Ingestuur deur alani op 5 Augustus, 2010 - 09:26
Verlede Vrydag het ek my nie soos die spreekwoord sê tussen “Egipte en die diep blou see bevind nie”, maar tussen twee ander uiterstes van ‘n vergelykende aard…
Dit het alles begin met ‘n oproep 07:30 die oggend om te vra hoekom ek nog nie my kamer ontruim het nie… Nou, na ek die vorige aand eers rondom 21:30 my kamer by die hotel – waarvan ek die naam nie hier sal noem nie – gekry het, was my irritasievlakke relatief hoog en het ek om dit sagkens te stel ontplof teenoor die vrou aan die ander kant van die telefoonlyn.
Ek was net oppad om in die stort te klim om myself reg te kry vir die eerste dag van die Plaaswerkersberaad wat 10:00 sou begin. Ná die dame my gevra het om die kamer so vinnig as moontlik te ontruim – sodat my bagasie vir die hele dag by die hotel gestoor kan word en ek net weer die aand by ‘n ander kamer “ingebook” word – het ek opgemerk dat ek dalk maar in my eva’s gewaad na die ontvangs area moet gaan en daar moet gaan stort… Dan weet ons die kamer is ten minste ontruim, en dan kon almal darem ook seker sien ek kom skoon…
Terwyl ek toe in ‘n groot geskarrel probeer inpak en stort, bel die dame weer om te sê sy het ‘n paar oproepe gemaak en gereël dat ek die kamer kon hou tot die volgende dag wat ek die hotel sou verlaat. Hoe gaaf van ‘n hotel om in te stem dat ek in ‘n kamer, wat vir twee dae vir my bespreek is, mag aanbly…
Die dag se sports stop toe egter nie daar nie…
Die beraad verloop rustig, en ons sit en luister na al ses die sprekers en die getuienis van vier kwesbare werkers.
Daarna volg ‘n vraagsessie waar die media vrae aan die Minister kan stel… En daar ondervind ek toe weer ‘n oomblik van die waansin van die dag…
Ek vra die Minister om aan ons ‘n voorbeeld van die mishandeling van plaaswerkers uit te lig. Daar word altyd in die algemeen daaroor gepraat, maar geen konstruktiewe voorbeelde word aan die media gegee nie. Ek weet mishandeling vind op ‘n handjievol plase in die land plaas, maar my hande as ‘n joernalis is afgekap as ek nie ‘n amptelike bron kan aanhaal nie. “Name and shame people, name and shame!”
Ek vra toe vir ‘n konkrete voorbeeld met die naam van ‘n boer, ‘n plaaswerker, ‘n plaas, ‘n dag, datum, tyd en inligting van wat gebeur het. Wat die Minister alles teruggeantwoord het, kan ek nie presies onthou nie, ek weet net sy het gevra hoe durf ek so iets vra as ek met plaaswerkers omring word. Én sy kan nie meer al die getuienisse onthou wat op provinsiale berade gelewer is nie… Én dat die inligting sensitief is omdat plaaswerkers bang is vir viktimisasie deur hulle werkgewers… Dus, dog ek toe - ek het ontstel…
Hoeveel ek ontstel het, het egter nie geweet tot die glansgeleentheid die aand nie. Daar haal die Minister weer my vraag van die verhoog af op en merk weer op hoe druf ek vra vir ‘n konkrete voorbeeld as al die kwesbare werkers om ons sit… My eerste reaksie was verbasing… Ek dink ek is nou nog verbaas…
Die feit dat die beraad vir opwinding in die landbou gesorg het, is verseker… Dit het wel vir heelwat opwinding in my dag ook gesorg so tussen ‘n stort en ‘n Minister… Wat kan ek sê, net nog ‘n dag in die lewe van ‘n joernalis…
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)