SUPER SAREL SE SPOEDREKORD:
Die strewe na absolute spoed was oor bykans ‘n eeu heen meedoënloos, mededingend, selfs dodelik maar strykdeur altyd boeiend. Gedurende die vormingsjare van die motorindustrie was spoed die primêre, indien nie die enigste nie, faktor wat motors verkoop het omdat dit die eenvoudigste manier was om een motor se oorheersing oor ‘n ander mee te kon bepaal. Veiligheid was hoegenaamd nie ‘n verkoopstrategie nie en so ook nie ekonomie, gemak of tegnologie nie. Vandag is dit juis hierdie eienskappe wat motors verkoop, so asof ons ‘n bietjie ons aptyt vir spoed verloor het.

Daar is verskeie tipes landspoedrekords maar terug in die verlede was die gewildste rekord die “flying mile” wat op gewone openbare paaie opgestel is en die reëls was eenvoudig: die drywer moet binne ‘n sekere tyd in beide rigtings oor ‘n afgemete afstand (een myl of een kilometer) ry en as die gemiddelde spoed van beide lope meer as een persent vinniger as die vorige rekord is, staan die nuwe rekord agter die drywer se naam.

Die flying mile beteken dat die motor met ‘n aanloop oor die afgemete afstand ry en dus nie vanuit ‘n statiese posisie wegspring nie. Malcolm Cambell van Brittanje het op 25 September 1924 in ‘n 350 hp Sunbeam Blue Bird die eerste rekord vir die flying mile opgestel met ‘n gemiddelde spoed van 235.22 km/h in Pendine Sands, Wallis.

‘n Legende soos Sarel Daniel van der Merwe, oftewel “Supervan”, sou beslis nooit sy aptyt vir ‘n landspoedrekord verloor nie. Van der Merwe het die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap ‘n rekord elf kere gewen en het dié sport gedurende die laat sewenstigs en vroeë tagtigs gedomineer. Sy renloopbaan sluit ook ‘n tydperk in waar hy in die VSA aan NASCAR renne deelgeneem het en hy het ook aan die uitdagende Le Mans uithourit deelgeneem. Hy was daarby ook Suid-Afrika se Saloon Car kampioen, Modified Saloon Car kampioen en wen in 1996 die Castrol Internasionale tydren in Swaziland. As gevolg van sy lengte, kon hy nie aan Formule I wedrenne deelneem nie omdat hy nie in dié motors kon pas nie.

Op 30 November 1988, vyf dae voor sy 42ste verjaarsdag, skryf Van der Merwe die Suid-Afrikaanse flying mile spoedrekord agter sy naam met ‘n gemodifiseerde Audi 2.2 Turbo, wat op die oog af nes ‘n gewone Audi 500 lyk. Hy behaal ‘n verbysterende gemiddelde 358.9 km/h op die pad tussen Hoopstad en Bothaville en verbeter Mike de ‘Udy se 20 jaar oue rekord van 308,671 km/h wat in 1968 met ‘n 5600cc Lola Chevrolet rensportmotor op die Weskuspad naby Langebaan opgestel is.

Die R59 tussen Hoopstad en Bothaville het ‘n reguit stuk van 25 km maar is andersyds ‘n gewone enkelbaan teerpad in beide rigtings sonder skouers aan die kante. Onbevestigde berigte wil dit hê dat boervrouens van die omgewing destyds vir Van der Merwe ingelig het dat uitermatig hoë snelhede op dié pad wel moontlik is, veral op ‘n Maandagoggend as die kinders nog voor skool by die koshuis afgelaai moet word.

Van der Merwe se rekord verdien perspektief. Formule I renmotors word nie net vir absolute spoed gebou word nie maar wel om die hoogste gemiddelde snelheid om ‘n kronkelende baan te handhaaf. Dit gaan dus ook oor vinnige versnellings, kort remafstande en hoësnelhede om draaie. Gevolglik is dié aerodinamiese motors met drukvlerke en breë bande toegerus en jaag op uiters goed ontwerpte oppervlaktes. In 2005, een maand voor die Italiaanse Grand Prix, het Juan Pablo Montoya met ‘n McLaren-Mercedes gedurende toetsritte die hoogste amptelike spoed nóg deur ‘n Formule I motor behaal, naamlik 372.6 km/h. Dit is ‘n skamele 13.7 km/h vinniger as Van der Merwe se poging met ‘n gemodifiseerde sedan motor op ‘n gewone openbare pad.

Van der Merwe se rekord staan net agtien maande totdat Willie Hepburn in ‘n 6998cc Pontiac Trans-Am die rekord tot 372.401 km/h op die tóé pasvoltooide tolpad tussen Villiers en Warden verbeter. Dié pad het dubbelbane met skouers in beide rigtings.

In 1999 probeer Peter Lindenberg sonder sukses om Hepburn se rekord op dieselfde pad te verbeter. Met sy eerste poging in sy 1998 Ford V8 Mustang haal hy 341 km/h en met sy tweede sowat 348 km/h voordat die motor se ratkas ingee. Tydens dieselfde geleentheid het die 25-jarige Jeanette Kok egter die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword wat ‘n landspoedrekord agter haar naam kon skryf. Sy het met haar eerste poging, ook in ‘n Ford Mustang, teen ‘n effense afdraand en saam met die wind 314,74 km/h gehaal. In die teenoorgestelde rigting kon sy net 301,074 km/h haal, wat haar ‘n gemiddelde spoed van 307,909 km/h gegee het.

Van der Merwe se rekord, saam met sy ander mylpale in motorsport, maak van hom ‘n renjaer sonder enige gelyke in Suid-Afrika. Met uitsondering van Hepburn, was dit waarskynlik die laaste flying mile-rekord wat nie deur ‘n spesiaal ontwerpte motor opgestel is nie. In 2002 het Grant van Schalkwyk met sy 9500cc ”Spirit of Dunlop” ‘n snelheid van 388,538 km/h behaal. Hierdie rekord is in 2005 deur Johan Jacobs met sy Castrol Edge Showdown Jet tot 504,544 km/h op die Mafikeng lughawe se aanloopbaan verbeter.

Bronne:
Formula One car. Wikipedia
Kaapse vrou stel spoedrekord van 307,9 km/h op. Marinus Coetzee. Beeld, 30 Julie 1999.
South African Records. Ray Wakefield. 02 Oct 2006
Sarel van der Merwe. Wikipedia
Supersoniese Sarel … ná 358.9 km/h. Fred Schnetler. Die Volksblad, 30 November 1988.
What is the Land Speed Record? DiscoveryUK.com
Spesiale dank aan Huibrecht Lombard, Argief vir Eietydse Aangeleenthede, Universiteit van die Vrystaat.

BETHLEHEM

April 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.