Ingestuur deur marleen smith op 4 September, 2010 - 01:31
As hulle ‘n keuse sou gehad het, kon die nuwe Suid-Afrikaanse immigrant-boere in Kanada skaars ‘n slegter jaar gekies het om hul nuwe boerderye halfpad om die aarde te vestig.
Saskatchewan, waarheen hulle danksy dié provinsie se program vir immigrant-boere kon trek, het sy natste lente in meer as 50 jaar beleef. En met ‘n skamele planttyd van drie weke vir die meeste gewasse, en hoogstens ‘n maand vir ‘n paar (en dikwels net ‘n pa en miskien sy seun om al die werk te doen), kon talle Saskatchewan-boere nie eens daarin slaag om ‘n kwart van hul lande betyds te saai nie.
Dit kon tragiese gevolge gehad het, as dit nie vir die regering was wat besluit het om met subsidies vir die ongeplante en verspoelde akkers te help nie. Hoewel nie genoeg om ‘n wins te verseker nie, help dit heelwat, sê die boere.
Die meeste het hul ook vooraf teen die skade verseker – met ‘n skema wat deur die regering gesubsidieer word.
Hulle behoort dus die moeilike jaar veilig deur te sien sodat hulle volgende seisoen weer kan probeer.
Die regering in Kanada is ‘n miljóén keer meer boer-vriendelik as die Suid-Afrikaanse regering, sê een van die Suid-Afrikaanse boere wat sy spogplaas in Suid-Afrika aan ‘n grondeis verloor het. Dit blyk logies, veral in ‘n provinsie soos Saskatchewan, wat op landbou gebou is, en waar die ekonomie ooglopend steeds om sy landbou wentel. Veral in die suide, waar verreweg die meeste mense woon.
Dit was egter nie altyd die geval nie. Die plaaslike inwoners onthou nog die moeilike tagtigs, toe lae kommoditeitpryse die een na die ander Saskatchewan-boer die handdoek laat ingooi het. Die regerende party, die sosialistiese Nuwe Demokrate, wat vir jare in die provinsie oorheers het, het geweier om te help. Vanessa Neufeld, een van my gasvroue, onthou nog hoe haar pa ook in daardie tyd op hul plaas noord van Saskatoon uitgeboer het. Sy onthou ook die massa- byeenkomste wat beleёrde boere gehou het om protes aan te teken.
Dit het alles in 2007 verander, toe die Saskatchewan Party, met ‘n konserwatiewer beleid en merkbaar groter geneёntheid teenoor boere, aan bewind gekom het. Die skade was egter gedoen, en bitter min boerekinders het die afgelope jare teruggekeer plaas toe om die boerdery by hul ouer-wordende ouers oor te neem. Die gemiddelde Saskatchewan-boer is rondom 55 jaar oud, en begin dink al aan aftree. Dit is juis waarom dié provinsie die immigrant-boere so hartlik verwelkom, veral as hulle hul seuns saambring om ook te kom boer.
Dit is waar, die ideaal sou wees dat boere 100% van hul inkomste uit die vrye mark verdien, sê mnr. Nithi Govindasamy, assistant-adjunk-minister van landbou in Saskatchewan. Maar die realiteit is dat die regering nie anders kan om in ‘n jaar soos vanjaar die landbou se voortbestaan met geldelike hulp te verseker nie. Hy het in die vroeё jare 2000 vir ‘n tyd lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk, vir een van die talle internasionale ontwikkelingsorganisasies wat goeie regering in Suid-Afrika wil bevorder en wil sien dat ons jong demokrasie slaag.
Hy is mal oor die land, maar is bekommerd oor geluide dat die ANC-regering mediavryheid wil inkort. Hy het in Suid-Afrika dikwels ervaar dat daar ‘n algemene gebrek aan verantwoordbaarheid teenoor beide skenkerlande en die algemene publiek heers.
Intussen is die nuwe Suid-Afrikaanse immigrante hard aan die werk om van hul nuwe lewe ‘n sukses te maak en by die Kanadese samelewing in te skakel. Die ommeswaai kan nie maklik wees nie. Talle erken dit verg ‘n kopskuif om al die werk self te moet doen. En ironies genoeg kla een groep oor die Suid-Afrikaanse immigrant-dokter in hul dorp wat nie sy kant bring nie.
Maar net om in ‘n land te kan woon waar die regering met woord en daad sy boere waardeer, maak vir hulle die groot verskil.
My gasheer, Etienne von Engelhardt, is ‘n Kanadese boer wat as vyfjarige saam met sy brandarm ouers uit Duitsland Kanada toe geїmmigreer het. Sy voorouers het uit Duitsland Latviё toe geїmmigreer om daar op versoek van Katharina die Grote te gaan boer en in die Russiese tsaar se weermag te gaan dien. Hulle was ‘n gerespekteerde en suksesvolle groep, maar het in die Russiese Revolusie alles verloor en moes hul in die ooste van Duitsland, naby Pruise, gaan hervestig en van vooraf begin.
Na die Tweede Wêreldoorlog was hulle opnuut hul grond kwyt, met dié dat Etienne en sy gesin met amper net die klere aan hul lyf en $5 in die sak na Kanada uitgewyk het.
Een aand vra ek vir Etienne of hy dit ooit sou oorweeg om Suid-Afrika toe te trek. Hy was al op ‘n plaastoer in Suid-Afrika en ken ál die Suid-Afrikaanse boere in Saskatchewan se stories. Ja, antwoord hy na ‘n rukkie se nadink.
Hoekom dan, vra ek half verbaas. Want hy het die afgelope 57 winters in Saskatchewan (bekend vir sy ongenaakbare koue) deurgebring, verduidelik Etienne.
Wat my opnuut laat besef dat jy die pot ver mis sit as jy oor immigrasie probeer veralgemeen. Elke immigrant het sy eie storie, sy eie redes, sy eie motiverings. Om almal in een kassie te probeer sit, spreek eenvoudig van oningeligtheid.
(Ek het die afgelope week in Saskatchewan, Kanada deurgebring nadat ek genooi is om Suid-Afrikaanse immigrant-boere daar te gaan besoek, en meer van die provinsie se landbou, veral hul geenbewerking-tegnologie, te leer. 'n Geskatte driekwart van Saskatchewan se boere beoefen geenbewerking.)
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)