SA boere in Kanada

Saskatchewan in Kanada is ‘n provinsie van immigrante. Eers was daar die Duitsers, Engelse en Oekraїniёrs wat die prairieveld in vrugbare saaiplase omskep het.

Waar Indiaan-jagters vroeёr agter groot troppe buffels aangetrek het (Regina, die hoofstad, het onder dié jagters as die ‘Plek van die Hoop Bene’ bekend gestaan), het die immigrant-boere die koring uit hul stamlande begin verbou.
 
Later het hulle na ander gewasse gediversifiseer, en oor honderd jaar Saskatchewan in een van die wêreld se kosmandjies ontwikkel. Die Kanadese provinsie se boere produseer 67% van die wêreld se lensie-uitvoere, 56% van alle droё erte-uitvoere, en 30% van die wêreld se mosterdsaad. Voeg hierby 45% van Kanada se kanola.
 
(Foto hieronder: Gesnyde kanola-lande buite Montmartre in Saskatchewan, waar Jean en Marina Köhler, vroeёr van Vrede, boer.)
 
 
Die yl-bevolkte provinsie se ekonomie het inderdaad die afgelope paar jaar met sulke rasse skrede gegroei dat daar nou ‘n tekort aan werkers is om in die al hoe langer lysies van bestellings uit die res van die wêreld te voorsien.
 
Vandag is die nuwe immigrante Oosterlinge, wat ingevoer word om in die fabrieke te werk, en Suid-Afrikaanse boere wat vir hulself ‘n nuwe lewe op die prairie uitkerf - ver weg van plaasaanvallers, Julius Malema en Minister Gugile Nkwinti se groenskrif oor grondhervorming.
 
Hulle trotseer brutale winters, wanneer die aanvoelbare temperatuur tot so laag as -50 grade Celsius daal; en dae waarop ontblote vel letterlik kan vries as jy dit buite sou waag. In plant- en strooptyd los pa’s en seuns in skofte van agt ure elk mekaar op die planters en stropers af, en werk dwarsdeur die nag.
 
Planttyd is drie weke, hoogstens ‘n maand lank. En vanjaar het buitensporige reёn baie van die boere verhoed om selfs soveel as driekwart van hul lande betyds te kan saai. Na planttyd laat die wispelturige klimaat ‘n bitter smal venster vir die graankorrels, peule en oliesade om wasdom te bereik, en vir die boere om dit voor die eerste ryp weer van die lande te kry.
 
Hulle verlang na familie en vriende in Suid-Afrika, en party sukkel nog om die Kanadese terme baas te raak.
 
Sommige erken ruiterlik dat daar meer geld uit boerdery in Suid-Afrika te maak is. Maar hier is hulle nie bekommerd dat hul grond oornag afgevat gaan word nie. Hul kinders wat vroeёr net elke tweede naweek van die koshuis af huis toe kon kom, klim nou soggens by die plaashek op ‘n geel skoolbus wat hul smiddae weer op die plaas kom aflaai. Daar is nie elektriese heinings om hul plaaswerwe of ystertralies voor hul vensters nie.
 
Daarom bestee hul miljoene rand aan akkers, toerusting en werktuie, en leer van hul Kanadese bure hoe om met gevorderde presisieboerdery en geenbewerking genoeg skepels te oes om ‘n winsgewende bestaan op die prairies te kan maak.
 
En so herhaal die geskiedenis homself op plase wat pionier-immigrante uit Europa honderd jaar gelede uit die wildernis hier gekap het. Net soos die trek-veeboere en later Voortrekkers wat destyds die Suid-Afrikaanse binneland in ‘n nuwe lewe vir hulle en hul gesinne gaan soek het.
 
(Ek besoek die Kanadese provinsie Saskatchewan, op uitnodiging van mnr. Etienne von Engelhardt van die provinsiale regering. Met my aankoms op die lughawe in Regina, Saskatchewan se hoofstad, het my gasheer gou twee Mounties nader getrek om my na die lang vlug te verwelkom. Foto hieronder.)
 
