‘n MEERKAT BY VERKYKERSKOP

 Volgens Transnet se vragbehoeftemodel beweeg daar elke jaar ongeveer 45 miljoen ton vrag in albei rigtings tussen Durban en Johannesburg. Van hierdie vrag word 37 miljoen ton per pad op die N3 vervoer terwyl 8 miljoen ton per spoor geskuif word. Die N3-korridor tussen Durban en Johannesburg is dus van lewensbelang vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en dit is krities dat hierdie roete gereeld verbeter moet word om meer doeltreffend en effektief vir huidige én toekomstige behoeftes voorsiening te kan maak.

Teen hierdie agtergrond was daar vir bykans drie dekades lank planne gemaak om die N3 te skuif sodat dit vanuit Johannesburg se rigting net voor Warden links swenk en tussen Verkykerskop en Harrismith teen die De Beerspas af tot voor Ladysmith verlê moet word. Nie net sou die reisafstand met 14.6 km verminder kon word nie, maar daar sou ook ’n tydbesparing van ten minste 20 tot 30 minute wees terwyl padveiligheid met tussen 30 tot 60% verbeter sou kon word. Die meetkunde van die nuwe pad sou van so ‘n aard wees dat beide swaar en ligte voertuie ’n veilige spoed sou kan handhaaf, in lyn met nasionale spoedperke.

Daar teenoor skep Van Reenenspas en die heuwelagtige gedeeltes tussen Van Reenen en Harrismith bottelnekke op die N3 omdat die steil hellings en skerp draaie swaar voertuie se spoed uitermatig aan bande lê, hetsy of hulle op of af ry. Eweneens moet die spoed van ligte voertuie beperk word om die spoeddifferensiaal tussen hierdie voertuigstrome te verminder. Teen die huidige en toekomstig verwagte voertuigvolumes sal die voortsetting hiervan ’n gevaarlike en onhoubare situasie skep en vandaar die motivering om ‘n alternatiewe roete te vind.

In die omgewingsimpakstudie van die beplande projek, onder Places, buildings and structures >60 years, is daar ‘n enkele verwysing na “Grove of oak trees planted by Sir Percy Fitzpatrick c.1910-1920 in the layout of the Union Jack. Associated with historical farmstead.” Die beplande roete oor De Beerspas sal tot gevolg hê dat ‘n groot gedeelte van hierdie plantasie in die slag gaan bly. Ongelukkig laat hierdie enkele paragraaf nie reg geskiet aan die merkwaardigheid van dié eikebos nie.

Vier maande na die einde van die Anglo Boere-oorlog, in Oktober 1902, koop die bekende Sir Percy Fitzpatrick die plaas Dreyersgeluk naby Verkykerskop in Harrismith-distrik uit die insolvente boedel van Petrus Dreyer. Die opstal is ’n sandsteenwoonhuis en gebou deur die bekende Sir Herbert Baker, argitek van die Uniegebou. Fitzpatrick verander die plaas se naam na Buckland Downs.

James Percy Fitzpatrick, skrywer, politikus, besigheidsman en landboukundige, was die oudste seun van Ierse immigrante van Tipperary Ierland, en is in 1862 in King William’s Town gebore. Op twaalfjarige ouderdom is hy skool toe gestuur in Bath, Engeland. Terug in die Kaap sluit Fitzpatrick eers by Standard Bank aan maar bedank in 1884. Hy word ’n transportryer in die ZAR se Oostelike Goudvelde. Hy was ook nie ‘n baie goeie transportryer nie en bevind hom later in die posisie van hotelbestuurder en redakteur van die Barberton Herald. Sy geluk het weldra gedraai toe hy later in die mynwese betrokke geraak het wat hom in staat stel om eers ‘n plaas in die Laeveld aan te koop voor hy Buckland Downs bekom het. Tussen seisoene het hy homself in die somer in die Vrystaat bevind en in die winter in die Laeveld. Nog later het hy ook ‘n plaas in die Oos-Kaap aan die Sondagsrivier besit.

Kort na hy Buckland Downs aangeskaf het, bestel Fitzpatrick ‘n groot aantal akkerbome van verskillende variëteite uit Engeland en lê ‘n plantasie van 35 ha op die plaas aan. Hy rangskik hierdie bome in verskillende kleurskakerings sodat die hele area in die herfs die Britse vlag uitbeeld. Ook in die lente, wanneer die verskillende variëteite op verskillende tye en in verskeie skakerings van groen begin bot, kan die vorm van die Union Jack baie duidelik vanaf ‘n hoë punt waargeneem word.

Fitzpatrick was ‘n baas storieverteller en was lief om vir sy kinders slaaptydstories op te tower. Hy maak ook in sy lewe kennis met die vermaerde Britse joernalis, Rudyard Kipling, en dié moedig hom aan om sy wedervaringe te boek te stel. In 1907 publiseer Fitzpatrick seker een van die suksesvolste jeugverhale ooit, naamlik Jock of the Bushveld. Hoewel die verhaal in die Laeveld afspeel, is dit tydens sy verblyf in die wintermaande op Buckland Downs in die Vrystaat geskryf.

Fitzpatrick sterf op 24 Januarie 1931 op die ouderdom van 68 jaar en word op sy plaas naby Uitenhage begrawe. Wanneer mense hom gevra het hoekom hy nie weer na sy ouers se land van herkoms teruggekeer het nie, het hy net geantwoord: “I would rather be a meerkat in Africa, than a millionaire in England.” Hy sal berusting daarin vind om te hoor dat die De Beerspas-alternatief vir die N3, wat deur sy eeu-oue eikebos op Buckland Downs sou sny, in 2017 finaal deur die Suid-Afrikaanse regering laat vaar is.

Bronne:

NASIONALE PAD 3 KEEVERSFONTEIN TOT BY WARDEN (De Beers Pas-Gedeelte), OIS Verwysingsnr 12/12/20/1992, OPSOMMING VAN DIE

OMGEWINGSINVLOEDBEPALINGSVERSLAG. Cave Klapwijk and Associates. Februarie 2016.

ENVIRONMENTAL IMPACT ASSESSMENT FOR THE PROPOSED NATIONAL ROAD 3: KEEVERSFONTEIN TO WARDEN (DE BEERS PASS SECTION), DEA ref. no. 12/12/20/1992. eThembeni Cultural Heritage. 10 June 2010.

SIR PERCY FITZPATRICK. Ronel Theart, Kalahari Snippets, 25 Maart 2015.

Reg Jelliman, Verkykerskop.

David Botha, Buckland Downs.

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.