Dit is alombekend dat die wêreldberoemde Daniël Hartman Craven, later bekend as Dok Craven, in Lindley gebore is en as skoolseun vir Lindley se dorpspan rugby gespeel het. Nadat hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Lindley voltooi het, is hy na die Universiteit van Stellenbosch om sielkunde te gaan studeer. Daar het hy uitgeblink en ná sy BA-graad ook ‘n meesters- en doktorsgraad in volkekunde verwerf. Hy het daarna verskeie verdere grade verwerf, onder andere nog twee doktorsgrade, asook ‘n ere-doktorsgraad.

Sy rugby het ook nie agterweë gebly nie. Craven het op 5 Desember 1931 sy internasionale debuut teen Wallis in Swansea gemaak toe hy 21 jaar en 55 dae oud was. In daardie stadium het hy nog nie eens provinsiale rugby gespeel nie. Hy het wel later vir Westelike Provinsie, Oostelike Provinsie en Noord-Transvaal gespeel en was ook uiteindelik Springbokkaptein. Ná sy eie speeldae word hy ‘n keurder en rig ook die Springbokke af. In 1956 het hy die President van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad geword en was aan die hoof daarvan tot 1992. In 1957 het hy lid van die Internasionale Rugbyraad geword en was in 1962, 1973 en 1979 die voorsitter.

Op ‘n spanfoto van 1927 van Lindley se rugbyspan (hieronder) staan die mees junior lid van die span, die sestienjarige Craven, heel links in die agterste ry langs sy broer, J Craven. In die voorste ry sit die kaptein, Lappies Hattingh, met die bal op sy skoot. Aan die voete van die voorste ry staan vier trofeë op ‘n kombers. Dié formidabele span van Lindley wen daardie jaar die Reitz Uitdaagbeker, die Noordelike Distrikte-beker, die Vrystaatse Plattelandse-beker en is ook saam met Collegians van Bloemfontein die wenners van die Vrystaatse Groot Uitdaagbeker. Twee van Lappies se broers is ook deel van die span. Lappies maak reeds in 1925 sy buiging vir die Vrystaat en draf daarna tot in 1933 gereeld vir sy provinsie uit terwyl hy strykdeur sy klubrugby vir Lindley speel. In 1931 haal sy een broer, M Hattingh, ook die Vrystaatspan.

Na afloop van die Springbokproewe van 1931, toe ‘n toerspan na die Verenigde Koningkryk vir die einde van jaar gekies moes word, was daar ‘n algemene gevoel onder die keurders dat daar baie talentvolle spelers was wat net-net nie die span gehaal het nie. Gevolglik word die eerste Junior Springbokspan in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby gekies om as die Gazelle na Argentinië te toer sodat hierdie spelers ook internasionale blootstelling kon kry. Lappies Hattingh word in hierdie span opgeneem wat uiteindelik al agt hulle toerwedstryde wen.

In 1933 kom toer Australië vir die eerste keer in Suid-Afrika en speel naas hul toerwedstryde ook vyf toetse teen die Springbokke. Ten spyte van ‘n oorwinning van 17 – 3 in die eerste toets, vervang die keurders die twee flanke vir die tweede toets. Die legendariese Fanie Louw word van voorry na flank verskuif en die debutant, Lappies Hattingh, word as sy flankmaat gekies om maar slegs die vyfde Springbok te word wat deur die Vrystaat opgelewer word.

Op die spanfoto (hieronder) vir die tweede toets staan Lappies Hattingh as groentjie in die agterste ry terwyl een van Suid-Afrika se senior spelers van daardie tyd, die 22-jarige Danie Craven, langs die kaptein, Bennie Osler, in die middelste ry sit. Die Springbokke verloor hierdie toets 21 – 6 en die hele lostrio word vir die volgende kragmeting weggelaat om plek te maak vir die volle Transvaalse lostrio. Suid-Afrika wen die derde en vierde toetse en ten spyte van ‘n nederlaag in die vyfde toets, beklink hulle die reek 3 – 2. Die lostrio word nogmaals weer in totaliteit vir die laaste twee toetse vervang maar Lappies Hattingh is na sy enigste toets nie weer vir die Springbokke oorweeg nie. Hy het waarskynlik aan die einde van daardie seisoen, op dertig jaar, sy stewels opgehang want hy het daarna ook nie weer vir die Vrystaat gespeel nie.

Toe Dok Craven Lindley in die tagtigerjare besoek het, reël die rugbyklub ‘n onthaal vir hom. Hoe meer die dorpspelers hom oor sy wedervaringe uitvra, hoe meer neig Dok Craven terug na hoe formidabel die Hattingh-broers as rugbyspelers was. Met hulle natuurlike krag en atletiese vermoëns het hulle vrees by Lindley se teenstanders ingeboesem en al persoon vir wie hulle ontsag gehad het, was hulle ouer suster wat hulle as kinders sommer aldrie saam kon vasdruk en regsien.

Hoewel hy slegs in een toets gespeel het, is Lappies Hattingh tog welverdiend met Suid-Afrika se hoogste louere vir ‘n roemryke rugbyloopbaan bekroon. Anders as Dok Craven, wat met reg sy roem in Stellenbosch gaan verwerf het, het Lappies sy lewe lank as plaasseun op Lindley gebly en van hier sy dorp, sy provinsie én sy land verteenwoordig. Hy word uiteindelik in 1974 in die dorp se begrafplaas te ruste gelê. Hy is in eie reg saam met Dok Craven, saam met wie hy die voorreg gehad het om in sy enigste toets te kon speel, Lindley-rugbyklub se Springboktrots.

Bronne:
Brief history of the Junior Springboks/Gazelle. The McLook rugby collection.
Chantelle du Plessis, Assistent: Media & Kommunikasie, Free State Cheetahs (Pty) Limited.
Danie Craven. Wikipedia
http://genslin.us/bokke/
Kobus van den Berg, Lindley.

Spanfoto’s:

Lindley 1927.
Agter: D Craven, J Craven, S Muller, H Botha, D Hattingh
Middel: G Yates, L van Vuuren, F Jooste, M Hattingh, A Olivier, G van Aardt, C Welgemoed, W Eagleton
Voor: D Brink (afrigter), C Muller, L Hattingh (kaptein), Dr PS Pretorius (president), G Paver, J Human, J van Huyssteen (afrigter)
Inlas: R Brandt

Springbokke, 2de toets, 1933.
Agter:  Jack Gage (reserwe), Fanie Louw, Paul Visser, Lappies Hattingh, Ferdie Bergh, Manie Geere, Alvi van der Merwe (reserwe), Pierre de Villiers (reserwe)
Middel: Bert Kipling, Danie Craven, Bennie Osler (kaptein), D Magennis (bestuurder), Boy Louw, Jimmy White, Joe Nykamp
Voor: Freddy Turner, Pat Lyster, Frankie Waring, Gerrie Brand


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.