OLIEKRISIS SORG VIR VUURWERKE

Op 6 Oktober 1973 loots Sirië en Egipte, met die ondersteuning van die ander Arabiese nasies, ‘n verrassingsaanval op Israel. Dié aanval val saam met Yom Kippur, die heiligste dag van die Joodse godsdiens en vind ook in die Moslemse heilige maand van Ramadan plaas. Hierdie hernieude vyandigheid in die Arabiese/Israeliese konflik ontketen ongekende ekonomiese druk op die prys van ru-olie. In reaksie op die VSA se hulp aan Israel, verhoog OPUL (Organisasie vir Petroleum Uitvoerende Lande) die ru-olieprys eensklaps met 70% en kom ooreen om hul produksie met 5% per maand te verlaag totdat hulle ekonomiese en politieke doelwitte bereik is. So ontstaan ‘n oliekrisis vir die meeste westerse lande en die gevolglike skaarste aan brandstof noop baie regerings om drastiese besparingsmaatreëls te implementeer, uit vrees dat hulle olievoorrade kan opraak.

In Suid-Afrika is die verkoopsure van brandstof van 24 uur elke dag tot 12 ure op weeksdae ingekort. Geen brandstof is dus oor naweke beskikbaar nie. Die hoeveelheid losmaat petrol wat ‘n persoon kon besit word beperk en die spoedgrens buite stede is tot 80 kpu verminder. Dit was veral die spoedbeperkings wat met groot venyn deur die verkeersowerhede afgedwing word.

Vir die klomp koshuiskinders wat in hierdie tydperk uit Bothaville, Viljoenskroon, Vierfontein en Parys in Potchefstroom skoolgegaan het, was koshuisnaweke se gaan haal en terugvatte ‘n logistieke nagmerrie gewees. Daar moes op ‘n Vrydagmiddag betyds weer by die tuisdorp  volgemaak word om Sondag heen en weer Potchefstroom toe te kon ry en teen 80 kpu het dit ‘n ewigheid geduur om ‘n bestemming te bereik. Die bykomende frustrasie was dat ‘n adrenalienbelaaide khakiegestalte met ‘n hand omhoog uit enige bos langs die pad kon spring.

Potchefstroom was dan ook gou bekend vir sy genadelose wetstoepassing en die implementering van die oliekrisis se teenmaatreëls het ‘n ernstige ongemak tussen gewone besoekers en fanatiese verkeers-owerhede tot gevolg gehad. So verskyn ‘n myner van Blyvooruitzicht, Mnr. G Victor, op 17 Mei 1974 in Potchefstroom in die hof op ‘n aanklag dat hy vantevore iewers in die distrik die spoedgrens van 80 kpu oorskry het. Dié spesifieke hofsaal was ‘n asbesgebou agter die permanente hofgebou. Vooraf waarsku Victor sy vriende dat dit “’n dag sal wees om te onthou” as hy skudlig bevind word. Toe hy in die beskuldigebank gaan staan het hy ‘n pakkie, so groot soos ‘n skoenboks en in bruin papier toegedraai, onder sy arm waarvan niemand eintlik notisie neem nie. Hy beken skuld op die aanklag maar probeer versagtende omstandighede aanvoer. Landdors  JH Steyn verwerp dit as ‘n “flou verskoning” terwyl hy Victor ‘n vonnis van R50 boete of 25 dae gevangenisstraf oplê.

Oomblikke daarna is daar ‘n knal, wat soos ‘n klapper geklink het, waarna daar rook by die pakkie onder Victor se arm uittrek. Toe vind daar ‘n geweldige ontploffing plaas wat puin en menslike oorblyfsels oor ‘n gebied van honderde vierkante meter strooi. Victor se selfgemaakte bom het die tydelike hofsaal aan flarde geruk. Hyself en ook ‘n prokureur, Mnr. Henk Klopper, is opslag dood en 38 mense is beseer, waarvan ses ernstig.

