
|
Jakkals
|
|
Argentyn
|
|
|
|
| Bygewerk: | 24 May 18:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Liewe Vrinne hier van my
Ek dink vanaand terug aan daardie Oom Dries van my wat in Zambia vermoor is, en een van die jagstories wat hy persoonlik belewe het kom by my op:
“Hy het om n stadium op die JCI myn op Gravelotte gewerk, en soos dit nou maar op n klein plekkie gaan kies jy soms jou vriende, en ander kere kies die “omstandighede van vriendskap” vir jou. Die ou Dries was nogal n legende op sy tyd. Op n stadium in die ou bedeling het hy n “kleim” van n myn wat hy werk op Mica, daar naby. Hy delf mika, en so met die delwery deur kort hy dinamiet. Na hy die dinamiet gekry het, kom hy agter dat “dinamiet nie alles is wat hy gedink het dit gaan wees nie, dit kort “oemfh”! Vir n man wat in die week op n myn werk en net naweke het om te delf, moet dinge vinnig gebeur, en n eers was dit n “Punjar boor”, en toe is dit te stadig, en toe n stokkie dinamiet, en steeds is dit te stadig- en steeds wil die naweke nie langer word en die produksie genoeg word nie.
Nie te lank na die tyd nie of hy begin sy eie buskruit stook. Mens gooi so n handvol buskruit in die gat in die rots, en dan sit jy die stokkie dinamiet in, en dan moet die Koedoes hardloop, want dit reen kartetse mika en skerwe rots in die bosveld neer, uit die lug uit en van die kant uit, en kom dit van orals en elders aan. Die jagters het hom verpes, want hy het man alleen die Koedoes in n 10 Kilometer wye kol wild gemaak, soveel so, dat Mica se biltong produksie lynreg gedaal het met sy kleim se erts produksie wat styg. Lyn reg.
Ja, en so het dit toe ook gekom dat hy n 25 Liter plastiek drom vol buskruit aanmaak vir die “gemynery” by die “kleim”, op Mica, in die Bosveld. Ongelukkig het hy egter die buskruit in sy garage gestoor, en ongelukkig moes hy eendag iets vinnig sweis. Ongelukkig ja, want ongelukkig val daar toe n roowarm sweis korreltjie op die plastiek houer. Gelukkig sien hy dit. Ongelukkig moes die skofbaas van die myn en sy vriende van toe af amper 30 kilometer ry voor die koedoes weer effe mak was.
Soos die storie nou maar sy nadraai het, is dit dat hy man alleen die hele myn toegemaak het, met daardie 25 liter kan buskruit in sy enkel garage, met daardie enkele rooi sweiskorreltjie. Hulle reken as dit n dubbel garage was sou n mens net 15 kilometer vir n koedoe moes ry. Dit was nog in die dae van terrorisme, en die “totale aanslag”, en soos die garage se dak weer agekom het aarde toe, het die weermag se paraatheid die lug ingeggaan, en omtrent elke lugmag veg vlieënier en straler op Hoedspruit daar naby het opgestyg, en hulle het sulke lae “sweeps” gemaak en hakkejag uit die lug nagemaak.
Die klankgrens het ook sy gat so 23 keer gesien met n low level “show van force”, wyl almal soek en tel wie is dood en wie is waar en wat is wat. Dit het die Koedoes nog verder laat hardloop, en dis is eintlik waaroor die storie gaan, daardie hardlopende Koedoes en die wille kol wat hy gemaak het van straler horison tot straler horison, wyd, wyd wyd. (Hulle reken van daardie koedoes hardloop moontlik nou nog, onbewus van die nuwe bedeling).
Nou op n stadium besluit sy skof se witmense dat hulle wil gaan braai. Hy is nie lus om saam te gaan nie, want hy drink nie, maar dis gelukkig nie n jagtog nie. Die hele skof het besluit hulle gaan braai, en hy is op die skof as “hoist drywer”, so “hulle gaan braai”. En “as hulle hom met hulle lewens moet vertrou dan moet hulle hom kan vertrou”.., en so stiksinnig en teen sy wil gaan hy saam. Hulle kom laai hom eintlik op, want hulle weet hy sou nie anders kom nie. En dit braai, “miner style”. (Vra vir Len, hy braai ook so, bottel vir bottel, tjop ve tjop). Nie te lank in die braai in nie, of die een wit Gravellote myner (met sulke dik swart hare op sy bors en met sulke gespierde voorarms) kom uit die huis met sy oorle Oupa se .303 van vanmelewe. Boedoelerfstuk, hy wil hulle net wys.
