Stoettelers is goeie verkoopsmanne, moet wees, want hulle wil so veel as moontlik teelmateriaal verkoop. Die taktiek van ´n “goeie” verkoopsman is ook soms om die opposisie bietjie af te kraak en in ´n swak lig te stel. Die swakpunte van jou produk effe te verberg of glad nie noem nie. Lees ek ´n rukkie gelede die volgende stukkie op die Landbouweekblad se gespreksforum wat my aan die dink gesit het.
“Tydens 'n Bonsmara dag op Wambad , Limpopo , word die volgende
vertel:
In Brazilik kon slegs die Nelore aanpas.
Die bees is egter wild, onvrugbaar met taai vleis.
Nou kruis hul hom met die Bonsmara.
Dit was maar 'n proses om die Bonsmara daar aangepas te kry.
Na vele mislukkings het hulle nou 'n kruising ontwikkel wat
aangepas is.”
Weet nie of hierdie bedoel is om goeie publisiteit vir die Bonsmara te wees nie.
Die Nelore is dus ´n swak bees, ongelukkig is my syfers bietjie oud, maar in die jaar 2000 is 1,028 960 dosisse semen van die Nelore in Brasilië verkoop. Angusse, rooi en swart, was die top verkopers met 1, 054 258 dosisse. Die Bonsmara was in die 29e posisie, met 11, 522 dosisse. In totaal is 3,431 800 dosisse verkoop.
Wat my ontstel, is dié sin: Dit was maar ´n proses om die Bonsmara daar aangepas te kry. Maw die Bonsmara, in sy oorspronklike vorm was nie aangepas nie. Dit is sekerlik te verstane, die humiditeit van hierdie omgewing, is ´n faktor waaraan die Bonsmara nie gewoond is nie. Wat my die meeste ontstel, is die feit dat ek my deur die verkoopstegnieke van die verkopers, laat mislei het, om twee van daardie wanaangepaste bulle te koop. Dit het natuurlik nie op die veilings so voorgekom nie, danksy die oormaat mieliemeel. Ek was dus gedoem vir mislukking.
Is dit nie die begeerte van elke kommersiële teler om blinkvet beeste te hê nie? Beeste wat aangepas is. Beeste wat nie die dam opsoek en soos ´n trop waterbuffels hulle daar gaan tuismaak nie, beeste wat nie gou die koelte opsoek nie. Wil ons nie maar die ontnugtering vryspring van pragtige, vet gevoerde veilingsbulle, wat na drie maande, ´n skaduwee van hulle oorspronklike is nie? Moet ons ons verwerdig om die verkoper te spreek oor die teleurstelling en ons vasloop in sy meerderwaardige houding. Hy staan daar en kyk terwyl jy jou punt probeer maak.
As hy jou na die volgende veiling vra, hoekom was jy nie daar nie, dan lag jy maar en verduidelik: Ek het nie nou ´n bul nodig nie.
Hasta la proxima
Kommentaar
Aangaande vooraf gesprek.
Die fout le nie soseer by die stoetteler wat onaangepaste diere verkoop nie, die fout le by kommersiele manne wat onaagepaste stoetdiere koop. Die stoeteler probeer ook maar net 'n lewe maak, hy verkoop maar net 'n produk, d.w.s. 'n dier wat die mark soek. Ongelukkig in baie gevalle 'n mielie bul, vra enige stoetteler en hy sal dadelik vir jou se kopers bie nie op maer bulle nie. Jy as kommeriele teler moet eerder eers jou huiswerk doen en die regte bees, by die regte teler uit dieselfde omgewing waarin jy jouself bevind koop.
Baie van daardie "top" (duur) diere word aan besigheidsmanne verkoop wat nie veel van diere af weet nie, d.w.s die duur bul is gladnie noodwendig die beste bul nie, veral nie vir jou wat moontlik in 'n heel ander omgewing boer nie!
My advies aan manne wat kla oor onaagepaste stoetdiere is doen eerder jou huiswerk voor jy koop om latere hartseer en verwyte te voorkom.
Groete
Danie, jou skrywe verwys na, (en ek neem aan) na "aanpassing" soos in aanpassing na bosluis of parasietweerstandigheid en die enigste rede, soos wat ek in die literatuur opgespoor het, was dat Brazilië se 160 miljoen bees, net die Nelore die bosluisweerstandigheid kon hanteer.
Sou die probleem oorkom kon word, sal enige Europese ras, soos die Angusse, al die ander geharde rasse uitpresteer want dis gehalte vleis.
Oor die gehalte van teling wil ek my nie uitlaat nie maar jy is reg, n oorvet dier at op n veiling gekoop word is nie koeifiks nie en het ook nie uithouvermoë nie maar as n koper nie homself na behore hieroor ingelig nie, sal die mark aan hom sy "behoefte" bly voorsien.
Mens moet nie telers hieroor kwalik neem nie. Hulle mark verbeel hulle dinge.
Wat bosluise aanbetref wil ek waag om vir jou te sê, en dit is n nederige aanbod eerder dan 'n uitdaging, ek sal enige ras daar in enige klimaatstoestande, met enige hoë vlak van weerstandigheid daar suksesvol laat presteer.
Ek is bereid om dit onder die geakrediteerde leiding van enige van hul Universiteite, ARC/LNR onafhanklik maar saam met die UOFS en Tuks te doen, en die resultate kan maar hier publiseer word. As iemand bereid is om die uitdaging te aanvaar, ek aanvaar hiervandaan ook die geleentheid om die wetenskap na behore te gaan toepas.
baie groete
Jy is so reg, maar ek dink ons klein mannetjies stry ´n verlore stryd. Die stoettelers is manne met aansien en niemand kan hulle aanvat nie. Al wat hulle gaan dwing om te verander, is genoeg ontevrede kopers wat nie meer hulle bulle gaan koop nie. Die geluk is, dat daar stoettelers is wat redelik natuurlik hulle diere grootmaak en die oplossing is om so een te soek. Inseminasie is natuurlik ´n oplossing.
Groetnis en dankie vir jou kommentaar.
Danie ek is maar baie uitgesproke en het al baie mense in die proses baie kwaad gemaak.
So jaar of so terug het ek basies dieselfde stelling op die gespreksforum gemaak. Ek het tot aan LWB voorgestel dat hulle vir ons 'n artikel skryf waarin hulle vir ons probeer verduidelik of die kwaliteit van die vee nou al in die laaste 15 jaar of so soveel verbeter het as wat die pryse opgegaan het op die stoetveilings. Mens kan seker verstaan hoekom hulle nie die voorstel aanvaar het nie....
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek glo daar is 'n plek vir "goeie" "slim" teling maar dit moet in die hande van mense gelaat word wat weet wat hulle doen. Hoeveel van die stoetbulle het in hande van "deeltydse" boere opgeeindig(teen hoe koste) en hoeveel verbetering het hulle in die eienaars se kuddes teweeggebring ?
En wat my die meeste verbaas is as jy nou nie die duurste bul op die veiling koop nie moet jy hoor jy het sommer 'n "cheapie" gekoop. WOW is hulle dan nie veronderstel om almal kwaliteit stoetbulle te wees nie ?
Of word daar sommer 'n paar minderwaardiges ook verkoop om die getalle vol te maak ?
Nee wat ek dink die ontvanger moet 'n teen prestasie begin eis vir die duur bulle wat afgeskryf word....
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)