Buiten die bom wat hy onder sy arm gehad het, was daar ook ‘n groot hoeveelheid plofstof agter in sy motor se bak wat in die straat voor die hofgebou geparkeer was.  ‘n Groter tragedie is voorkom toe die polisie hierdie bom betyds onskadelik kon stel.

Vir ‘n hele ruk na die ontploffing het mense in Potchefstroom ‘n oordrewe afstand vanaf enige skoenboks gehandhaaf wat op ‘n ander plek as binne-in ‘n skoenwinkel was. Dit was dan ook in hierdie oorgangsperiode wat ‘n student aan sy koshuismaats kom rapporteer het dat daar ‘n spoedlokval net buite die dorp op die Carltonvillepad was. Hulle vindingrykheid het hulle spoedig op sleeptou na ‘n Indiër handelaar in die dorp geneem. Die leë skoenboks en die stuk bruik papier was gratis maar vir die groot klapper moes hulle betaal.

‘n Rukkie later kruip ‘n vaal Volkswagen Kewer, met ‘n “ONS IS PUKKE” plakker agter in sy venster, gemaklik onder die spoedbeperking oor die twee dun pypies in die pad. Dit swenk daarna af van die teer en kom tot stilstand voor ‘n opslaantafel waarop ‘n gatsometer, ‘n oopgeskroefde fles en twee plastiek koppies met warm koffie daarin, gedek is. Twee khakiegestaltes sit op kampstoele agter die tafel en staar fronsend na die Kewer se spoedlesing op die gatsometer. Toe word ‘n bruin toegedraaide skoenboks vanuit die Kewer se kantvenster as hoofmaal op die tafel gegooi. Daar is ‘n klein gaatjie aan die bokant waaruit daar rook trek.

Toe die klapper knal wys die Kewer se neus reeds weer terug Potch toe en die “ONS IS PUKKE” Carltonville toe. Die studente kon soos wetsgehoorsame burgers binne die spoedgrens terug koshuis toe ry. Die twee verkeersbeamptes het té lank geneem om tot verhaal te kom tussen die puin van ‘n omgeslaande tafel, verstrengelde gatsometerkabels, onderstebo kampstoele en koffiebevlekte uniforms om enige gevaar van agtervolging vir die studente te kon inhou.

Bronne:
Potchefstroom Herald, 17 Mei 1974.
Die Volksblad, 18 Mei 1974.
1973 oil crisis, Wikipedia.

Spesiale dank aan Prof Annette Combrink (Oud visie-kansellier, NWU, Potchefstroom).

Spesiale dank aan Huibrecht Lombard, Argief vir Eietydse Aangeleenthede, Universiteit van die Vrystaat.

BETHLEHEM
Februarie 2017


Kommentaar

Kommentaar (2) “STORIES VAN IN EN OM DIE VRYSTAAT (14)

  1. Marthinus Willemse
    Marthinus Willemse

    Kan die bomwerper se naam bevestig word, asb? Volgens my ma, Lena Willemse, wat in Bethlehem as `n nooi Senekal gebore is, was dit haar neef aan moederskant, Alexander Mann. Alec, soos hy genoem is, was `n skieter (blaster) op die myn. Hy is beboet omdat hy in die distrik met `n sieklike kar gery het, en voor `n erg skuinste afgejaag het om spoed op te maak om oor die bult te kom. Die verkeerspolisie het in die dal gesit. Alec het gevoel dis oneties om `n persoon daar te beboet. Van hom het net `n stukkie van `n bobeen oorgebly. Die berig in Die Vaderland, Vrydag 17 Mei 1974, “Bomdrama”, noem nog nie sy naam nie. Die ander berigte het ongelukkig verlore geraak.

  2. Klippie Spies

    Volgens die Volksblad van 14 Mei 1974 was die bomplanter ‘n G Victor van Blyvooruitzicht gewees. Die dorp is aangrensend aan Carltonville. Hy was toe tussen 25 en 30 jaar oud. My persoonlike geheue van die voorval wil dit hê dat hy inderdaad ‘n “blaster” was. Ek kan ongelukkig nie meer besonderhede van hom uit die berigte kry nie. Dankie vir die kommentaar. Groetnis.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.