Frik Hattingh was in 1975 in matriek in Frankfort se Hoërskool Wilgerivier. Sy koshuisbynaam was Frikadel maar dit het later net Frik geword. Sy ouers het hom Francois genoem. Na sy matriek is hy vir militêre diensplig na die SA Pantserskool in Bloemfontein opgeroep waar hy uiteindelik as gunner vir die Eland-90 opgelei is. Hy het die meeste van sy diensplig, en nog ‘n bietjie meer, in dié Noddy car deurgebring.

Die Suid-Afrikaanse Weermag was in daardie jare betrokke in die sogenaamde grensoorlog aan die noordelike grens van Suidwes-Afrika (nou Namibië). SWAPO het hom beywer vir die bevryding van die gebied deur middel van militêre aksies teen die Suid-Afrikaanse magte. SWAPO, met die ondersteuning van die MPLA, het militêre basisse in die suide van Angola gevestig sodat hulle Suidwes-Afrika meer effektief van daar af kon binnedring. Dit was slegs ‘n kwessie van tyd voordat die Suid-Afrikaanse magte nie slegs met SWAPO te doen gekry het nie, maar ook met die MPLA en die Kubaanse magte.

Vroeg in Desember 1975 begin die Suid-Afrikaanse weermag met Operasie Savannah, die eerste van vele oorgrensoperasies wat sou volg. Die algemene doel van hierdie operasies was om ‘n effektiewe teenvoeter te wees vir die insypeling van SWAPO in Suidwes-Afrika vanuit die suide van Angola.  Binne 33 dae het die Suid-Afrikaanse Weermag so ver as 3 200 km in Angola opbeweeg en die Noddy car was dus diep in Angola toe die sein deurkom dat Frik Hattingh en die res van sy buddies nie op 7 Januarie 1976 gaan uitklaar nie. Hulle sou eers in Maart van daardie jaar uit Angola onttrek word.

Toe Frik uiteindelik weer op die plaas aankom, was dit te laat om by enige akademiese instelling in te skryf.  Hy moes nood-gedwonge maar tyd op die plaas verwyl tot die volgende akademiese jaar sou begin. Tot oom Piet se ergernis was Frik uit die bosoorlog maar die bosoorlog was nie uit Frik nie.  As ‘n ooi siek word is sy ‘n casevac met min dae wat met ‘n flossie na die medics gevat moet word. As ‘n vers ‘n oorplaatjie moet kry, kry dit ‘n dog tag. As ‘n merrie op loop gaan is sy op die looppas. As ‘n kalf se maag werk het hy gyppo guts. Die bakkie moet by ‘n tiffie uitkom sodat dit gediens kan word en hy kom kla gedurig oor die PB’s wat ‘n NAAFI-houding het en kort-kort op AWOL onder die bome met hulle rat packs sit. Om nie eers te praat van sy ma wat elke week by een of ander Dankie Tannie Organisasie sit en klets nie.

Die jaar kon nie vinnig genoeg einde toe gaan nie en vroeg in 1977 is oom Piet en Frik met die trokkie op pad Potchefstroom toe met Frik se tas agterop om hom by die Pampoenboere op Potchefstroom te gaan inskryf sodat hy landbou kan swot. Die huispa verwelkom hulle en na oom Piet die kollege, losies en koshuiskas se gelde betaal het en vir Frik ‘n klomp sakgeld gegee het, neem die HK hom onder hulle beskerming en oom Piet ry terug Frankfort toe.

Nie ‘n week later nie kry oom Piet ‘n kollekteeroproep van Frik af. Hy het geld nodig want die dosent het gesê hulle moet elkeen ‘n bees koop om hulle prakties op te kan doen en oom Piet betaal R1 000 in sy seun se bankrekening om ‘n oop vers mee te koop. Nog ‘n week verloop en oom Piet kry weer ‘n kollekteeroproep. Dié keer moet hy R50 in betaal vir die dip en doserings van die vers. Nog ‘n week later en nog ‘n kollekteeroproep later betaal oom Piet nóg R100 in vir die voer en lekke wat die vers moet vreet. Toe was daar nogmaals ‘n kollekteeroproep en nogmaals R100 vir KI-koste om die vers dragtig te kry.

Voor daar nóg ‘n kollekteeroproep kon kom, sê oom Piet een aand vir tannie Elna sy moet vir hom padkos maak want hy gaan die volgende dag die trokkie vat en Potch toe ry. Hy wil gaan kyk hoe lyk Frik se vers want met al die kos en medisyne moet dit ‘n prag van ‘n dier wees én boonop dan dragtig ook van ‘n duur bul se saad. Hy kom laterig die oggend in Potch aan en kry vir Frik nog in die bed maar gee hom kans om aan te trek voor hy die doel van sy besoek aankondig: “Ek wil graag na die vers gaan kyk, Francois.”

Frik het ongemaklik rondgetrap en skraap toe ‘n vinnige antwoord bymekaar: “Pa sal nie glo nie maar die vers het twee dae gelede sommer net gevrek!” en asof al die vooraf gekollekteerde leuens en geldelike voordele nie reeds genoeg was nie voeg hy sommer by: “…en ek skuld die man nog geld wat die karkas kom verwyder het!”

Dit is nie seker hoe Frik se kort loopbaan as landboustudent tot ‘n einde gekom het nie. Die logiese afleiding is dat oom Piet hom terug plaas toe ontbied het. Hardnekkige gerugte in Frankfort wou dit egter hê dat daar in daardie tyd ook ‘n dissiplinêre verhoor met gevolge in Potch was omdat een van die Kollege se spogverse skielik gevrek het en dat die karkas sonder toestemming vir kontant verkoop was.

Bronne:
The South African Defence Force versus SWAPO And Its Allies: Operation Askari, 1983-1984. GJJ Oosthuizen, Department of History, North-West University. New Contree, No. 50, November 2005.

Regiment Mooirivierand South African Transborder Operations into Angola during 1975/76 and 1983/84. GJJ Oosthuizen. Historia, 49, 1, May 2004.

Piet Muller, Bethlehem.

Weermagterme:
AWOL: Absent Without Official Leave.
Casevac: Casualty Evacuation
Dankie Tannie Organisations: The Southern Cross Fund and similar organisations. An organisation founded to provide support for families of those on the border as well as provide comforts etc for the troops.
Dog Tags: The two metal plates worn on a chain around your neck which indicated your name, army number, blood group and religion.
Flossie: The C130 Hercules aircraft or also other military transport.
Gyppo guts: The runs…. an upset stomache, Diarrhoea.
Min Dae (Afr): Only a few days left.
NAAFI: No Ambition, And F***-all Interest.
Noddy car: Eland armoured car.
PB: Plaaslike Bevolking. Local population.
Rat pack: Ration Pack.
Tiffie: A member of the TSC/TDK (Tegniese Diens Korps/Technical Service Corps).

BETHLEHEM
Augustus 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.