 
30 Augustus 2010
Jou gradering: Geen Gemiddeld: 4.9 (8 votes)

Kommentaar

Martie Kruger

Bernard Visser, En Cecil Hugo, ek gaan in Feb 2012 in SA seminare aanbied. Living and Farming in Manitoba, Kanada.Kontak my vir meer inligting oor plase in Manitoba.
martie@century21westman.com

Martie Kruger 

Ek is n eiendomsagent in Manitoba, Kanada. Ons gaan in Feb 2012 seminare in SA aanbied re koop van plase in Kanada. Ons bied ook hulp aan met die hele immigrasie proses.Ek sien hierbo paar mense wat mag belangstel. Kontak my gerus en ek sal jul help met meer inligting. martie@century21westman.com
Of stuur jul tel nommers en ek sal julle kontak.

Robert Knobel 

My seun is nou in matriek en wil graag vir ses tot agt maande in Kanada op 'n plaas werk en in 2013 by Elsenburg landbou studeer. Hy is tans besig om sy swaarvoertuig-lisenrie te kry. Goeie sportman, het al vir SA in roei verteenwoordig, lief vir fisiese werk. Kan sy deel doen. Is daar moontlikhede en kan so iemand 'n werksvisum kry?

Danie Hoffman 

Stel belang in plaaswerk in Saskatchewan. Het meer as 22 jaar boerdery ondervinding asook wye konstruksie ondervinding. Gesondheid is in goeie toestand. Soek dringend 'n betrekking of geleentheid op 'n plaas.

CECIL HUGO 

HELP. Ek wil asb. inligting ontvang om in Kanada te boer. Ek is bereid om alles hier in SA te verkoop. Ek boer op plaas in Karoo. Sal grond hier verruil vir grond daar. Is op soek na enige inligting oor waar mens met vee kan boer in Kanada. HELP my asb. Ek kan dit nie meer langer uithou hier nie soek vryheid.

Kerneels Lombard 

Ken die Kohlers goed. Ek is ook in Kanada so 240km vanaf hule op 'n plaas. Hulle sal goed doen hier. Al die Suid Afrikaners hier doen goed want daar is niks wat hulle hier verhinder om hul ding te doen nie. Rustig en geen negatiewe nonsens op die TV, tydskrifte en koerante wat jou be-invloed nie!!
Sterkte aan hulle!!.

Simone` Esterhuyse 

Bernard Visser- Hier kan jy met enige iets boer en n sukses maak dit hoef nie noodwendig graan te wees nie. Ons boer met Dorpers (skaap) in Saskatchewan! Maar daar is geleentheid vir enige vee boer!

Jean Köhler (Jnr) 

Beste familie daar ver,
Julle is skaars weg en daar maak julle geskiedenis. Ons is trots op julle, julle dapperheid en deur settingsvermoe is 'n voorbeeld vir oms almal.
Jaloerse Groete
Jean & Elizabeth

Dick Dauth 

Baie sterkte daar in julle nuwe vry land! Ek dink baie dat dit seker baie lekker sal wees om in 'n land te kan woon waar daar vir almal net positiewe vooruitsigte en moontlikhede is. Hier word net boete gedoen vir voorgeslagte se foute en dit sal nooit ooit ophou nie. Die geheim hier lê in die getal stemme van die massas by die stembus... Seënwense vir julle!

Wilhelmina 

Ek bly ook in Kanada maar aan die Ooskus en is nie n boer nie maar is baie lief vir die boere hier. Elke seisoen bied hulle iets nuut aan vir al ons stadsjapies en daar bestaan baie groot respek hier vir boere in Kanada.
Kyk gerus na http://www.ontariofarmer.com/

Johann Lemmer 

Julle is baie dapper. Baie Suid-Afrikaners werk deesdae in Kanada en baie van ons dokters werk al op permanente, tydelike en deeltydse basis orals in Kanada. Met die eiese wat aan veeartse gestel gaan word tov gemeenskapdiens sal hulle seker ook aanstons 'n nuwe heenkome in kanada en ander wêreld dele vind.

LD PIETERSE 

Groete en sterkte aan die Kohlers! Hulle is goeie SA boere
wat 'n sukses sal maak in Kanada!

Bernard Visser 

EK oorweeg dit sterk om ook Kanada toe te emigreer. Genoeg gehad van politici se uitsprake en die onsekerheid. Maar ek is geen saaiboer nie. EK wil met vee boer. Dalk kan jy help met inligting oor waar die beste vir die tipe boerdery in Kanada is.

scorpiondip

Jaloers is ek op jou. Vreeslik.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.