KOM VANSELF TOT STILSTAND

 

 

In die vyftigerjare het dit goed gegaan met die wolbedryf. Die Koreaanse oorlog was die katalisator waarom wolpryse so skerp in 1951/’52 gestyg het. Die Amerikaners het met mening in die mark ingeklim om woluniforms vir hul troepe te maak. Gedurende hierdie era het die wolgeld motors gekoop, huise opgeknap, skure aangebou en plaasskole opgerig. So was dit dan ook die geval met oom Louis en tant Rina van Dyk van Smithfield. Die mowwe het goed vir hulle gesorg en hy kon in 1951 vir homself ‘n splinternuwe 1947 Chev bakkie koop. Hy het gehou van die spaarwiel wat so tussen die regterdeur en die regter agtermodderskerm teen die buitekant van die bak gemonteer was.

 

chevy.jpg-600

 

Oom Louis het al hierdie gepropageerde wenke ter harte geneem. Dit was in hom ingeprent toe hy in 1956 ‘n telegram kry dat sy skeersel op ‘n sekere dag op die katalogus aangebied gaan word en hy en die tante het op ‘n baie warm dag in November met die Chevy die pad van Smithfield in die Suid-Vrystaat af na Oos-Londen aangepak, waar die veilings altyd plaasgevind het.

 

Alles het heel voorspoedig verloop tot by die Penhoekpas tussen Jamestown en Queenstown. Dis toe dat oom Louis ‘n klapgeluid en die uitblaas van lug van regs agter hom hoor en tot die onmiddellike besef kom dat die padwenk oor skielike agter papwiele nou van toepassing is: “Jou voertuig sal neig om heen-en-weer te swaai, veral teen snelhede van meer as 50 mpu. Die beste aksie is om die stuurwiel ferm vas te hou en die voertuig vanself tot stilstand te laat kom.” Die pamflet het ook verder verduidelik dat  onmiddellike instink sal wees om rem te wil trap maar dat dit tot gevolg kan hê dat die voertuig in die rondte tol. Die wenk het dus gewaarsku dat skielike remtrap die slegste ding is om te doen. “Herhaal dus dit vir jouself oor-en-oor sodat jy gekondisioneer is om teen jou instink op te tree as jy ‘n skielike papwiel kry!” het die pamflet in vet letters aanbeveel.“Kyk voor jou, hou die stuurwiel reguit en haal jou voet van die petrolpedaal af” was die slotsom.

 

Die enigste probleem was net dat oom Louis reeds oor die Stormberg se kruin was en vandaar af was dit net afdraende. Dit sou bars gaan om die Chevy vanself tot stilstand te laat kom. Oom Louis het egter goed gevaar met die “kyk voor jou” en die “hou die stuurwiel reguit”, maar die Chevy het al vinniger gegaan en wou nie vanself tot stilstand kom nie. By elke piekniekplek wat verby geflits het, het oom Louis oorweeg om af te wyk van die aanbevelings maar tog by die kondisionering gebly. Tant Rina het aanhou briek trap aan haar kant maar daar was nie ‘n pedaal vir haar nie.

 

Toe kom Allemanspoort se lang draai na regs en die Chevy wil vir dood nie reguit bly nie. Dit neuk al links en toe daar nogmaals ‘n piekniekplek met drie kareebome en ‘n sement tafel en bankies opdoem, stuur oom Louis die Chevy na die kareebome toe om dit op dié manier vanself tot stilstand te laat kom. Die eerste boom het die Chevy se momentum vertraag en die tweede een het dit tot stilstand gebring. Die derde boom het net stilswyend staan en toekyk.

 

Daar was baie stof om die bakkie en die reuk van vars kareetakke het in die lug gehang. Oom Louis kon uitklim en die takke aan die ander kant gaan wegtrek sodat tant Rina ook kon uit. Toe het hy gaan kyk wat die skade aan die wiel was wat gebars het maar die regter agterwiel was nog styf. Links agter ook en vir die wis en die onwis maak oom Louis seker links voor en regs voor is ook nog styf. Dis met die tweede rondte se inspeksie dat hy merk die spaarwiel, wat so netjies tussen die regterdeur en die regter agtermodderskerm teen die bak gemonteer is, het van die hitte van sy naaf af geklim en dít was wat op die kruin van die berg geklap en geblaas het!

 

Oom Louis en tant Rina het heelwat later as beplan maar ongedeerd in Oos-Londen aangekom. Die Chevy het ‘n paar duike en skrape gehad en die ruit aan tant Rina se kant was erg gekraak gewees. Toe oom Louis se wol by 40 pennies ’n pond kom het hy moedeloos gesug. By 60 pennies het hy geweet hy sal sy skuld kan betaal. Met die bod op 78 pennies toegeslaan het hy berusting gekry dat hy en die tante nog ‘n jaar sal kan oorleef én dat hy die Chevy weer in al sy glorie sal kan herstel. Nuwe bande was nie nodig nie.

 

 

Bronne:

 

U veiligheid – ons belang, http://www.worldcat.org/title/u-veiligheid-ons-belang/oclc/85923198

 

Tyre blowout, http://smartdriving.co.uk/Driving/Driving_emergencies/blowout.htm

 

Wie onthou nog die wol-‘boom’, Theuns Botha

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.