar was egter een probleem, hoe gaan ons klaar gebraai kry om betyds vir die fliek te wees. En slim soos pa maar was, reken hy ons begrawe ’n vet skaap ribbetjie in die kole en dan as ons van die fliek af kom dan kan ons hom eet. En ons maak ons self mooi na ons die ribbetjie goed versorg het en gaan fliek. Pa was toe ook reg gewees, want toe ons so teen tienuur terug by die kamp kom is daai ribbetjie so sag dat die been sommer so uit trek as jy hom vat. En ons eet baie lekker, Pa se mond blink sommer so in die skynsel van die vuur.
Ek word later daai aand wakker en ek voel baie onlekker, so al asof iets in my bors brand. Ek besluit om dan maar dit met water te blus, en toe ek buite die tent kom waar die waterkan staan, sit pa alreeds daar langs die kan. Ek vertel hoe ek voel.
“Dis sooibrand seun” sê hy en gooi vir my ook ’n glas ENO in. En so het ek en hy daai aand langs die waterkan deurgebring en gesweer nooit weer eet ons so laat in die aand ’n vet skaapribbetjie nie.
Suurpens is die ding wat ek vandeesweek oor gaan skryf.
Oorsaak: Rumenversteuring waar die pH in die rumen te suur raak as gevolg van verkeerde dieet.
Voorkoms: Suurpens is die gevolg van verkeerde dieet waar die skaap of bok ooreet aan konsentraat voer of mielies. Afhangend van die tipe voer waaraan oorvreet is kan die toestand matig wees tot per akuut dodelik. Die rumen of grootpens is maar in der waarheid ’n ekosisteem waar die rumen flora (bakterïee en protozoa) in balans is en noodsaaklik is om voedsel te verteer. Wanneer die skaap of bok dan oorvreet aan stysel voertipes byvoorbeeld mielies of konsentrate raak toestande gunstig vir suurproduserende bakterïee ( lactobacillus) wat dan drasties vermeerder en die rumen en die rumen pH suur maak. Dit lei tot inflammasie van die rumenwand of rumenitis. Melksuur produserende bakterïee skei endotoksiene en histamien af. Die bakterïee wat vitamien B1 vervaardig word vernietig deur die suur omgewing en dit lei tot ’n tekort aan vitamien B1. Die sameloop van al die komplikasies lei tot diarree in matige gevalle en vrekte in meer ernstige gevalle.
Simptome:
· Simptome kan baie varieer afhangend van die graad van inflammasie in die rumen en abomasum.
· Matige gevalle het diarree maar sal steeds eet. Die diarree kan ook wissel van gelerige waterige mis wat sommer so uitloop tot ’n projektiele diarree waar mens versigtig moet wees waar jy staan anders tref dit jou.
· Erg aangetaste diere is bewerig, sal nie eet nie en lyk sommer siek.
· Versnelde asemhaling is ‘n algemene teken.
· Simptomatiese buikpyn, diere staan met rug kromgetrek as gevolg van buikpyn en kners op die tande.
· Die dun waterige suurreukende diarree wat ontwikkel lei daartoe dat die skaap of bok vinnig gedehidreerd raak.
· Die oë van ’n gedehidreerde skaap of bok sal diep ingesonke wees in die oogkaste.
· Telkens wor die skaap of bok gesien dat dit loop op die kniee weens inflammasie van die hoewe.
· Die skaap of bok sal rondval asof hulle dronk of blind is en sentrale senuwee simptome kom geredelik voor weens breinskade as gevolg van vitamien B1 tekort.
· In gevorderde gevalle loop diere ook kruppel weens ontsteking van die hoewe as gevolg van die oor afskeiding van histamien.
· Uiteindelik sal die skaap of bok in ’n koma gaan en vrek
Behandeling:
· Suksesvol, indien betyds behandel word en die toestand nie te ernstig is nie. Tyd is van uiterste belang hier.
· Onttrek aangetaste skape of bokke dadelik vanaf konsentraat voeding en voorsien slegs lang hooi en water.
· Meer ernstige gevalle moet eerder deur ’n veearts behandel word indien moontlik. Tyd is egter van belang en die volgende noodbehandeling kan toegedien word:
· Laat die dier regop tussen twee bale lê om opblaas te verhoed.
· Doseer natrium bikarbonaat (koeksoda) of kommersiele teensuur poeier opgelos in water om die suurgehalte in die rumen te neutraliseer. Indien die dier semi komatoos is moet die mengsel met ’n maagbuis ingegee word.
· Spuit vitamien B1 om breinskade te voorkom.
· Doseer Vitamiene en elektroliete om dehidrasie teen te werk. Indien die skaap of bok nie wil drink nie sal water daagliks met ’n maagbuis ingegee moet word totdat dit weer self drink.
· Indien die dier so oorvreet is aan mielies dat die rumen “verstop” is, mag dit nodig wees om die rumen chirurgies leeg te maak, maar die waarde van die dier moet in so geval in berekening gebring word. Sulke gevalle kan geidentifiseer word deurdat die rumen kliphard voel wanneer dit bevoel word.
· Behandel buikpyn simptomaties in ernstige gevalle.
· Doseer ‘n rumen stimulant om die werking van die rumen te normaliseer.
· Voorsien slegs ruvoer as kos, totdat mis weer korrelvormig is
Nadoodse tekens:
Baseer die nadoodse ondersoek op die geskiedenis van die geval.
· Karkas toon definitiewe tekens van ontwatering; oë ingesonke in oogkas en vel herstel nie indien dit tussen duim en wysvinger getrek word nie.
· Rumen inhoud is waterig met suur reuk.
· Tekens van inflammasie (bloederig en geswel) in die slymvliese van die rumen, melkpens en dermkanaal.
Medisyne:
· Teensuur poeier of Natriumbikarbonaat (koeksoda)
· Rumenstimulante
· Doseerbare elektroliete en vitamiene
· Pynstillende inspuiting vir simptomatiese buikpyn. (fenielbutasoon)
· Vitamiene B1 of Vitamien B kompleks.
Voorkoming:
· Skakel geleidelik oor na konsentraatvoeding wanneer diere gewoond is aan ruvoer alleen.’n Aanpassingstydperk van ten minste 7 dae is nodig.
· Daar moet genoeg vreet spasie wees wanneer konsentraat gevoer word om te voorkom dat enkele diere meer vreet as ander.
· Gee slegs genoeg konsentraatvoer per dag om aan diere se daaglikse behoeftes te voldoen.
· Baie gevalle van suurpens kom voor waar die skape of bokke per ongeluk in die verstoor kon kom. Die voerstoor moet dus deeglik toegemaak word om te verseker dat dit die diere uithou.
Na my en pa se ribbetjie voorval het hy altyd die gesegde gehad van hy is nou so lus vir ENO hy braai sommer ’n vet ribbetjie. En al is ek nou ’n vegetarïer dan sou ek darem wat wou gee om weer daar by Jakkalsputz op ’n maanlig aand saam met Pa langs die vuur te sit en ribbetjie eet sodat ons later langs die waterkan kan sit en ENO drink.
Machst gutt Meister
Leon langhare
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)