En die manne braai en hulle kyk en hulle voel en hulle vat, manne uit een stuk, met een stuk vleis, elk, en n vol botteltjie of glasie. Die Erfgenaam wys hulle. “ Die loop is al effe uitgeskiet,.. kyk”, en hy gooi n .303 patroon se punt in die loop af , kling!, val hy tot onner. “Ja”, skud die manne kop,” hy is so effe uitgeskiet”, maar gelukkig het die ander ou van die Kommando se Skietklub n kas vol .303 weermag patrone oor. Wag seg hy, hy gaan haal gou “n paartjies”, hier is sy bier, “hou vas”, hy ry na sy mynhuis 3 addresse af in die straat. Laai toe maar die kas, kry hom nie oop nie.
Die manne kyk die .303 so, en sien hy n sportief gemaak, en soos hulle kyk n sluk word hulle ook meer “sportief” gemaak. Hulle vat hom so, en sien wragtag, kan jy nou meer, daar is nie meer n visier op nie. Maar gelukkig het die Skofbaas met die swart hare op sy bors en die dik voorarms twee sulke washers vas “gebraze”, een voor op die loop, en een agter op die loop. As mens nou so, deur die 20 sent size washers, jou korrel vat, dan kan jy darem redelik n doodsakker voor die loop uitgooi. En die manne gooi, korrel korrel. En hulle raak lus, soos hulle minder dors raak. En Dries raak bang.
Die man met die kas patrone kom terug, en hy dog hy bring maar die kas, is vinniger. Hulle kry n skroewedraaier en n braaitang en breek die kas oop. Gelukkig is die hout al vrotterig, al is die patrone en die manne se oë nog blink. En niemand is juis seker hoe dit gekom het nie, maar die een ou sekondeer n ander ou wat n voorstel maak dat hulle “gou n draai ry” en n Koedoe gaan poach met n spotlight. En Dries se hart sak (!), want hy het al by die aanskoue van die eerste washer die uitdraai van die laaste washer as n gebeurtenis besef.
En as n man al n rukkie myn op Gravellote, dan weet jy daar is nie n manier nie. Daar is nie n manier dat daai washers wat “soos sy gat gebraze is” n reguit uitslag gaan bewerk nie. En daar is nie n manier dat hulle n wille Koedoe gaan kry nie. Nie na dese nie. En hulle sluit hom wat Dries is toe as hy weer aan “wapens, ammo of ordenance” vat. En hy ruk hom op, sober en suur, maar hy kan nie kop uit trek nie want dis nie sy eie transport nie, en hulle gaan net n klein rukkie ry. Laai toe ook sommer die kassie patrone op dat elkeen darem n vinnige skoot kan kry voor hull gaan slaap. More is werk, wil net ietsietjie skiet.
En die manner ry. En ry. En hulle skiet. Bliksemdaais, het hulle geskiet. Van naamborde (mis), Spoedborde (mis), hase (ver mis), radio se aerial (per ongeluk raak), na Duikers (als mis) na 37 Rooibokke (mis), so 3 beeste wie se oë en lyf onafhanklik duidelik geword het van die pad af, gelukkig ook mis. Als mis, behalwe die @$!@ aeriel (luckshot). “Die man braze soos sy gat”, nes Dries en al die ander duidelik gedink het. Hoe later hoe kwater “hoe k*kker braze die man”- volgens populere mening en algemene opinie en konsensus.
Hy dink nie so nie, stroom-op- hy dink dis die loop wat uitgeskiet is en hulle wat te veel bewe. En hulle try ophou bewe, en try weer, en almal wil kyk wie is reg. Skoot vir skoot. Sneller vir sneller, oomblik vir oomblik. En die Koedoes hardloop. Die horlosie tik. Argument vir argument. Dries word kwater en kwater en naderhand kom die fases van “moedeloosheid” en “depressie” en “kopseer” en “lyfseer” en “hartseer” en “gatseer”, maar nog syn dit ten einde niet. “Sy gat” reken meeste van hulle, “kyk”-Bwam!, dan klap die skoot, dan lag die ander en dan gaan die rondte troos verder. En hulle skiet en die Koedoes hardloop.
En het hulle nie geskiet nie. Die argument wou net nie gaan lê nie. Dries se **** is suur, sy kop is helder, en soos die aand al verder gaan word die grappies minder snaaks en sy lip al dikker. By skoot nr 237 laat hulle Dries voor in die bakkie sit, want “hy wil net heeltyd omdraai en gaan slaap”, en hulle WIL iets skiet. Iets. En die horlosie tik. 9 o clock, 10, 11, 1, 2, 3, 4 en toe begin die rooi dynserigheidtjie so op die horison wys, en die manne besluit die skof is amper oor en hulle moet darem produksie maak.
Hulle draai toe swaar om en begin terugry, met net n handvol patrone oor en n moerse klomp goed wat rondrol op die bakkie. En Dries is kwaad, en sy ore is seer, en hy is moedeloos, en by is n prisonier van omstadinghede en van vriende en van die situasie, opgewerk en afgepiepie. Dronk myners is erg, maar dronk myners wat jag, ergste erg erg, in die lewe. Hy weet voor sy heilige siel hulle sal nooit “iets” raakskiet nie, trek hulle al op skoot 834, loop warm.
En net so buite Gravelotte, sien hulle n moerse reeks koppies, en die een man wil gou n water afslaan, en die ander ou vat die geweer en wil net gou so n skoot van agter tussen sy bene aftrek “koeëlgewys”, (*Dries Sug*) en toe hy so korrel sien hy !@$#@!, n silhouette teen die koppie, met die rooi van die son reg after. Hy wys almal. Hulle kyk. !$#@#@!, hy is reg. n Moerse Groot Koedoe. Maar dis ver. Baie ver. Dries kyk, en vererg hom, so ver is dit,en weet voor sy heilige siel hulle sal nooit die ding raak skiet nie, nes hulle al heel aand mis skiet, en hy is so kwaad hy wil nie eers kyk nie, bol sy wange, kyk weg, maar sy swart wolk wil nie lig nie. Die tjoepswaaier kom uit die pad en die ander man lê aan, seker maklik n halwe kilometer weg.
En die man Korrel, dooie rus oor die dak van die bakkie. “Moerse klein Koedietjie, maar mooi in profiel”. “Met die washers kan jy eintlik die hele koppie in die view kry, met die spikkeltjie innie mirrel, met so 3 meter bo sy kop vir distance…” -Shut up en skiet, seg hulle, of gee die geweer!!.
En hy korrel, soveel so dat dit tjoepstil word in die Bosveld voor die son op is, Tussen Gravollote en Hoedspruit, innie Wille Koedoe Kol, kwart voor 5, dae van die Totale Aanslag, die Uitskieter jaar van die Brouery se groot wins. n Groot Lang Stilte, vir Dries, genadiglik, maar opgewen en opgewerk en al swanger en dragtiger, al wens hy dit oor en verby. En hulle weet Die Skieter kan en moedig hom aan, stil, dapper, starend, oortuigend, gekletter. Oortuigend Gekletter. Hoe langer hy korrel hoe meer lig hy die punt van die geweer, washer se top na washer se bottom, na washer se middel na Koedoe se kop, steady, steady, steady! daar gaan hy.
Die skoot Klap.
Dries kan nie anders nie, en hy kyk om te sien is die son al uit, teensinning, en net toe klap dit soos die koeël die bok tref, lyk of die horings inkmekaar trek, teen die grond. Mens hoor hom sommer! - en dit “cheer” op die bakkie, die braai is skielik n moerse sukses, en hulle eer is gered, en hulle manlikheid is gemaak, voet langer, en die hulle skof se trots is op daardie koppie, en die klutch drop! en hulle moet hulle houvas kry soos die drywer ry. Hulle gaan hom laai, Trofee Koedoe se kind, Produksie Prestasie Bonus! Toe hulle naby kom, toe sien hulle hel, maar die koppie is nie so na aan die pad soos hulle gedink het nie. Na so amper n half uur se stap toe kry hulle die koppie en die Koedoe in die digte bos oppie klip kop. Kop inmekaar geskiet, dit lyk asof die koeël getuimel het van die loop se uitgeskietgeit, hy het sommer sywaarts teen die hoof tussen die Koedoe ogies getref en halveer. Kopskoot. Monster Koedoe. Pap kop. Horings maak n X.
Die man kan Braze, en daai man kan skiet!
En so, na 973 skote, het dit gekom dat Oorle Dries, nooit weer gaan jag het nie.
Nooit, nooit weer nie.
Groetnis
Justice Malanot
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)